Neem deel – Vertel ons hoe sal jou wêreld wees sonder Afrikaans!
Afrikaans.com kan nie ‘n Suid-Afrika sonder dié taal indink nie, daarom beskou ons Afrikaans as #onmisbaar en beklemtoon ons die belangrikheid van die taal en sy sprekers in hierdie reklameveldtog.
Miljoene mense leef daagliks Afrikaans op een of ander manier. Dis die taal waarin jy jou brood verdien, kuier, droom, lag … Maar hoe sal jou wêreld wees daarsonder? Wat is vir jou kosbaar … #onmisbaar help jou dink oor wat Afrikaans vir JOU beteken en hoe jou taal deel uitmaak van jou unieke identiteit.
Die advertensieveldtog doen ‘n beroep op digitale deelname deur mense uit te nooi om met die hutsmerk #onmisbaar te vertel waarom Afrikaans binne sy/haar konteks en ervaringswêreld onmisbaar is, maar veral hoe dit gekom het dat hulle taal hulle gemaak het wat en wie hulle is.
Vertel ons waarom jy Afrikaans koester en deel dit met die hutsteken #onmisbaar op enige sosiale media-platform. Jy kan ook ’n prettige foto wat jou Afrikaanse wese en karakter uitbeeld deel of stuur vir ons ’n whatsapp-foto, -boodskap of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van watter geweste jy is, by te voeg.
Veldtog Afrikaans is #onmisbaar…
…want jou taal laat jou toe om te wees wie jy is.
Afrikaans #onmisbaar-veldtog skop weer Maandag, 3 September af en vir die volgende nege weke sal jy elke Maandag kan uitsien na ’n spesiale artikel op Afrikaans.com waarin ons die nege verskilmakers wat deel uitmaak van die reklameveldtog, aan jou gaan bekendstel. So gaan jy deur unieke foto’s en video-materiaal die interessante mens ágter die gesig uit ’n ander hoek kan sien.
Die nege verskilmakers wat jy na dese beter sal ken, is: René Arendse, Sandra Prinsloo, Sinki Mlambo, André Venter, Anna Davel, Heindrich Wyngaard, Mia de Villiers, Marlene le Roux en Johan Jack Smith.
Hulle gaan vir jou vertel hoekom Afrikaans so belangrik is vir hulle – op persoonlike vlak, maar ook in hulle beroepslewe. Jy sal kan lees wat dit vir hulle beteken het om in hulle moedertaal te kon skoolgaan en hoe dit hulle bevoordeel het. En jy sal ook hoor hoekom Afrikaanswees hulle toelaat om te wees wie hulle is en hoe dit is dat ’n mens se taal tog jou identiteit bepaal.
Afrikaans.com kan nie ‘n Suid-Afrika sonder dié taal indink nie. Kan jy? Koester jou taal en neem deel met die hutsteken #onmisbaar.

Lees meer oor ons verskilmakers
Jou taal gee jou unieke menswees vastrapplek … dis wie jy is en waar jy emosioneel tuis voel en getuig van jou kulturele hartklop. In die jongste reklameveldtog plaas Veldtog Afrikaans (wat die mooi, lekker, egtheid en eiesoortigheid van Afrikaans vier en uitbou) die kollig op dit wat Afrikaans vir al sy sprekers onmisbaar maak. Daardie eienskappe van jou taal wat dit vir jou moontlik maak om jou gedagtes te verwoord, om konsepte te verstaan sodat jy dit kan toepas, wat jou verbeelding vlerke gee en jou deel maak van ’n spesifieke taalfamilie.
Afrikaans behoort aan elke Afrikaanssprekende en juis vanweë die diverse samestelling van die mense van hierdie land, is hierdie taal ’n skatkis van kulture, variante en dialekte. Wat duidelik is uit die deelname van die vorige veldtogte, is dat mense al hoe meer bewus word van die waarde van hul taal.
Waarom Veldtog: Afrikaans is #onmisbaar?
Die Afrikaans.com-veldtog:
- Bevestig weer aan Suid-Afrikaners die waarde en nut van Afrikaans vir verskillende mense, sektore, ekosisteme en hulself.
- Skep ’n bewustheid van die impak van Afrikaans met spesifieke fokus op moedertaalonderrig, sy sprekers se leefwêreld, die uniekheid van die kultuurlewe en die prestasie en selfwaarde van die sprekers van die taal.
- Moedig die publiek aan om hulle Afrikaanswees te verken en te vier, juis omdat dit hulle toelaat om hulle identiteit te bepaal – om te wees wie hulle ís.

