Skrywer: Marie Brumm
Bheki is my regterhand op die plaas en dit is ’n groot voorreg om haar in my lewe te hê. Niemand kan hierdie resepte so lekker soos sy maak nie, maar ons kan seker net probeer!
Vetkoek met kerriemaalvleis
VETKOEK
5 k broodmeel, plus ¼ k ekstra meel vir die uitrol van die deeg
3 t sout
5 g kitsgis
500 ml lou water, plus ekstra water vir as die deeg te styf is
olie, vir diepbraai
KERRIEMAALVLEIS
500 g beesmaalvleis
1 ui, fyngekap
1 wortel, in blokkies gesny
1 aartappel, geskil en in blokkies gesny
sout na smaak
3 e asyn
1 t borrie
1 t Cartwrights Original Blend-kerriepoeier
¼ k suiker
1 e appelkooskonfyt
90 ml water
6 heel swart peperkorrels
2 heel naeltjies
1 e mielieblom (Maizena)
METODE
- Maak eerste die vetkoek: Meng die koekmeel en kitsgis goed met jou hande in ’n mengbak.
- Begin die water stelselmatig bygooi om ’n deeg te vorm. Gooi ’n bietjie water by en knie, en herhaal totdat die deeg ’n ronde bal vorm wat nie meer aan die kante van die bak vassit nie. As die deeg te slap is, gooi meel by. As die deeg te styf is, gooi water by.
- Laat die deeg rys tot dit in volume verdubbel het.
- Strooi meel op ’n skoon oppervlak, knie die deeg liggies af en rol dit in ’n lang rol. Sny die deeg in die grootte wat jy min of meer jou vetkoeke wil hê.
- Verhit olie in ’n groot pot op die stoof.
- Druk elke individuele vetkoek effens plat met jou palm voordat jy dit in die olie gooi.
- Bak die vetkoeke in die olie tot dit goudbruin is aan albei kante.
- Nou is dit tyd om die kerriemaalvleis te maak: Geur die maalvleis met sout en braai dit in ’n pan vir so 5 minute. Gooi dan ’n bietjie water by, saam met die ui, wortel, aartappel en sout. Kook tot sag.
- Gooi nou die res van die bestanddele, behalwe die mielieblom, by en kook goed deur.
- Voeg die mielieblom by en kook vir nog 5 minute of tot die sous verdik.
- Bedien kerriemaalvleis warm saam met die vetkoek.







