’n Lekker lys leesstof vir die jongspan … dis vakansietyd!

(Foto: Annie Spratt, Unsplash)

Met die winter wat ons behoorlik in sy ysgreep het, het die tyd vir kaggelvure, warmsjokolade en die winterskoolvakansie nou aangebreek.

Om seker te maak die jongspan bly besig (en weg voor die televisie en rekenaar), het Petronell Vorster namens Afrikaans.com die nuutste en lekkerste leesstof gaan uitsnuffel.

Voor ons egter wegspring met die lys, lees eers hoekom dit só belangrik is dat jou kind lees.

Rede tot kommer

Dis geen geheim dat Suid-Afrika se opvoedkundige stelsel ’n krisis beleef nie. In 2017 het navorsing deur die Universiteit van Pretoria (UP) bevind dat 8 uit 10 graad 4-leerders nie op ’n gepaste vlak kan lees nie. Hierdie bevinding is gemaak deur navorsers van die sentrum vir evaluering en assessering aan die universiteit en hul bevindinge is gebaseer op die jongste navorsing van die Progress International Reading Literature Study (PILS), ’n internasionale vergelykende studie van jong kinders se leesvermoë. Suid-Afrika het in dié 2016-PILS-navorsing laaste uit 50 lande gekom.

Maar hoekom is dit so belangrik dat jou kind lees?

Kyk hier na ’n gesprek met Fred Pheiffer, die redakteur van die Oxford University Press-woordeboeke op die Groot Ontbyt oor die belangrikheid van lees, geletterdheid en die krag van woordeboeke:

Om dit eenvoudig te stel: Lesers is presteerders! Wanneer jou kind leer lees en skryf, begin hy verstaan hoe om te lees. Maar hoe ouer kinders word hoe belangriker word dit dat hulle lees om te verstaan. Daar is ernstige gevolge vir kinders wat sukkel om te lees. Dit is onvermydelik: ’n swak leser word ’n sukkelende leerder.

Lees se voordele strek ook baie verder as die klaskamer. Lees bou ’n woordeskat en verbeter die leerder se spelvermoë, dit verbeter konsentrasie en help ons ontspan en kan selfs ’n sosiale aktiwiteit wees (dink boekklubs). Lees verbeter ook jou algemene kennis en stel jou bloot aan nuwe dinge.

Moet ook nie in die ‘My kind is nie ’n leser’-slaggat trap nie. ’n Liefde vir lees is iets wat jy aktief by jou kind moet kweek. Natuurlik gaan jou kind nie van lees hou as hy/sy nie gemaklik is daarmee nie, hoe meer jou kind lees, hoe beter gaan hy/sy word en hoe meer gaan hy/sy wil lees.

Vakansieleesstof

Daar is geen tekort aan goeie Afrikaanse kinder- en jeugboeke nie. Dit is trouens die  leesmark in Suid-Afrika wat die vinnigste groei! Die meeste van Suid-Afrika se uitgewers se webbladsye is ook baie gebruikersvriendelik en hulle maak dit vir jou maklik om ouderdom-gepaste leesstof vir jou kind te vind. Jy kan ook boeke direk van die uitgewers af bestel.