“Meer as 20 miljoen mense in Suid-Afrika praat, verstaan en geniet Afrikaans op hul unieke en besondere manier. Juis dít maak hierdie taal so kleurryk divers, onstuitbaar kreatief en #onmisbaar waardevol. Meer as dit weet ons mos dat jy déúr Afrikaans enige iets anders kan bemeester en bereik. Ons hoop is dat hierdie veldtog van www.afrikaans.com die publiek opnuut bewus sal maak van die onskatbare waarde wat hulle taal vir hulle inhou. En dat hulle dit daarom met trots sal gebruik, die regte keuses oor hulle taal sal maak en dit les bes sal geníét.” – Milanie Vosloo, projekbestuurder.
Johan Jack Smith
Johan Jack Smith is nie net die redakteur van die ATKV se Taalgenoot nie, maar is ook aktief betrokke by Afrikaanse woordkuns. Hy is een van die stemme in Woordenaars. Hierdie groep bestaan uit Johan, Paul Riekert, Gérard Rudolf, Niel van Deventer en Kabous Verwoerd. Hulle gebruik ’n tipe anargistiese Afrikaanse poësie as ’n manier om hul siening van die wêreld daarbuite, veral die Suid-Afrikaanse samelewing, weer te gee. Johan is ook tans besig om saam met Johan Malan te werk aan Zumtopia, ’n elektroniese rock protesalbum. Hierbenewens verskyn sy eerste roman, Zola, eersdaags en hy werk ook aan ’n digbundel. Leer ken hom van nader …

Johan Jack Smith saam met sy vrou Almerie, en seuntjie Rijger.
Johan Jack Smith se leuse:
“Moenie uitstel tot môre nie.
Wat jy insit, sal jy uitkry.
Dit kan nie die heeltyd sleg gaan nie.”

Johan en sy pa, Flip Smith.

Johan en die Woordenaars.

Johan Jack Smith (Foto: Johanna van Eeden).
Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?
Kwaadklitser / Smorgasbord / Benewens / Nostalgie
Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek? (Kan selfs uit jou kinderjare wees)
Triomf – Marlene van Niekerk en Die swye van Mario Salviati – Etienne van Heerden
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Tevredenheid
Jou grootste vrees?
Die woorde … “wat as …” Ek wil soveel moontlik doen met die tyd wat ek op aarde het. Ek wil nie eendag spyt wees oor iets wat ek nie gedoen of probeer het nie.
Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
Ek is baie buierig in die oggend.
Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?
My pa. Hy sal aanhou probeer tot hy iets regkry. My ma oor haar geduld.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Bat Mobile versamelstukke.
Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
“Jy weet…” / Die ding is…”
Wat of wie is die liefde van jou lewe?
My vrou Almerie, en seuntjie Rijger.
Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
Geluk was nog altyd iets wat in sarsies gekom het.
Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Om terug te gaan in die verlede en te weet wat ek nou weet.
As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Die gewoonte om in sirkels te dink, sonder om by ’n punt uit te kom.
Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
My seun.
Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
Verveling en ledigheid en die onvermoë om te skep.
Wat is, volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap?
Geleerdheid.
Wie is jou gunstelingskrywers?
Etienne van Heerden, John Miles, Bruce Springsteen en Roger Waters.
Jou fiksieheld/in?
Detective John McClane – Die Hard en Batman.
Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?
Intelligensie en lewenservaring.
En in ʼn vrou?
Selfvertroue en gemaklikheid met haarself.
Waaroor is jy die spytste?
Ek is spyt oor niks. Spytgevoel is ’n nuttelose emosie wat jou toekoms belemmer. Maar ek wens tog soms dat ek geleer het om die klavier te speel op ’n jong ouderdom.
Mia de Villiers
Die 18-jarige Mia de Villiers, onderhoofmeisie van Hoër Meisieskool Paarl se passie vir bergfietsry word net-net deur haar passie en liefde vir Afrikaans ge-ewenaar. Hierdie kranige atleet glo as jy iets kan droom kan jy dit doen! Haar entoesiasme vir haar sport en haar taal steek mense rondom haar aan en sy het groot drome vir haar toekoms. Mia beplan ‘n beroep in die wiskundige veld. Sy skryf haar sukses toe aan die geleentheid om in haar moedertaal skool te gaan. “Dit het my toegelaat om begrippe behoorlik onder die knie te kry en ek kan my kennis toepas in Afrikaans en Engels … meer nog, my taal laat my toe om myself te wees en groot te droom. Ek het leer liefkry in Afrikaans en leer somme maak … my taal maak my uniek.”

Mia se eerste skooldag.
Mia se leuse:
“Alles sal “okay” wees. Hou aan probeer. Moet nooit opgee nie.”

Mia en haar vriendin, Jeanne Dreyer.

Mia is ’n gedugte bergfietswedren-entoesias. Hier is sy in aksie tydens die Wes-Kaap MTB XCO-kampioenskappe.

Mia is gereed vir haar matriekafskeid.

