Laerskoolleerders moet meer speeltyd gegun word na skool en nie nog met ekstra skoolwerk opgesaal word nie. Dalk stem jy saam, dalk nie, maar die kwessie van huiswerk doen na skool, bly maar ’n teer puntjie vir party van ons. Party kinders kan bloot nie byhou nie en voel oorweldig en gestres, om nie van die ouers te praat nie – want hoe dikwels moet huiswerk nie tussen bad- en slaaptyd ingepas word nie!
Skooltake en mondelinge is veral ’n probleem, omdat baie ouers voel dat appels nie altyd met appels vergelyk kan word nie. Gesels maar gerus met van die ouers en jy kom gou agter dat van die take en mondelinge inderdaad die werk van ma of pa of selfs ’n “professionele” persoon is.
In ’n 2016-artikel op Solidariteit se webtuiste sê ’n onderwyseres van Bloemfontein dat ouers wat kla oor hulle kinders se werklading nie die Suid-Afrikaanse skoolstelsel verstaan nie. Hulle het groot klasse en die werk wat in een jaar gedek moet word, is baie. “Indien kinders nie by die huis gaan hersien nie, gaan hulle eenvoudig nie die mas opkom nie.” Sy glo ook dat hoe vroeër kinders begin leer en huiswerk doen, hoe beter die kans dat die kind sukses in ’n akademiese loopbaan sal behaal.
In dieselfde artikel beveel ’n kenner aan dat kinders tussen 6 en 10 jaar nie huiswerk gegee moet word wat langer as ’n uur sal neem om te voltooi nie en daar moet ook voorsiening gemaak word vir rusperiodes na elke 20 minute se huiswerk doen. Huiswerk moet bestaan uit hersiening van die dag se leerwerk. “Speel is van kardinale belang vir kleintjies. In hulle speeltyd leer hulle van hulleself, hulle wêreld, hulle verbeelding … hoe dinge werk.”
Die ouer se rol
Shanda Luyt skryf in ’n artikel op Vrouekeur Digitaal dat ouers hulle kinders moet ondersteun wanneer dit kom by huiswerk, take en toetse, maar beslis nie die huiswerk moet oorneem en namens die kind doen nie. Kinders moet geleer word om verantwoordelikheid vir hulle eie leerwerk te aanvaar en dit is
dus belangriker om die kind met die regte studievaardighede toe te rus. Vaardighede sluit die volgende in:
- Om opsommings van die werk te maak, m.a.w. kinders moet leer om te onderskei tussen belangrike en relevante inligting en dit wat nie belangrik is nie.
- Om self ’n mondeling te skryf, m.a.w. jy kan raad en riglyne gee, maar die kind moet eers self skryf waarna ouers kan help om aanpassings te maak indien nodig.
- Om self skooltake te doen. Ouers kan help deur inligting te soek as die kind nog in die laerskool is – hoërskoolleerders moet self regkom. Neem gerus die kind biblioteek toe.
Die werk is te moeilik
- Vind eers uit wat is te moeilik. Verstaan jou kind nie die opdrag nie, het hy te min inligting of is hy sommer net nie lus nie.
- Wys hom hoe om die vraag met kleurpenne op te deel en hoe om sleutelwoorde te soek.
- Help ook jou kind met tydsbeplanning sodat hy die olifant happie vir happie kan eet.
Doel van huiswerk
In die Vrouekeur-artikel sê opvoedkundige konsultant, Alet Marais, dat die doel van huiswerk is om “vaslegging te doen van dit wat in die skool geleer is … en vir toetse en eksamens moet leerders vooraf ’n afbakening gegee word, sodat hulle presies kan weet wat om te leer”. Wat wel ’n goeie idee is, is om leerders uit te daag om die dag se klasonderwerp te gaan navors en te kyk of hulle nog inligting bymekaar kon maak en hulle dan die volgende dag ’n beurt gee om in die klas te vertel wat hulle uitgevind het.
Maak ook seker dat jou kind nie spesiale leerbehoeftes het nie, veral as jy merk dat hy langer as wat nodig is aan huiswerk bestee. As jy seker is jou kind sit nie net en droom, of is bloot lui nie, is dit raadsaam om ’n professionele persoon te gaan sien.
Volgens een van die kenners in die artikel, is onderwysers nie altyd bewus van die omstandighede van leerders nie, soos dat sommige leerders eenvoudig nie tyd het om soveel huiswerk baas te raak nie omdat hulle die hoofversorgers van hul huishoudings is. Party onderwysers glo ook dat kom wat wil, dis die leerder se verantwoordelikheid om die werk gedoen te kry, ongeag sy omstandighede.
‘n A-gemiddelde is nie die alfa en die omega nie
Dit is so dat ons die beste vir ons kinders wil hê, maar dit gaan oor soveel meer as net ‘n A-gemiddelde. Leer jou kind vaardighede wat hom sal toerus om in die “wrede” wêreld aan te pas en in te pas. Langtermynvaardighede, soos emosionele aanpasbaarheid om onder andere met ander mense oor die weg te kom en stresvolle situasies te hanteer, is uiteindelik heelwat meer werd. “Goeie punte is allermins ’n versekering op sukses in die lewe.”
Breinkaarte (mind maps)
Ongeag jou kind se leerstyl, bly breinkaarte een van die beste maniere om opsommings of notas te maak. ’n Breinkaart (ook bekend as die spinnekop-en-web-metode) is ’n diagram wat gebruik word om woorde en idees aan ’n sleutelwoord oor ’n kernbegrip of idee te verbind, aldus Wikipedia. Dit word gebruik:
- As studiehulpmiddel en vir hersiening.
- Om ’n visuele oorsig van leermateriaal te gee.
- Om idees te visualiseer en te struktureer.
- Vir probleemoplossing en besluitneming.
- Om beter te onthou.
Het jy geweet?
- In sekere Skandinawiese lande (bv. Noorweë en Finland) is huiswerk vir laerskoolleerders afgeskaf.
- Jong kinders kan nie vir langer as 20 minute konsentreer nie.
- ’n Graad 1-kind behoort nie langer as 10 minute per dag aan huiswerk te bestee nie – daarna kom daar 10 minute by vir elke graad, sodat leerders in graad 10 tot 12, twee tot drie uur per dag vir huiswerk sal nodig hê.
- ’n Opname deur die Britse opvoedkundige handelskou Bett onder 2000 ouers het bevind twee derdes van die ouers het hul kinders met hul huiswerk gehelp en een uit ses het gereeld al hul kinders se huiswerk vir hulle gedoen. Lees meer hier.
Nog nuttige bronne:
Solidariteit: Is die afskaffing van huiswerk ’n goeie ding?
Maroela Media: Moet Graad 0 tot 3 huiswerk kry en hoeveel?
Lees oor Sun Valley Laerskool in Kaapstad se besluit om huiswerk af te skaf. Klik hier
Indien jy ingeteken is op Netwerk24, kan jy lees oor die waarde van huiswerk. Klik hier.
Vrouekeur: Ouers en huiswerk. Help jy te veel?
Huisgenoot: Jy en jou kind is ’n wenspan. Hoe om die huiswerkproses te bestuur.