‘n (Suid-) Afrikaanse ontploffing van talent en veelsydigheid
Wanneer 8500 mense uit volle bors saam met jou sing (lees skreeu), kan jy maar weet jy het dit gemaak. Die Francois en vriende-konsert wat op Saterdag 15 September in die Sun Arena by die Times Square Casino in Menlyn gehou is, het een ding baie duidelik gemaak: Francois van Coke het kultusstatus in Suid-Afrika bereik. Afrikaans.com was daar en Petronell Vorster gee haar indrukke.

Henry Engelbrecht. Francois van Coke en sy ‘vriende’ na afloop van die vertoning voor ’n stampvol gehoor by die Sun Arena, Times Square Casino in Menlyn, Pretoria. (Foto: Facebook)
Die Van Coke-fenomeen
15 jaar gelede sou Francois jou waarskynlik uitgelag het as jy hom sou vertel van die invloed wat hy (en die onderskeie kunstenaars en projekte waarmee hy betrokke was en is) oor die jare op die Suid-Afrikaanse musieklandskap sou hê. In die vroeë 2000’s was die rockgroep Fokofpolisiekar immers vir al die verkeerde redes in die nuus. Maar soos die Bende ouer geword het, of eerder soos Suid-Afrikaners geleer het om hul stywe bolip te ontspan, het die groep al hoe minder wenkbroue gelig en het die vyf vriende ook hulself op ander projekte begin toespits. Die Heuwels Fantasties, Van Coke Kartel en AKing was alles uitvloeisels van Fokofpolisiekar. En skielik het dit kief geword om Afrikaans te wees en in Afrikaans te sing. Alternatiewe Afrikaanse musiek was nie meer ’n obskure droom nie en ons het selfs ons eerste Afrikaanse rymkletser, Jack Parow gekry!
In 2015 het Francois sy solo-loopbaan begin met die vrystelling van een van die grootse Afrikaanse treffers tot op hede – Toe Vind Ek Jou, ’n duetballade saam met die koningin van Suid-Afrikaanse rock, Karen Zoid. Die musiekvideo van Toe Vind Ek Jou is binne 6 maande meer as ’n miljoen keer op YouTube gekyk en skielik was Francois se aanhangers nie net meer harde rockers nie, almal (en hulle ouma) het van die liedjie gehou en kon daarmee identifiseer.
Hierdie was ook nie die laaste van Francois se samewerkingsliedjies as solokunstenaar nie. Sy selfgetitelde debuutalbum het onder meer samewerkings met Jedd Kossew, Laudo Liebenberg, Hunter Kennedy en Arno Carstens ingesluit. Met die vrystelling van sy Hierdie is die lewe-album in 2017 het Francois voortgegaan om op ou (en nuwe) vriendskappe staat te maak. Die liedjie Mensdom is byvoorbeeld deur Johnny de Ridder (Fokofpolisiekar se kitaarspeler) en Rudolph Willemse (Francois se baskitaarspeler) by Soft Light City in Belville vervaardig. Francois se orkes, Die Gevaar was ook betrokke by die album.
Die Francois en vriende-konsert is dan juis ook gehou om hierdie samewerkings en Francois se vriendskap met die onderskeie kunstenaars te vier. “Ek het die voorreg gehad om saam met van die beste Suid-Afrikaanse kunstenaars te werk, ek en 17 van my vriende gaan ’n enorme konsert in Pretoria hou. Die 120 minute gaan vol van my mees bekende liedjies wees en my vriende gaan by my aansluit op die verhoog. Dit gaan baie spesiaal wees” het Francois gesê.


Dit is byna onmoontlik om ’n gunstelingoomblik tydens die konsert te identifiseer. Al die kunstenaars is ewe entoesiasties deur die gehoor toegejuig. (Foto’s: Petronell Vorster)
Die aand
Francois is ’n man van sy woord, want ‘baie spesiaal’ begin nie eers om die konsert te beskryf nie. Reeds met die instap by die Sun Arena kon jy die opwagting van die 8500 konsertgangers aanvoel. Wat vir my ook merkwaardig was, was die demografie van die konsertgangers… Daar was geen demografie nie! Ma’s en pa’s met kinders, studente, ‘skinny jean rockers’, poppies in hoëhakskoene met perfek gegrimeerde gesigte, middeljarige ooms met Francois van Coke-lirieke op hul T-hemde… Noem die stereotipe en hulle was daar. Dit, meer as enige iets, spreek vir my tot die gewildheid en sukses van Francois.
Francois se ‘vriende’ en die musiek wat tydens die konsert gespeel is, was ook so gevarieer dat dit moeilik is om ’n etiket daarop te plaas. Wie sou ooit kon raai dat Coenie de Villiers, Majozi, Jack Parow en Van Coke Kartel op dieselfde verhoog sou verskyn (en almal ewe entoesiasties toegejuig sou word)!
Francois en sy orkes, Die Gevaar, was die ruggraat van die konsert en Francois se solo-musiek is afgewissel met die verskyning van die verskillende kunstenaars op die verhoog. Die konsert was van uitstaande gehalte en ons Suid-Afrikaanse kunstenaars het weereens bewys dat hulle kan kers vashou by enige internasionale kunstenaar. Dit is ook byna onmoontlik om ’n hoogtepunt gedurende die aand uit te wys, maar Karen Zoid en Francois se Toe Vind Ek Jou het behoorlik die dak gelig en ’n mens moes mooi luister om die twee oor die gehoor se samesang te hoor. Ander gehoor-gunstelinge het onder meer Die Skip (Francois en Laudo Liebenberg), Hemel op die Platteland en Skeinheilig (Francois en Fokofpolisiekar), Sonrotse en Ek lewe, ek belowe (Francois en Die Heuwels Fantasties), Tot die Son Uitkom (Francois, Karen Zoid en Van Coke Kartel), Hillbrow (Francois en Coenie de Villiers), Ek Weet Nie en Blue Eyes (Francois en Arno Carstens), Hard Partytjie Hou en Dans Dans Dans (Francois en Jack Parow) en Altyd Lief vir Jou (Francois en Early B).
Met hierdie konsert het Francois van Coke bewys dat daar geen perke geplaas kan word op musiek wanneer dit by genre, tipe of taal kom nie. Musiek is universeel en spreek tot almal. Die veelsydigheid van Afrikaanse musiek is ook iets om op trots te wees. Die Suid-Afrikaanse musieklandskap groei en ontwikkel deurlopend en veral Afrikaanse kunstenaars dra tot ’n groot mate tot die groei en ontwikkeling van ons geliefde taal by.
Kyk hier na ’n video van die rymkletser en Afrikaans.com-ambassadeur Early B en Francois van Coke se weergawe van The Beastie Boys se Make Some Noise by die Francois en vriende-konsert: