Maak gebruik van die geleentheid en skep ’n fees van lees.
Afrikaans.com maak jou graag bewus van hierdie fantastiese leerhulp wat Beeld beskikbaar maak.

Oefenvraestelle met memo’s vir alle Grade is by www.duxedmedia.com se aanlyn winkel beskikbaar. Graad 11 en 12 kan nou vir Oktober Beeldskool en NBT-kursus by www.duxedmedia.com inskryf.
Vir hulp met eksamenstres, motivering, vakkeuse, beroepsleiding, skoolgereedheid en baie ander sien www.edupsych.co.za
My kind sukkel op skool. Wat is die oorsaak?

Foto: oolfant.com
As jou kind sukkel om te leer, is dit dikwels omdat sy/haar leesvaardighede nie op peil is nie. Tot by graad 3 leer jou kind om te lees en daarna moet jou kind kan lees om te leer. Nog belangriker, jou kind moet met begrip kan lees. Statistiek in Suid-Afrika wys dat 78% van graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie!
Dit is daarom belangrik om agter die kap van die byl te kom en vas te stel waar jou kind se probleemareas is sodat jou kind die regte studiehulp kan kry. Voorkomende optrede deur ingeligte en goed toegeruste ouers dra grootliks by tot die sukses van ’n kind. Pak die bul by die horings en doen iets!
Hoe kan jou kind gehelp word?
Kinders wat sukkel op skool, moet die regte studiemetodes ten opsigte van hulle unieke leerstyle aanleer. Dit stel hulle breine in staat om nuwe neurale verbindings te vorm wat help met vaardighede soos lees en skryf. Dit is ook belangrik dat jou kind veilig in sy/haar omgewing moet voel en dat jy erkenning gee vir al sy/haar pogings, selfs al is dit nie altyd suksesvol nie. Daar is ’n verskil in lyf wegsteek en ’n kind wat swak vaar omdat hy/sy werklik sukkel.
Ouers moet ook daarteen waak om hul kinders se verantwoordelikhede oor te neem. Jou kind moet aanspreeklikheid aanvaar.
Verder is dit ook belangrik om nie jouself te verkwalik en skuldig te voel omdat jy dalk dink dat jy iets verkeerd gedoen het nie. Dit is nie ’n skande om ’n leerprobleem te hê nie. Dit is wel noodsaaklik om die probleem te takel.

Foto: Voelgoed
Individuele aandag
- Klasse op skool is groot en dit is feitlik onmoontlik vir onderwysers om individuele aandag aan elke kind se unieke behoeftes te gee. Daarom word een-tot-een ekstra remediërende klasse aanbeveel sodat die leer-inligting optimaal oorgedra kan word wat uiteindelik tot beter prestasie sal lei.
- Bepaal wat jou kind se sterkpunte is en gee aandag aan sy/haar belangstellings en passies.
- Besweer eksamenvrees deur seker te maak jou kind het die regte studiemetodes en is gemotiveerd om harder te werk.
- Werk aan jou kind se sosiale vaardighede op skool asook sy/haar emosionele welstand. Dit kan uiteindelik tot lewenslange prestasie en geluk lei.
- Skep ’n sterk ondersteuningsbasis vir jou kind wat sukkel met skoolwerk. So help dit vir die kind se selfbeeld en moontlike ander gedragsprobleme.
- Help jou kind om hom-/haarself duidelik uit te druk, om uitdagings te aanvaar en emosionele probleme die hoof te bied.
- Fokus op jou kind se persoonlike ontwikkeling. Akademiese prestasies is nie die alfa en die omega nie.
Die meer algemene tekens dat jou kind dalk leerprobleme het:
- Jou kind sukkel met lees en/of skryf.
- Probleme met wiskundige vaardighede.
- Sukkel om te onthou.
- Sukkel met konsentrasie – is maklik afleibaar.
- Sukkel om opdragte/instruksies te volg.
- Swak koördinasie.
- Sukkel om dinge logies te organiseer.
Faktore wat ’n kind se akademiese prestasie kan beïnvloed
Hou in gedagte dat dit altyd nodig is om ’n professionele evaluering te doen om enige leerversteuring behoorlik en akkuraat te diagnoseer. ’n Kind wat sukkel omdat hy/sy onderrig in ’n tweede taal ontvang, dui byvoorbeeld nie noodwendig op ’n leerprobleem nie, maar is bloot omdat die kind nie die taal behoorlik onder die knie het nie. In sommige gevalle presteer ’n kind wat voorheen goed gedoen het nie meer so goed nie. In die geval het dit feitlik niks te doen met leerprobleme nie, maar het die kind dalk trauma of ander veranderinge in sy/haar lewe beleef. Soms is dit iets so eenvoudig soos ’n kind wat nie ordentlik kan sien nie en eintlik ’n bril nodig het, maar te skaam is om iets daaroor te sê.
Motivering en ondersteuning – Ondersoek die redes waarom jou kind dalk nie gemotiveerd is om skoolwerk te doen nie en maak werk daarvan, eerder as om te baklei daaroor. Stel belang in jou kind se doen en late en wees toeganklik sodat jou kind die vrymoedigheid het om enigiets met jou te bespreek. Net soos wat ’n ouer te min aandag aan ’n kind kan gee, kan daar ook te veel druk op die kind geplaas word om te presteer – wat dan ook tot ekstra spanning kan lei.
Prioritisering en ontspanning – Kinders is deesdae baie besig en moet daarom vooruit beplan sodat die belangriker werk nie te min aandag kry nie. Help jou kind om doelwitte te stel. Dit is ook belangrik dat jou kind sal ontspan, want ’n uitgeputte kind kan nie behoorlik konsentreer nie.
Belangstelling en aanleg – Laat toets jou kind en stel so vas waarvoor hy/sy aangelê is en waarin hy/sy belangstel.
Leeromgewing – Die leeromgewing moet stil, goed belig en geventileerd wees met ’n gemaklike lessenaar en stoel.
Leerstyle – As kinders nie op die regte manier wat by hulle individuele leerstyle pas, studeer nie, kan die kind sukkel om die werk te memoriseer.
Spanning – Party kinders sukkel om inligting te weergee omdat hulle gespanne is. Leer jou kind ontspanningstegnieke.
Maats en boelies – Groepsdruk deur maats wat nie belangstel in hulle skoolwerk nie, kan ’n invloed op jou kind hê. Raak daarom betrokke en leer ken jou kind se maats en leer hom/haar ook hoe om ’n afknouerige persoon te hanteer.
Depressie – Swak akademiese vordering en ander gedragsprobleme is soms die gevolg van depressie. Hou in gedagte dat depressie by kinders nie dieselfde simptome as depressie by volwassenes het nie. Dit word uitgedruk in woede, vyandigheid en pyn, soos maagpyn of kopseer.
Bronne en vir meer oor die onderwerp lees die volgende:
https://www.careerprofiles.co.za/sukkel-jou-kind/my-kind-sukkel-met-lees-en-leerprobleme
http://www.childtherapist.co.za/afrikaans/artikelkategorie/terapieartikel40.html
https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Nuus/help-my-kind-onderpresteer-20170528
https://www.rooirose.co.za/my-kind-haat-skool/
https://www.netwerk24.com/baba-en-kleuter/Kleuter/my-kind-kan-nie-konsentreer-nie-20171109