Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Outisme word so dikwels verkeerd verstaan en juis daarom kan ouers en die kind op die spektrum onnodig en onregverdig geoordeel word, want is dit dan nie so dat “die beste stuurman juis aan wal staan nie”?
Afrikaans.com vertel jou kortliks meer hieroor.
Wat outisme wel is:
- Dit is ’n neuro-ontwikkelingsversteuring, met ander woorde dit is gesetel in die brein en bepaal hoe die brein die inligting wat ingeneem word, verwerk en daarop reageer.
- Dit raak kommunikasie, sosiale interaksie, emosionele regulering en/of aanpasbaarheid veral ten opsigte van verandering – juis omdat die outistiese kind die wêreld en die omgewing “anders” ervaar.
- Dit is nie dieselfde vir almal nie. Elke outistiese kind is uniek met sy eie sterkpunte, uitdagings en manier van dink.
- Die verskille is reeds tydens vroeë ontwikkelingstadiums sigbaar, mits jy weet waarna om te kyk, anders kan dit aanvanklik misgekyk of verkeerd geïnterpreteer word.
- Dit het niks te doen met ouerskap, skermtyd, trauma of ’n gebrek aan dissipline nie.
Belangrik: Die kind op die spektrum sukkel dikwels omdat die omgewing rondom hom nie aan sy unieke behoeftes voldoen nie en nie omdat daar iets “fout” is met die kind nie. Dit is nie ’n siekte wat reggedokter kan word nie. Dit is wel ’n toestand wat met die regte ondersteuning en begrip bestuur kan word – hoe gering ook al.
Dit gaan nie oor etikettering nie
Elke kind op die spektrum is uniek – dit is ook hoekom ’n mens dit ’n spektrum noem. Party is byvoorbeeld hoogs sensitief vir geraas, helder ligte, sekere kledingstukke, sekere teksture (veral ten opsigte van kos), reuke of besige omgewings. Ander wil weer voortdurend aan die beweeg bly, alles en almal aanraak, en hou van sensoriese insette. Sommige kinders kom vol selfvertroue voor en hou van sosiale interaksie, terwyl ander kinders weer stiller is, teruggetrokke voorkom en nie op gewone maniere kommunikeer nie.
Om outisme te verstaan, gaan dus nie oor etikettering nie. Dit gaan daaroor om die spesifieke kind en sy gedrag te verstaan en om die talle uitdagings wat kop uitsteek as die kind se behoeftes nie op die regte wyse bevredig of ondersteun word nie, raak te sien en te hanteer.

Ondersteuning
- Alles berus op begrip. In plaas daarvan om te vra: “Hoe stop ek hierdie gedrag?”, vra liewer: “Wat probeer die kind aan my kommunikeer?”
- Skep omgewings wat onnodige spanning/stres verminder.
- Respekteer die kind se sensoriese behoeftes en hou dinge voorspelbaar indien moontlik.
- Vier die kind se sterkpunte saam met die uitdagings.
- Luister na die kind se ervarings en werk met sy verskille eerder as daarteen.
Wanneer outistiese kinders voel dat hulle verstaan word, aanvaar word en ondersteun word, kan hulle floreer, leer, hulself aanvaar en selfvertroue ontwikkel.

Bron: The Contented Child, Child Wellbeing Consultancy
Lees ook:
Outisme: ’n Wye spektrum met verskillende simptome en ervarings.
DIRFloortime® en die kind op die spektrum – Afrikaans.com
Neurodiversiteit: Riglyne vir ouers en onderwysers om die uitdagings te hanteer. – Afrikaans.com







