Skrywer: Johan Brits
Wanneer sepiekykers saans voor die televisie inskuif om te sien wie met wie baklei, wie ’n geheim wegsteek en wie se lewe pas in duie gestort het, lyk alles op die skerm moeiteloos. Maar agter elke emosionele toneel, dramatiese onthulling en onverwagse wending is daar ’n span mense wat onvermoeid werk om die storie tot lewe te bring.
Afrikaans.com het ’n dag op die stel van kykNET se Binnelanders deurgebring om te beleef hoe hierdie treffersepie bymekaargesit word.
Die Stark Studios-ateljee in Randburg, Johannesburg, is ’n miernes van bedrywighede om elke aand se 30 minute ontvlugting op te neem.
Michelle de Bruyn, publisiteitsbestuurder van Binnelanders, sê hoewel almal hárd werk, geniet die mense hul werk. Daarby weet die vervaardigers wat hulle doen, want Binnelanders vermaak gehore al vir amper 21 jaar.
De Bruyn werk onder meer met Binnelanders se profiele op sosiale media.
As jy dink die akteurs en span agter die skerms werk net 30 minute per dag, is jy in vir ’n nare verrassing.
Die werkdag begin om 07:00 en eindig om 19:00.
“Die crew (span agter die skerms) werk omtrent die hardste. Die span wat die stelle inbring, begin al tussen 04:00 en 05:00 werk,” sê De Bruyn.
Die span skiet ’n magdom 78 tonele oor vyf dae.
Met Afrikaans.com se besoek was Petro (Izette Blignaut) en Bernice (Celeste Loots) se toneel eerste aan die beurt om 08:00. Daar word 35 minute opsygeskuif om elke toneel op te neem.
Die akteurs kry hul tekste vyf weke vooruit. Die produksieskedule, wat onder meer aandui hoe laat die tonele geskiet gaan word, word ’n week voor die tyd uitgedeel.
Een van die grootste uitdagings is die voortdurende op- en afslaan van die ongeveer 40 stelle omdat dit nie permanent opgestel word nie weens ’n gebrek aan spasie in die ateljees. Wat dit nog meer uitdagend maak, is dat die stelle elke keer presies soos die vorige dag opgerig moet word.

’n Varkhart is in onlangse tonele as ’n mens se hart gebruik.
Dinge word nie uit die duim gesuig nie
De Bruyn sê Binnelanders het ’n heeltydse mediese adviseur wat die tekste en opsomming van elke toneel lees en met die kunsdepartement gesels.
Die adviseur ontleed al die mediese aspekte in die storie om seker te maak ’n siekte of prosedure word lewensgetrou uitgebeeld.
Die teatertonele vat baie langer om op te neem omdat dit so tegnies is.
De Bruyn vertel ’n varkhart is in ’n onlangse toneel gebruik om ’n menshart voor te stel in ’n toneel omdat ’n vark s’n die naaste aan die mens s’n is.
“Ander kere bou die kunsdepartement organe. Dit is baie pret vir hulle om so iets te maak.”

Die tegniese span kyk op die skerm of alles reg is in die toneel.
Hoe ’n toneel opgeneem word
Die regisseur en die akteurs gaan na die ateljee waar hy of sy die toneel blok – dit beteken om vir die akteurs te sê waar hulle moet sit of staan of hoe hulle moet beweeg. Die regisseur verduidelik dan vir die spelers hoe hulle die toneel moet speel in ooreenstemming met die teks. Hierna oefen die akteurs die toneel ’n paar keer.
Daarna word ’n tegniese repetisie gedoen, wat beteken die drie kameras, ligte en klank vir die toneel word op die regte plekke geplaas.
’n Finale kontrole word gedoen om te kyk of die hare, grimering en rekwisiete (voorwerpe in die toneel) reg is. Die ligte is warm en grimering kan smelt.
Die regisseur gaan dan na die “boks” toe. Dit is die kontrolekamer – ’n vertrek met verskeie monitors – waar hy saam met ’n span die opname op die monitors dophou en kan bepaal of iets verander moet word.
Sodra alles in plek is, begin die aftelling van 10 tot 1 voordat die rooi lig aangaan, die kameras begin rol en die akteurs hul harte uitspeel.
Met Afrikaans.com se besoek is ’n spannende toneel tussen Henry (Francois Lensley), Dewald (Phillip Schnetler) en ’n gasspeler opgeneem. Dié gasspeler is een van Suid-Afrika se geliefste komediante – kykers sal maar moet wag en sien wie dit is.
Terwyl ’n toneel opgeneem word, wag die volgende toneel se spelers in die “green room” om geroep te word vir hul toneel.
Wat gebeur as ’n speler siek is
Die akteurs en aktrises byt vas en bly nie vir elke hoes of proes by die huis nie. Dit is ’n groot ontwrigting om ’n toneel oor te skiet, so, tensy iemand baie ernstig siek is, gaan dinge voort.
Ja, dit is menslik om siek te word en die produksiespan verstaan dit.
De Bruyn vertel van ’n geleentheid waar hulle ’n week gelede ’n dringende plan moes maak.
“Daar het ’n aartjie in een van die aktrises se oog gebars en haar oog was bloedrooi. Dit was ’n uitdaging om die toneel só te skiet dat sy nie haar oog beweeg nie, veral omdat sy juis baie met haar oë speel. Die kameras is toe só geplaas dat die seer oog nie baie sigbaar was nie.”

Die werkswinkel waar die stelle gebou word.
Kreatiewe pret
De Bruyn sê die kunsdepartement het baie pret (en uitdagings) – hulle is verantwoordelik vir alles wat jy op die skerm sien – van dekor tot die kleinste besonderhede. Op die oomblik word daar gewerk aan die opknapping van een van die stelle om dit meer modern te laat lyk.
Die kunsdepartement het ’n massiewe ruimte waar alles gebêre word – van ’n hospitaalbed tot ’n ketel en ’n skildery.
“Daar word nie sommer van iets ontslae geraak nie – ’n mens kan dit altyd op ’n ander manier gebruik of herwin.”

Die akteurs se klere hang gereed.
Dasse, dasse en nogmaals dasse
Die kostuumafdeling is net so indrukwekkend.
Die rye klere wat hang lyk soos ’n klerewinkel. Aan die een muur is ’n hangplek met baie, baie dasse. At Koster se pakke hang netjies in ’n ry.
Al die karakters se klere hang daar.
Grimering
Rye en rye botteltjies staan in die grimeervertrek waar al die akteurs en aktrises onder ’n grimeerkwas deurloop.
Die episodes word tussen drie en vier maande vooruit geskiet. Die tonele word ook nie in volgorde geskiet soos ons dit op televisie sien nie. Omdat stelle heeltyd op- en afgeslaan word, word die tonele in groepe geskiet. As Tonik se stel byvoorbeeld opgeslaan is, word ’n groep tonele daar geskiet. Daarna word die stel afgeslaan en die volgende opgeslaan en ’n groep tonele word daar geskiet.
Dankie!
So, as jy vanaand met ’n koppie koffie voor die televisie inskuif om na die wel en die wee van Binnelanders se mense te kyk, salueer die groot groep mense wat elke dag 12 ure lank werk om jou 30 minute van ontspanning te skep.