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?
‘Skorriemorrie’ – moeilikheidsoeker, ‘konfoes’ – bederf of breek, ‘klopdisselboom’ – goed, uitstekend, ‘kammakastig’ – nie werklik nie, maar my lekkerste Afrikaanse woord bly maar “lekker”.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Op my fiets, op ‘n grondpad, sonder enige bekommernisse.
Jou grootste vrees?
Om my vriende en familie te verloor.
Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
Ek het ‘n neiging om dinge uit te stel tot die laaste minuut. Dit het my al ‘n paar laataande gekos waar ek die grootte van ‘n taak of hoeveelheid leerwerk effens onderskat het.
Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?
My pa. Hy leer my daagliks dat jy enige iets kan bereik as jy hard genoeg werk daarvoor.
Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
“Jinne” en “mielies gooi” (vinnig in bergfietsterme)
By watter geleentheid sal jy waarskynlik ‘n bietjie jok?
As iemand my vra hoe baie ek vir ‘n eindeksamen tydens die vakansie geleer het.
Wat of wie is die liefde van jou lewe?
Beslis my bed of sjokolade (altwee saam is nog beter!) en ook ‘n baie oulike blondekop van Worcester.
Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
Wanneer ek onophoudelik lag saam met my beste vriende en vriendinne en lewenslange herinneringe maak.
Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Om te kon dans en sing – ek is hopeloos!
As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Ek sal meer geduldig wou wees.
Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Om Kilimanjaro te kon klim saam met my pa in 2016.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My kosbaarste besittings is my herinneringe (rondom) die beste tye in my lewe saam met die beste mense in my lewe.
Waar wil jy die graagste woon?
Enige stil plekkie langs die see, met baie bergfiets paadjies naby.
Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
As iemand opgee op hul passie of drome. Daar is altyd ‘n ander manier om na iets te kyk of iets aan te pak.
Wat is, volgens jou, die mees onderskatte menslike eienskap?
Mense wat werklik altyd vriendelik is en deernis het is baie raar en kosbaar en moet gekoester word.
Watter van jou karaktertrekke is volgens jou die opvallendste?
Volgens my vriendinne is ek dinamies en ‘n logiese denker.
Jou gunsteling der gunsteling as dit by beroepe kom?
Ek dink enige werk waar jy mense gelukkig kan maak, is die beste beroep om te hê. Ek sou graag in ‘n mediese rigting wou gaan, maar ek het ‘n ongelooflike fobie vir bloed en naalde, so ek moes ongelukkig opgee op daardie idee, en ‘n toekoms in wiskunde is my voorland.
Wie is jou gunstelingskrywers?
Skrywers van Afrikaanse musiek inspireer my. My gunstelinge is beslis Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties en Karen Zoid.
Jou fiksieheld/in?
Ek was op ‘n stadium van my lewe versot op Kobie en die Maasdorp-reeks boeke van Stella Blakemore. Ek het myself heeltemal verloor in al hul kaskenades.
En jou helde in die regte lewe?
Enige iemand wat deur ‘n moeilike tyd is en die beste van hul omstandighede kon maak om steeds suksesvol te wees.
Met watter historiese figuur identifiseer jy die meeste? (En hoekom?)
Amelia Earhart, omdat sy ‘n baanbreker was, as vrou, in die uitleef van haar passie. My passie is bergfiets ry. Daar is nie baie vroue wat fietsry as ‘n sport beoefen nie, omdat dit as gevaarlik beskou word. Ek geniet egter die sport en probeer soveel as moontlik meisies aanmoedig om deel te neem.
Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?
Die feit dat hy kalm en rustig kan bly in ‘n situasie waar ‘n vrou dit nie altyd so maklik vind nie.
En in ʼn vrou?
Die feit dat sy enigsins kalm kan bly in enige situasie waar ‘n man betrokke is.
Waaroor is jy die spytste?
Ek is spyt dat ek nie meer kattekwaad aangevang het toe ek klein was nie. Ek was hopeloos te versigtig vir my ouers.
Heindrich Wyngaard
Heindrich Wyngaard ʼn Caledonner in murg en been. Hoewel hy as kind gedroom het van ’n loopbaan in die regte, het hy sy onderwyser se raad gevolg en joernalistiek gekies. In sy matriekjaar het hy by die plaaslike koerant begin werk en hy was Caledon se korrespondent wat dorpsnuus uit die bruin gemeenskap aan Die Burger verskaf het. Heindrich word op 23-jarige ouderdom Media 24 se parlementêre verslaggewer en hy vorder tot Politieke Redakteur by Die Burger en Rapport. Heindrich was voorheen een van die aanbieders van RSG se vroegoggend-aktualiteitprogram Monitor en Sondagaande se nuusbesprekingsprogram Kommentaar. Sedert begin April 2018 bied hy die Sondagaand-geselsprogram KLOP! (Kô, lat ons praat) op kykNet&kie aan en hy is ook een van die anker-aanbieders van KN Verslag op kykNET. Hy deel sy Afrikaanse hart met ons. Leer ken hom van nader …

Heindrich Wyngaard saam met Malixole Gwatyu.
Heindrich se leuse:
“Prestasie word nie gebore nie; jy moet daarvoor werk.”


Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?
Kwai, absoluut, lekker
Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?”
Ons is Gordonia-boorlinge, sê Poppie. (Uit “Die swerfjare van Poppie Nongena”)
Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek? (Kan selfs uit jou kinderjare wees)
“Kennis van die Aand” – André P. Brink
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Om wakker te word sonder bekommernisse oor stres wat die dag mag meebring.
Jou grootste vrees?
Dat ek nie by alles sal uitkom wat ek nog graag sal wil doen voordat my laaste dag aanbreek nie.
Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
Ongeduld, wat soms as humeurig beskou word.
Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?
Enigeen wat nie toelaat dat struikelblokke hulle terughou nie.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Boeke koop, terwyl ek nie weet wanneer ek tyd gaan kry om dit te lees nie.
Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
“Absoluut”; en “maar wag nou”.
Wat of wie is die liefde van jou lewe?
Lees en skryf en dink.
Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
1997 toe ek die eerste keer oorsee is, voltydse rubriekskrywer by Die Burger geword het en ook by die Media24 parlementêre verslagspan aangesluit het – alles op 23.
Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Om kitaar of klavier te speel.
As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Meer geduldig wees, minder hooi op my vurk laai, leer swem.
Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Om op drie mediaplatforms my merk te kon maak: die gedrukte media, radio en nou televisie.
Wat is jou kosbaarste besitting?
Die foto van my oorle’ pa as ‘n jong skaapwagter.
Waar wil jy die graagste woon?
My geboortedorp, Caledon; of in Denemarke.
Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
‘n Beeld uit my kinderjare: Om stukkende skoene te dra sonder die finansiële vermoë om dit te laat herstel of vervang.
Wat is, volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap?
Nederigheid.
Wie is jou gunstelingskrywers?
Adam Small (as leermeester), JM Coetzee (vir sy ekonomiese gebruik van woorde), James Baldwin (as essayis), Antjie Krog (vir haar oopskryf van ons land se gedeelde pyn) en Jolyn Phillips (as jong skrywer wat aan die stofbedekte, songebrande, harde-hande, massas gewone mense stem gee).
Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?
Netheid en beleefdheid.
En in ʼn vrou?
Styl en selfvertroue.
Waaroor is jy die spytste?
Dat ek sedert 9 jaar sonder ‘n pa groot geword het en dat ek nie meer begrypend teenoor my ma en haar tekortkominge opgetree het voordat sy self in 2011 gesterf het nie.
Anna Davel
Anna Davel is veel meer as ’n sangeres en liedjieskrywer met ’n smeulende, volronde stem. Sy is ook ’n teaterskepper wat daarvan hou om nuwe projekte aan te pak en haar talente in ’n verskeidenheid van kreatiewe uitlaatkleppe te ontplooi. Sy was lid van die a cappella-groep Cutt Glas totdat sy in 2003 haar sololoopbaan begin het. In 2006 is haar debuutalbum met ’n SAMA-toekenning vir Beste Album: Afrikaans Kontemporêr, vereer. Anna het ook al haar slag voor die kameras gewys in rolprente soos Liefling, Die verhaal van Susannah van Biljon en Gat in die muur. Haar debuut voor die televisiekameras was in die sepie, Egoli. Uit haar pen het ’n skatkis vol oorspronklike Afrikaanse musiek verskyn. Afrikaans.com het haar met vrae bestook en sy deel haar hart met ons. Leer ken haar van nader …

Anna Davel se leuse:
“Doen alles wat jy doen so goed as wat jy dit kan doen. As jy nie jou beste wil gee nie, hou verby.”



Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?
Gramadoelas – vêr verlate plek, tussen niks en nêrens
Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?
Eugène Marais se gedig –
Winternag
“O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade…”
Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek? (Kan selfs uit jou kinderjare wees.)
“Triomf”– Marlene van Niekerk
Die eerste boek wat jy op jou eie gelees het?
Malisel en die Tweeling van WA Hickey, duisende kleuterboeke en natuurlik die Saartjie- en Trompie-reeks.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Om iets te doen waarvoor mens ‘n passie het, en omring te wees met mense wat jou passie deel en dit vier.
Jou grootste vrees?
Om te stagneer en op te hou groei en om my geliefdes te sien swaar kry.
Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
Ek is soms baie verstrooid en moet hard konsentreer om gefokus te bly en alles te onthou. Meesal kry ek dit reg, maar daar is tye wat my verstrooidheid my al erg laat bloos het.
Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?
Verpleegsters en nagsusters en versorgers en matrones wat met liefde en geduld daagliks kyk na weerlose mense. Almal wat in hulle huise of in ‘n hospitaal of tehuis werk en mense versorg wat nie na hulle self kan omsien nie, het my grootste respek.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Sushi en ‘n Thai-massering so paar keer ‘n jaar laat my soos ‘n koningin voel.
Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
Awesome en fantasties … Elke dag, heeldag, baie luidrugtig.
By watter geleentheid sal jy waarskynlik ‘n bietjie jok?
Waarskynlik waar mense praat oor kosmaak of huishou. My gebrek aan hierdie deel van die lewe is nie iets om uit te basuin nie. Maar oor die algemeen is ek heel gemaklik met my tekortkominge. Dit is wat dit is. Niemand is perfek nie.
Wat of wie is die liefde van jou lewe?
Buiten al die wonderlike familie en vriende wat ek liefhet en te veel is om op te noem of een uit te sonder, tans my kat, Gino. Ek is mal oor hom en hy is die lewende wese wat ek die meeste tyd mee spandeer en wat my by my deur inwag na ‘n konsert of ‘n vergadering.
Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
As ek die luuksheid het om vir ‘n hele dag lank ‘n boek te kan lees sonder werksdruk, verkieslik by die see iewers of in Rosendal in die Vrystaat of in die Drakensberge. Ek kan eerlikwaar nie onthou wanneer laas ek dit gedoen het nie. Of om fantastiese teater te sien. Dit doen ek darem gereeld. “The colour purple” en “West side story” was onlangs die beste produksies wat ek gesien het.
Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Om goed te kan dans. Ek het twee linkervoete. Of om toneel te kan speel, of dit verder te kan ontwikkel. Ek speel soms toneel as dit oor my pad kom, maar ek sal graag tyd wou maak om formele opleiding te kry.
As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Om ‘n oggendmens te wees eerder as ‘n aandmens. Ek is seker oggendmense kry meer gedoen in ‘n dag as aandmense.
Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Dat ek my hele volwasse lewe ‘n bestaan kon maak uit musiek en teater, sonder die hulp of ondersteuning van ‘n platemaatskappy, agent of bestuurder. Ek knyp myself dikwels omdat ek nie kan glo dat ek so bevoorreg is om dit te kan doen nie. Die opofferings is baie, maar so ook die voordele.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My kunswerke. Ek spandeer baie eerder geld op kunswerke wat my inspireer as op klere, skoene, oorsese vakansies of meubels.
Waar wil jy die graagste woon?
In Melkbosstrand, Kampsbaai, Seepunt, Philadelphia. Daar iewers.
Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
As mens hoop verloor, niks het om na uit te sien nie, en as niks jou inspireer om beter te wees en meer van jouself te gee nie.
Wat is, volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap?
Baie mense praat goed, en verkoop hulleself en hulle besigheid met uitstekende oorredingsvermoë. Baie min mense doen uiteindelik die werk met dieselfde entoesiasme as waarmee hulle hulleself bemark. Vir my is dit wat mense op die ou end van die dag dóen, baie meer werd as hulle beloftes.
Watter van jou karaktertrekke is volgens jou die opvallendste?
Ek dink my vriende sal dit beter kan antwoord. Ek weet regtig nie. Ek kan nogal baie eerlik wees, soms te eerlik. En ek is baie onafhanklik.
Jou gunsteling der gunsteling as dit by beroepe kom?
Om ‘n nuwe liedjie wat ek geskryf het vir die eerste keer op te neem. Om na ‘n suksesvolle openingsaand terug te sit met ‘n glas rooi wyn en dankbaar te wees dit het goed gegaan en dat ek al my woorde onthou het. As mense na ‘n show vir my ‘n briefie los om dankie te sê.
Wie is jou gunstelingskrywers?
Afrikaans – Marlene van Niekerk en Engels – Fredrik Backman
Jou fiksieheld/in?
Pippie Langkous
En jou helde in die regte lewe?
Enige leier wat die mense van ons land liefhet en veg vir elke kind se toekoms, maak nie saak die velkleur of die taal nie. Mense soos Desmond Tutu wat vol wysheid en liefde is, en wat nie bang is om dit waarin hulle glo, te sê nie.
Wat bewonder jy die meeste in ʼn man/vrou?
Ek is nie groot op geslagsrolle nie, en ek dink eienskappe waarvan ek hou is teenwoordig in alle mense, nie net spesifiek in mans of vrouens nie. Ek hou van mense wat respek het vir alle mense, en wat simpatie of empatie het met ander. Mense wat beginselvas is, en nie verander soos die wind waai nie.
Mense wat in moeilike omstandighede hulle verantwoordelikhede nakom, bewonder ek die meeste. So baie ouers wat onder bitter moeilike omstandighede in Suid-Afrika hulleself te pletter werk om vir hulle kinders ‘n kans te gee op ‘n beter lewe. Dis vir my iets wat ek die meeste bewonder.
André Venter
André Venter is ‘n veelsydige kunstenaar wat veral bekend is vir sy sangloopbaan. Hy was deel van die sanggroep Romanz en tree steeds as solokunstenaar op. Hy is ’n TV-aanbieder, sakeman en bekend vir sy groot rol en betrokkenheid by landbou en die ondersteuning waarvoor hy vir boere vra op al sy platforms. Hy is ‘n boorling van Welkom in die Vrystaat en is passievol oor Afrikaans. Afrikaans.com het hom met vrae bestook en hy deel sy hart vir Afrikaans met ons. Leer ken hom van nader …

André en sy ‘droomvrou’.
Sy leuse:
“Moenie uitstel nie. Wat jy insit, sal jy uitkry. Dit kan nie die heeltyd sleg gaan nie.”

André gee sy heel eerste kar wat hy gehad het aan sy seun, Richter, wat nou in matriek is (ja, die kar is al die jare so goed in stand gehou!).

