Ons kinders moet lees, sê hulle. Jy moet jou kind lief maak vir lees, sê hulle. Ons hier by Afrikaans.com stem saam, maar moet dit noodwendig gewone storieboeke wees? Talle is dit met ons eens: Nie noodwendig nie. Solank jou kind lees! En wat is nou lekkerder as ’n lekker, kleurvolle comic.

Visuele storievertelling
Dis wat die kunsvorm en verhaalkuns genoem word, maar eintlik is dit soveel meer. Een van Afrikaans.com se ambassadeurs, Nathan Trantraal, is saam met sy broer André ’n gedugte tweemanskap wanneer dit by stripkuns kom – en sedert 2003 maak hulle reeds naam as spotprentkunstenaars. Hul eerste spotprent Urban Tribe het daardie jaar in die Cape Argus verskyn. In 2008 publiseer hulle ’n grafiese roman Drome kom altyd andersom uit, waarna nog spotprente in Rapport en Cape Times volg. In 2010 publiseer hulle Coloureds, ’n spotprentboek oor ’n arm familie in Bishop Lavis. In 2014 nader die historikus, dr. Koni Benson, hulle om ’n reeks van ses grafiese romans te skep, gebaseer op Benson se Ph.D.-verhandeling wat die onvertelde stories van die vroue betrokke by die Crossroads-optogte in die 1970’s tot 1990’s opskryf. Die Trantraal-broers se werk is ook in Hamburg, Amsterdam en by die AVA Galery in Kaapstad (Julie 2018) uitgestal.
Erkenning vir illustrasies: Klyntji.com

“Dis vir die Trantraal-broers belangrik om die geleefde ervaringe en werklikhede van arm mense op ’n akkurate wyse op te skryf.”
Nathan Trantraal en sy broer André, is ’n gedugte tweemanskap wanneer dit by stripkuns kom. (Foto: artafricamagazine.org)
In sy boek Wit issie ‘n colour nie (2018) noem Nathan “as arm mense doodgaan los hulle niks agte nie, niks trace dat hulle exist et ie”. Daarom verwoord die broers met hulle spotprente “die werklikhede en familiedinamiek van arm mense, soos gesien in The Richenbaums en Coloureds” en omvat hulle die kompleksiteit van “hierdie groep mense se bestaan in die taalvariëteit waarin dit geleef word”. Verder ondersoek hulle aktuele kwessies en deur hul gebruik van spotprente en grafiese romans, vertel hulle geskiedkundige en kontemporêre ervaringe op ’n nuwe manier.
“Met hulle spotprente en grafiese romans dra die Trantraal-broers by tot gesprekvoering en aksieneming oor die sosio-ekonomiese stand van miljoene Suid-Afrikaners en bied ook ‘n belowende nuwe manier om opvoedkundige materiaal te verryk en ‘n leeskultuur te kweek.”
In die Crossroads-reeks, word “grafiese romans se toeganklikheid gebruik om nuwe (en jong) lesers aan ‘n onbekende deel van ons geskiedenis bloot te stel. Die gebruik van Kaapse Afrikaans verbreed ook die huidige beperkte lys van Kaapse Afrikaanse-publikasies”.
Hulle nuwe werk (Colour 1, 2 en 3) bied ‘n satiriese terugkyk na (Afrikaanse) televisieprogramme in die 1990’s en hulle persoonlike ervaringe van dié programme.
Gaan lees gerus die volledige artikel op klynji.com as jy meer van hierdie talentvolle broers te wete wil kom. Klik hier.
Bron: Klyntji.com
Ons Klyntji dateer uit die jaar 1896. Klyntji.com het in 2014 tot stand gekom en is ’n onafhanklike publikasie wat fokus op diverse en vooruitstrewende kuns en kultuur.