‘Droom groot in Afrikaans’ sê hierdie groep leerders van Hoërskool George, voor hul pragtige Afrikaans.com-muurskildery. Heel voor is René Arendse, gemeenskapskoördineerder van Afrikaans.com, en agter (derde van links) is Danie van Wyk, Wes-Kaapse bestuurder van FEDSAS. Heel regs is die skoolhoof van Hoërskool George, Morton van Rooyen.
Hoërskool George staan breëbors Afrikaans!
Hoërskool George het op 18 Oktober 2018 die twintigste skool in die Wes-Kaap geword en slegs die tweede in die Suid-Kaap, wat ’n Afrikaans.com-muurskildery ryker geword het. Die ander skool in die Suid-Kaap, is Bridgton Sekondêr in Oudtshoorn.
Hierdie dag het gebruis vol verwagting en opwinding en met die onthulling van die muur was die trots duidelik sigbaar. Die muur is spesiaal omdat dit ‘n buitemuur is, en dus ook sigbaar van buite die skoolterrein vanuit Missionstraat. Mense vanuit die gemeenskap het die kapperjolle staan en gadeslaan en saam feesgevier en op maat van Paul Amas en sy musiekgroep ‘House of Entertainment’ se lekker ritme saamgedans.
“Eien jou taal. Dra dit in jou sak en koester dit.”
Met hierdie woorde het Danie van Wyk, Wes-Kaapse bestuurder van FEDSAS (Federasie van Suid-Afrikaanse skoolbeheerliggame), die leerders van Hoërskool George aangemoedig om breëbors met hul taal om te gaan.
Woorde soos ystervark, kolwyntjie, vissie en plakkies pryk op die muur en die duidelike groot vraag: ‘Hoe lyk jou Afrikaans?’ is te sien van vêr sodat leerders kan nadink oor die waarde van hul moedertaal en wat dit bydra tot hul menswees en hul uniekheid.
Morton van Rooyen (skoolhoof), het Afrikaans.com bedank vir die “pragtige nalatenskap” wat ons by hul skool kon aanbring. “Ons is trots Afrikaans en trots op hoe ons klink!”
René Arendse, gemeenskapskoördineerder van Afrikaans.com, het leerders daarop gewys dat hul moedertaal oor ‘n ryk erfenis van woorde beskik. “Blatjang en bobotie is Maleisiese woorde, terwyl aitsa en eina van die Khoi-taal kom,” het sy gesê.
Sy het gesê mense van verskillende areas praat Afrikaans verskillend: “Ons is anders, maar tog is ons eenders. Jou taal is deel van jou identiteit. As julle eendag met julle kinders se kinders verby die muur loop, moet jy sê: ‘Daai muur maak ons trots om Afrikaans te wees’.”