’n Bergfietsroete in die Alpe saam met sy sangmaats van Romanz – 28 km in 3.5 ure!
Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Toe ek die volkslied in 2016 op Twickenham gesing het. Daar was 90 000 mense en dit was net vir my ongelooflik. Die ervaring van die klank en van die gehoor. Dit is iets wat ek altyd sal onthou.
Wat is jou kosbaarste besitting?
Ons het eintlik mos maar niks op hierdie aarde nie…Maar dis my vrou en kinders. Ek beskou myself as ‘n biljoenêr as ek na my gesin kyk.
Waar wil jy die graagste woon?
Ons bly in die Kaap en dit is ‘n groot voorreg. Ons het altyd gesê ons wil hier kom bly.
‘n Mens het altyd hierdie idealistiese idee van waar jy sal wil bly in die wêreld, veral ek wat al baie gereis het. Ek dink nogal ek sal graag ’n paar jaar in Amerika wil bly. Dis ‘n interessante plek.
Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
Dis verseker die storie in die Midde-Ooste met al hierdie kinders, vroue en vlugtelinge. Kinders wat sonder ouers gelos word. Dis verskriklik om te sien wat daar aangaan. Elke jaar as ek in Europa kom, sien ek al hoe meer van hierdie vlugtelinge en hierdie kindertjies. Mense wat mekaar net uitwis is vir my baie erg.
Wat is, volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap?
Persepsie. ‘n Mens het ‘n persepsie van mense om jou, kulture, ander groepe, ander rasse, ander maniere van hoe mense optree en dit bepaal hoe jy met mense omgaan. Ek dink dit word heeltemal oorskat en te veel gebruik. Ek dink ons moet mekaar se harte meer leer ken en dis ook wat die Bybel van ons verwag – om dieper te kyk, te luister en om te gee.
Watter van jou karaktertrekke is volgens jou die opvallendste?
Ek is ‘n baie entoesiastiese persoon en dit is nogal opvallend. Ek sal sommer vinnig ja sê vir iets en eers na die tyd gaan dink hoekom ek ja gesê het. Ek is ook baie positief en dis hoe ek graag mense wil aanraak.
Jou gunsteling der gunsteling as dit by beroepe kom?
Ek is ‘n sanger en ek glo dat daar ‘n baie spesifieke roeping op my lewe as sanger is, om ook mense gesond te maak. Om die Woord te kan versprei op ‘n spesifieke manier deur musiek. Ek glo daar is ‘n groter doel met my lewe en ek probeer dit so goed doen as wat ek kan. Ek dink ek as mens, my DNA, is so aanmekaargesit, dat ek ‘n sanger is. Dis wie ek is. As ek nie ‘n sanger was nie, sou ek graag ‘n renjaer wou wees. Ek’s baie mal oor karre en motorsport en dit gebeur dalk nog eendag.
Wie is jou gunstelingskrywers?
Ek gaan verwys na musiek, want dis maar my verwysingsraamwerk. Ek is onlangs bietjie blootgestel aan Amerikaanse musiek en daar’s spesifieke ouens wat ek opgetel het soos Jeremy Camp, For king & country. Ek’t die mense daar ontmoet en daar’s soveel talentvolle skrywers, maar dis maar die mainstream ouens waarna ek deesdae luister en hulle musiek inspireer my.
Jou fiksieheld/in?
Definitief Iron Man. Ek hou van sy sin vir humor, sy entoesiasme en ek hou van sy suit.
En jou helde in die regte lewe?
Ek sal graag een held wil uitsonder en dis my pa. Hy’s ‘n absolute voorbeeld van ‘n gentleman in alles wat hy doen en ek beskou hom as my held op aarde en ek’s baie dankbaar vir die genade om hom te kan beskou as my held. Ek beskou dit as ‘n voorreg.
Met watter historiese figuur identifiseer jy die meeste? (En hoekom?)
Dis maklik. Jesus. ‘n Man wat in ‘n baie kort tydjie ongelooflike dinge gedoen het, die wêreld verander het. Ek streef elke dag daarna en dis my missie om soos Hy te wees en te lewe.
Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?
Die eienskap om te kan erken as ek ‘n fout gemaak het.
“Ek is jammer” en jou trots bietjie weg te sit. Ek dink dis ‘n wonderlike eienskap.
En in ʼn vrou?
Ek sal graag my vrou hier wil intrek. My vrou het ‘n wonderlike ekstra sintuig wat altyd vir my wonderlike perspektief gee en ‘n absolute oorweldigende liefde en net ‘n kalm-maak effek.
Dit gee altyd ‘n bietjie van ‘n ander uitkyk op die lewe. Ek wil dit opsom om te sê, ‘n vrou wat ‘n innerlike leier is. Wat jou kan lei op ‘n baie subtiele manier en wat jou as man kan afbreek tot waar jy moet wees.
Waaroor is jy die spytste?
Niks. Ek glo dat ‘n mens nie kan terugkyk in die lewe nie. Ek gebruik alles in my verlede as ‘n les en ek sien maar net stadig maar seker hoe die legkaart inmekaar pas en ek gebruik dit om die toekoms te vat waar dit moet wees.
Wat is jou leuse?
Gaan voluit. Gaan groot. Doen dit ordentlik.
Dis hoe ek deur die lewe gaan.
Sinki Mlambo
Sinki Mlambo is ’n kommunikasiekundige by Revlon en gebruik haar unieke agtergron om brûe te bou. Hierdie boorling van Oos-Londen was vir lank die enigste swart leerder in haar skool en dit is een van die redes waarom sy Afrikaans perfek praat. Hierdie jong, dinamiese Xhosa-vrou slaan mense se asems weg wanneer sy wegspring, maar sy lag as sy sê dat daardie oomblikke gewoonlik wonderlike geleenthede skep vir interessante gesprekke. Haar pa was ’n Afrikaanse onderwyser wat haar so keurig Afrikaans laat praat, maar haar moedertaal is Xhosa. “Dit is so lekker vir my om die tradisionele prentjie van die Afrikaanssprekendes in ons land te help nek-omdraai. My Afrikaans lyk soos Rubik se kubis. Veelkantig en interessant … dit is ’n groot deel van wie ek is.” Sinki is ’n ambassadeur vir Afrikaans. Sy beantwoord vir Afrikaans.com die Proust-vraelys. Leer ken haar van nader …

Haar leuse:
“Ek wil mense se harte verstaan.”





Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?
Met die seisoenverandering was ek vir ‘n hele ruk siek en ek nies toe baie. Ek vra iemand vir ’n tissue, toe sê sy: “Jy bedoel seker ’n snoetsponsie”. Dit sê so lekker!
Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?”
Al drie van die volgende het ek al opgevoer en elkeen het my op ‘n ander manier aangeraak:
- “Daar is meer poësie in die sneeuvlokkie as in die letterkunde.” – TT Cloete (uit God die digter)
- “Lat ons di Bybel oepeslaan en lat ons daryt lies.” – Adam Small (uit Kô laat ons sing)
(Maak nie saak waardeur jy gaan nie, daar’s altyd ‘n lied in die lewe.)
- “Ag please mêrim, kamaan smile. Kyk net ons tentjies is vol happiness gepaail.” – Adam Small
(Glimlag net in die lewe – daar is soveel happiness om ons)
Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek? (Kan selfs uit jou kinderjare wees)
Siener in die suburbs – PG du Plessis (al is dit eintlik ‘n drama)
Ek het dit geniet uit ‘n fliek-oogpunt uit, ‘n drama-oogpunt, fisies die teks deurwerk.
Ek’s mal oor die temas wat daardeur kom wat vandag steeds relevant is.
So nou en dan slaan ek “Die Groot Verseboek” oop. Dit het op ‘n stadium in my kattebak saamgery.
Die eerste boek wat jy op jou eie gelees het?
My Kinderbybel
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Ek jaag nie geld of sukses nie. Vir my lê rykdom en geluk in die pad wat ek geloop het en in die reis om te kom waar ek is. My grootste geluk sal wees om altyd iemand te hê met wie ek iets kan deel.
Jou grootste vrees?
Ek wil altyd my beste gee in als wat ek doen en myself uitdaag om te verbeter. Ek dink as ek eendag ‘n gemaksone bereik en daar nie meer groei plaasvind nie, sal ek nie gelukkig wees nie.
Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
Ek ooranaliseer dinge baie, wat soms tot my frustrasie lei en ek irriteer myself as ek soms te lank stilbly.
Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?
Mamma, Mamma, Mamma, Mamma!
Vir haar geduld en vir haar rustige en perfectly timed wysheid wat sy gehad het. Sy’t my altyd toegelaat om my eie pad te volg. Sy’t klein saadjies vir Sinki gelos. Ek waardeer haar meer en meer, verall omdat ek haar nie meer by my het nie, ’n Enkelma wat drie kinders deur skool en Universiteit gekry het en nie eenkeer gekla nie … ek het haar een keer gevra wat is haar grootste sukses. Haar antwoord: “Die dag wat sy aan ons drie geboorte gegee het.”
Sy is my anker.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Wyn en data!
Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
Ek skep glo my eie taal soos wat ek gaan. My vriendin noem dit “Sinki-isms. Dis meesal troetelwoordjies, maar as ek bv. iets verduidelik dan sê ek “shou-shou”.
By watter geleentheid sal jy waarskynlik ‘n bietjie jok?
Ek jok nie baie goed nie, so jy sal dadelik weet. Ek dra my hart op my mou.
Wat of wie is die liefde van jou lewe?
Wie – is nog op ‘n padkaart – ons albei is nog op reis, opsoek na mekaar.
Wat – Behalwe my wyn, ek hou baie daarvan om tussen mense te wees en hulle stories te hoor. Daar is ‘n Xhosa spreekwoord “Ukuhamba kukubona” wat beteken “to travel is to see”, maar die dieper betekenis is dat hoe meer jy reis op alle vlakke van lewe (saam met mense), hoe ryker is jy.
Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
Ek is altyd op my gelukkigste as ek by my familie is. ‘n Fisiese plek – Leeukop – dis nie iets wat ek gewoonlik doen nie, maar ek’t myself uitgedaag, ek’t gegroei en vriendelike Suid-Afrikaners ontmoet, ek’t tyd met die Here spandeer, so dit was soveel fassette van lekker!
Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Ek sal graag baie lekker wil kan kook.
As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Ek is so gelukkig met wat ek het. Ek’s uniek. Ek’s sinkilicious en ek love dit!
Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Eerlikwaar, niks nie. Ek’s 28 en nog baie jonk. Al is ek hoe oud, ek besef ek doen niks wat iemand anders nie kan doen nie.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My ma se stemnotas.
Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
As ek honger is en ek moet produktief wees.
Jou fiksieheld/in?
Pocahontas & Black Panther
En jou helde in die regte lewe?
Enigiemand wat passievol is, wat lewe, wat dryf het en wat gee – nie net noodwendig finansieël nie, maar tyd – wat bou, en wat drome kan najaag (saam met ander).
Sandra Prinsloo
Sandra Prinsloo se onvergeetlike bydrae en nalatenskap is ongeëwenaar. Haar betowerende krag op ‘n verhoog slaan keer op keer ‘n mens se asem weg. Haar talent bekoor gehore al dekades lank. Sy is ‘n legende, maar Sandra, die mens, inspireer op soveel vlakke. Sy het nooit elders haar heil gaan soek nie en is al langer as 50 jaar in die een na die ander uitstekende produksie te sien.”Wanneer jy mense kan raak is dit ’n wonderlike ding wat gebeur. Ek sê altyd jy speel nie vir jouself nie. Jy speel vir ’n gehoor en om vir ander mense iets te gee.” Afrikaans is haar emosionele taal … die taal waarin ek myself die beste kan uitdruk …” Lees meer oor Sandra, ook ‘n beskermvrou vir Afrikaans hier. Sy beantwoord vir Afrikaans.com die Proust-vraelys. Leer ken haar van nader …

Haar leuse:
“Jyself is die argitek van jou lewensuitkyk.”

