Worcester se De La Bat Skool vir dowes spog met hul Afrikaans.com-muur
Elke Afrikaans.com-muurskilderye beeld die uniekheid uit van elke gemeenskap waar Afrikaans sy voetspoor laat. Die Worcestergemeenskap is hartlike en deernisvolle mense wat uitreik na ander en wat omgee vir mekaar. Hierdie muur dui op die verskeidenheid in hierdie gemengde landelike- en stadsgemeenskap en vier die skoonheid van die natuur wat ‘n mens so kleurryk in Afrikaans kan beskryf.
Worcester se De La Bat Skool vir dowes spog met hul Afrikaans.com-muur
De La Bat Skool vir dowes in Worcester het op 19 Oktober 2018 die onthulling van hul Afrikaanse muur tydens ’n uitbundige geleenheid gevier. Leerders was in die wolke oor HemelBesem, ambassadeur vir Afrikaans, se verrassingsoptrede wat met tolk en al diep in hul harte gekruip het. Simon Witbooi (HemelBesem) kon daarin slaag om hierdie hoogs ouditiewe genre aan leerders bekend te stel en die luide applous en meelewing was ‘n belewenis en ’n hoogtepunt vir talle leerders wat nog nooit so ’n ervaring gehad het nie. Hierdie kleurvolle muurskildery dien as inspirasie en Afrikaans.com, in samewerking met die Afrikaanse Taalraad (ATR) en FEDSAS het weer van die geleentheid gebruik gemaak om hierdie unieke gemeenskap van leerders opnuut trots te maak op hul taal en die belangrikheid van moedertaalonderrig is bevestig. Leerders is aangemoedig om Afrikaans te geniet en te gebruik en om groot te droom in hul moedertaal.
Die De La Bat Skool rus die die leerders toe deur effektiewe middele in te span wat dowe kinders en kinders met gehoorverlies kennis, vaardighede en waardes leer sodat hulle ’n volwaardige en vervullende lewe kan lei. De La Bat het ook ’n uitreikspan wat dienste lewer aan dertien hoofstroomskole. Die leerders is divers, ook in hul behoeftes en die hulpbronvoorsiening en ondersteuning op verskeie vlakke is kenmerkend aan die karakter van hierdie uitnemende skool.
Die trotse leerlingraad van die De La Bat Skool vir Dowes lyk te spoggerig voor hul vrolike muur. Deano Kock is ’n De La Bat-leerder wat die gehoor betower het met sy rymklets-item: Ek is Afrikaans! Vir hom was dit ’n besonderse inspirerende geleentheid aangesien hy die verhoog kon deel met HemelBesem. Die DAPD-Gebaretaalkoor het gesorg vir heerlike vermaak. Hier span hulle uit voor die Afrikaans.com-muurskildery. Hier is hulle in aksie! HemelBesem saam met sy tolk, Esté Scholtz wat kletsrym vir almal toeganklik maak. Vanette Barnard lewer haar gedig tydens die onthullingsgeleentheid. Esté Scholtz tree op as haar tolk. Leerders van De La Bat geniet HemelBesem se spesiale vertoning. Leerders van De La Bat geniet HemelBesem se spesiale vertoning.
