“June klim in ʼn karakter se skoene, sy word daardie karakter en dan kan jy nie vir beter vra nie. Sy gee regtig haar alles en is ʼn wonderlike spanspeler.”
Sally Campher, vervaardiger van Raaiselkind
Sy glip soomloos van die een interessante karakter na die ander, heel gemaklik in daardie karakter se vel. June van Merch is voorwaar een van ons land se heel bestes. Sy is tans te sien in die nuwe seisoen van Sara se Geheim op kykNET. Alita Steenkamp het met haar gesels.
ʼn Goedgeskrewe teks, jare se ervaring, goeie voorbereiding met 110 persent woordvastheid en ʼn lekker koppie koffie tussendeur is die dinge wat sorg dat June van Merch keer op keer slaag met dit waarmee sy so goed is: om in die skoene van ʼn nuwe karakter te klim. Of dit nou op die verhoog in ʼn uitstaande produksie soos Kanna hy kô hys toe is, of voor die televisie- of rolprentkameras in rolle soos die van Sofia in Die Boekklub, Sara Abrahams in Sara se Geheim of die minsame Miriam in Raaiselkind. June lewer telkens uitstekende spel en die vele toekennings wat al na haar kant toe gekom het, getuig van haar vaardigheid en vernuf.
Die jare se ervaring waarna June verwys, strek terug tot in die tagtigerjare toe sy haar professionele buiging in 1986 gemaak het in Casper de Vries se kabaret, Hallo Suid-Afrika. June is nou nog dankbaar vir ʼn hoërskoolonderwyseres, Me du Toit wat haar aangeraai het om Stellenbosch toe te gaan en daar drama te studeer. Met die nodige permit in haar sak, het sy vasgebyt, al kon sy nie op die kampus bly of saam met haar studentemaats trein ry nie. Gelukkig kon geen wet of bepaling haar wegkeer van die verhoog af nie. Vandag is een van die dinge wat sy koester ʼn paar bruin velskoene wat sy toentertyd in Upington gekoop het. Sy was as student deel van die groep studente wat voorgeskrewe werke by skole opgevoer het, ʼn eerste vir daardie jare, en hulle het die land platgetoer. Vandag is hierdie skoene vir haar simbool van die uitdagings waarvoor sy elke keer te staan gekom het, maar wat haar nog nooit van haar werk kon weghou nie.
Vroeër vanjaar het Raaiselkind, die rolprentweergawe van Annelie Botes se gelyknamige roman, in rolprentteaters gedraai. June is tydens 2017 se Silwerskermfees bekroon as beste byspeler vir haar rol as Miriam, die gelowige huishulp wie se liefde vir klein Alexander so besonder groot is, dat sy as’t ware sy aartsengel word. By dieselfde geleentheid het sy ook die toekenning as beste aktrise vir haar rol in die kortfilm, Vossie vergas homself, ontvang.
June lag wanneer sy aan daardie geleentheid dink. “Almal se aandag op my was so oorweldigend, ek het gevoel soos ʼn onthoofde hoender wat maar bly rondhol. Om die waarheid te sê, ek onthou baie min. Ek neem boonop ook nie gemoedsveranderende middels nie behalwe die twee teelepels lopende bruin suiker in my koffie.”
Oor wat ons alles van hierdie seisoen van Sara se Geheim kan verwag, swyg June. Al wat sy sê is: “Hoog drama, hoog drama en nogmaals hoog drama. Die kykers moet maar self die hoog drama gaan beleef, ek wil niks weggee nie.” In Sara se Geheim vertolk Lee-Ann van Rooi die rol van Sara se dogter, Maggie. Die twee het natuurlik ook saam gespeel in Die Boekklub, maar wanneer ʼn mens ʼn draai verder terug op die herinneringspad maak, kan jy nie anders as om terug te dink aan die baie gewilde Fishy Fêshuns nie. Hierin was June die baie kwaai werkersverteenwoordiger, Patsy, waarvoor die fabrieksbaas maar altyd katvoet geloop het. Lee-Ann van Rooi was weer die sexy Rochelle en saam met die res van die span het hulle ure se kykgenot verskaf.
Wanneer ʼn mens begin kyk na al die verskillende rolle wat June die afgelope jaar of twee ingeryg het, wonder jy of daar ooit tyd vir stilsit is. Sy lag weer: “Ek is nie so goed met werkskepping vir myself nie. Die probleem is dus dat dit vir drie maande so woes gaan dat ek my draaie nie kry nie. Dan is daar skielik niks nie en moet ek myself steeds besig hou. Ek is ‘n baie goeie “do-it-yourselfer” so ek is gedurig aan’t werskaf in en om die huis. As daar nie iets is om te doen nie dan skep ek iets. Ek het so ʼn paar maande gelede die basis van my 1950 liter wateropgaartenk self gebou. Eintlik is ek ‘n homebody en soms wens ek ek kon eerder skryf of so iets dat ek nie die huis hoef te verlaat nie. Maar dis ook vir my baie lekker om op my scooter rond te rits, al om die Skiereiland en die natuurskoon te beleef, of wat nog daarvan oor is. Die kolossale huise gaan al hoe hoër teen die berge op,” sê sy.
June vertel dat sy ʼn rukkie gelede begin het om kinderstories vir RSG te lees en die reaksie is wonderlik. “Dit lyk asof die ouer garde weer die kind in hulle herleef. Die luisteraars, veral die vyftig plussers, keer my voor en sê hulle mis dit vir niks! Een het selfs gesê sy het langs die pad stilgehou om een van die stories klaar te luister. Dis lekker om te hoor en maak alles die moeite werd,” sê sy.
June se Afrikaanse wortels lê in Namakwaland waar haar ma vandaan kom. Afrikaans wat uit die Noord-Kaap en Namakwaland kom, maak waarlik vir haar musiek. Aan die doemprofete wat voorspel dat Afrikaans bedreig word, steur sy haar nie veel nie. ““Die taal is veilig. Solank daar ’n klomp Noord-Kapenaars bestaan, en solank daar ’n klomp Namakwalanners rondloop sal die taal nooit in der ewigheid doodgaan nie.”
Vra jy vir June waaruit sy haar vreugde put, kom die antwoord: “Die natuur en nogmaals die natuur. My generasie het die voorreg gehad om kilometers deur bos en klip see toe te stap, in die klowe met toue aan die bome te hang en die ruwe krag van die rowwe waters van Diaz strand te beleef. Alles verniet. Ek het my ‘n ruk gelede in Port Elizabeth bevind en daar sien ek jou wrintiewaar gras soos die gras waarop ek 50 jaar gelede gespeel het: Geel in die somer en groen in die winter! Ek stap graag teen Leeukop en Tafelberg en gaan binnekort die Visrivier Canyon doen.”
Sukses het nog nooit na haar kop toe gegaan nie. Die onreg van die verlede het seer gemaak, maar tog weet sy dat die enigste een wat jy met jou bitterheid vergiftig, jyself is. Sy is ouer, wyser en vat dinge soos dit kom.
June pak elke nuwe rol geesdriftig aan. Die kere wat sy in ʼn nuwe seisoen dieselfde karakter moet vertolk, herroep sy bloot die eienskappe van die karakter en dan slaan dit weer deur. Hoe anders? June sê reguit die karakter gaan sit in haar selle vas. Mag daar daarom nog hope interessante, veelkleurige en unieke karakters op haar wag! Die volk kan immers nooit genoeg van June van Merch kry nie!
Om June en Hilandi se Gesnaarde Gedigte te bespreek, skakel Hilandi by 0741433400 of stuur ʼn e-pos aan info@hilandi@gmail.com