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?
Ietermagog en vloermoer!
Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?”
“Die water was geskil met ‘n glinsterende waterkleed …” Breyten Breytenbach in Vertrek (Windvanger).
Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek? (Kan selfs uit jou kinderjare wees)
PG du Plessis se Fees van die ongenooides.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
’n Dobberende dag op ‘n seiljag met my twee liefling-Labradors ook aan boord en goeie vonkelwyn.
Jou grootste vrees?
Om fisies afhanklik te raak.
Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
My ongeduld.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Skoene.
Watter woord gebruik jy te veel?
Ongelooflik.
Wie of wat is die liefde van jou lewe?
My honde, Romeo en Olga.
Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
As ek stap en swem met my honde.
Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Om opera te kon sing.
As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Net een ding?!
Wat is jou kosbaarste besitting?
My Diane Victor-skilderye.
Jou fiksieheld/in?
Modesty Blaise.
Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?
Eerlikheid.
En in ʼn vrou?
Eerlikheid.
René Arendse
Afrikaans is #onmisbaar, want dit laat jou toe om te wees wie jy is!
Haar wese straal van vreugde en haar innemende warm glimlag laat jou sonder voorbehoud oorborrel en voor jy jou oë uitvee, het jy jou diepste geheime gedeel … René Arendse, leef, motiveer, werk en inspireer in Afrikaans. Sy is ‘n projek- en geleentheidsbeplanner en aan stuur van haar eie maatskappy, Smart Business. Sy is ook ‘n ambassadeur vir Afrikaans en ’n Afrikaans.com- gemeenskapskoördineerder in die Wes-Kaap waar sy die opwindende Afrikaans.com-muurkunsprojek met passie en groot sukses bestuur. Ons het haar gepeper met die Proust-vraelys.

René op haar gelukkigste met ’n beker geurige koffie en die sagte geur van blomme wat haar omvou.
Haar leuse:
Dat mense nie sal onthou wat ek hulle vertel het nie, maar hoe ek hulle laat voel het. Dat ek minder sal praat en meer sal doen.


Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?
Klopdisselboom … ek het vir baie lank geen idee gehad wat dit beteken nie … net geweet dis lekker!
Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?”
‘…oor die bergtop loer sy skelm, en haar oge is skaam; en sy lag saggies …O, die dans van ons Suster ‘… Die dans van die reën – Eugène Marais
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Dat dit nie bestaan nie … dat ons geluk wel ‘n samestelling van ‘n klomp klein ‘oorwinnings’ en oomblikke van vreugde en tevredenheid is.
Jou grootste vrees?
Dat ek sal terugkyk en besef dat ek nie my beste gegee het nie.
Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
My ‘squirrel’-sindroom … dat ek soms multi-tasking na die volgende vlak neem.
Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?
Enigeen wat bo hul omstandighede kon uitstyg en hul lewensomstandighede kon verander en verbeter.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
My liefde vir koffie.
By watter geleentheid sal jy waarskynlik ’n bietjie jok?
My ouderdom en gewig …
Wie of wat is die liefde van jou lewe?
My man en kinders … dan blomme en goeie koffie.
Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
Tussen blomme … In ‘n veld van rose wil ek ‘n veldblom wees!
Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Om mooi te kon sing.
As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Dis terrible om so kort te wees … ek kan die opkyk na my man aanvaar, maar nou moet ek glad opkyk na my kinders. Ek trek aan die kortste ent.
Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Om ‘n ma te wees … die grootste lewenstaak ooit!
Wat is jou kosbaarste besitting?
My familie … indien ek alles sou verloor sou ek net my familie by my wou hê.
Waar wil jy die graagste woon?
Iewers waar ek die klanke van die see kan hoor.
Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
Wanneer jy geloof in jouself verloor… niks is erger nie.
Wat is, volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap?
Die menslike intellek… jou “I CAN” is baie meer waardevol as jou ‘IQ’. Oorwinnings gaan nie altyd vir die slimste of die vinnigste nie, maar vir die een wat GLO HY KAN!
Watter van jou karaktertrekke is volgens jou die opvallendste?
Ek hoop my menslikheid.
Jou gunsteling der gunsteling as dit by beroepe kom?
Die mees invloedryke beroep … die onderwys.
Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?
’n Man wat onvoorwaardelik lief het.
En in ʼn vrou?
Die vrou wat saggies en met deernis wel berge verskuif. Die vrou wat nie lawaai hoef te maak om haar doel te bereik nie …
* Afrikaans.com en die Veldtog vir Afrikaans word deur Dagbreek Trust gefinansier.