Afrikaans.com gesels met Early B, ’n gewilde Suid-Afrikaanse rymkletser en opwindende nuwe gesig in die Afrikaanse musiekbedryf. Sy vars klank is te danke aan sy mense – die Bloemendallers. Bloemendal is sy heimat en dis hulle stories … sy storie wat hy deur sy musiek vertel.
Leer ken hom van nader …
Afrikaans is die taal waarin hy homself die beste uitdruk. Die taal waarin hy die hart van sy mense wil oordra. Hy wil hê sy mense moet met die klank, ritme en taal “relate”. Sy buurt is ‘n voorstad van Port Elizabeth.
“Die inspirasie was om die stories van Bloemendal te vertel, waarvan baie my eie is. My nuwe album, Aangename Kennis, is ’n mengelmoes van verskillende musiekstyle. My musiek vertel die stories waarmee ons almal kan relate, maar dis stories oor Bloemendal, sy mense en wat met my gebeur het.”
Hy sê dit is ouens soos Brasse Vannie Kaap en Isaac Mutant wat sy groot bron van inspirasie was in sy grootwordjare.
“Om in Afrikaans te kletsrym, laat my toe om myself uit te druk, my gevoelens te deel, my leefstyl word my lirieke en my stories, my liedjies.”
Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg of Noord-Kaap, almal wat kletsrym het hul eie klank en spreekwoorde wat hulle gebruik. In Port Elizabeth verskil sekere Afrikaanse woorde met die van die Kaapse kletsrymers. Die Kaapse kletsrymers sal praat van ‘Loep tot da’ waar ons praat van ‘Loop tot da’.
“Ek neem die luisteraar op reis deur my wêreld, my emosies. Ek wil hê mense moet kyk deur my bril … so bietjie wegglip uit jou eie plek …”
Hoogtepunte:
- Sy eerste onafhanklike musiekvideo was, Leka djy in 2015.
- Ghoema-wenner: Beste Hip Hop-liedjie 2017 (Bene lam).
- BAMA- (Bay Area Music Awards) wenner 2014 in die Hip Hop-kategorie.
- Sy eerste album is op 10 Augustus 2018 bekendgestel.
Facebook: http://facebook.com/earl.swartz.5
Twitter: https://twitter.com/earlyb_music
Instagram: https://www.instagram.com/earlybmusic/