Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Jy ken haar waarskynlik die heel beste as dr Annelize Roux van Binnelanders – die tawwe maar tog ook brose mens wat haar eie leer geklim en uiteindelik dr At Koster (Hans Strydom) se stoel as hospitaalhoof volgesit het. Meer onlangs was sy te siene in die Emmy-genomineerde misdaadreeks Koek, waar sy die rol van Christelle Smit gespeel het en as die nimlike Erica in Een keer om die son 2. Sedert sy Binnelanders verlaat het, is sy egter besiger as ooit.
Afrikaans.com vertel jou graag meer oor Cindy Swanepoel – die mens agter die rolle wat sy vertolk.
Cindy is in Krugersdorp gebore, waarna die gesin (sy het twee susters) in Pretoria gaan bly het en sy haar skoolloopbaan daar tot in graad 9 voltooi het voordat hulle Kaapstad toe verhuis het en in Durbanville gewoon het. Dit is hier waar sy matriek gemaak het en toe Maties toe is waar sy ’n honneurs in drama verwerf het. Vroeg in haar lewe – sy was maar 19 – is haar ma oorlede en Cindy vertel dat dit ‘n baie moeilike tyd vir haar was. Na haar studies is sy Johannesburg toe om daar ’n loopbaan vir haarself uit te kerf. “Daardie jare en voor my agt jaar by Binnelanders, het ek baie kinderteater gedoen.” In Augustus 2025 is sy terug Kaapstad toe en is sy opgewonde oor haar en haar verloofde, Craig (Urbani), se nuwe blyplek – knus naby die berg en die natuur waarvoor sy so lief is.
Cindy vertel dat sy van kleins af daarvan gehou het om voor mense op te tree en veral om hulle te laat lag.
“Op een stadium het ek Casper de Vries se sketse nageboots en opgevoer as ons kuiermense gekry het.”
Toneelspel was dus maar altyd deel van haar.
Om in sepies te speel is natuurlik baie harde werk, vertel sy, en akteurs is van 07:00 soggens tot 19:00 saans op stel. Alles gebeur teen ’n baie vinnige pas, die storielyne is verwikkeld en daar is baie woorde om te leer. “Ek het so baie geleer by Binnelanders. Deesdae kan ek baie vinnig woorde leer, dinge vinnig inneem en is ek gemaklik op enige stel – juis omdat ek geleer het om teen die spoed van lig te werk.”
Een van Cindy se jongste rolle was in die tweede seisoen van die misdaaddrama, Koek – ’n reeks wat nogal gewaagd is weens die inhoud en daarom waarskynlik nie by almal aanklank vind nie – veral ook weens die kru taal wat gebruik word.
Cindy voel dat die reeks so goed geskryf is, dat ’n mens eerder die storie as geheel moet sien as om op die vloekwoorde te fokus. “Voorheen sou ’n mens nooit in enige Afrikaanse drama of komedie enigsins vloekwoorde gehoor het nie en tog is dit net nog ’n manier om uiting te gee aan gevoelens of ’n bepaalde situasie. Ek dink nie mense moet dit so ernstig opneem as daar hier en daar ’n vloekwoord gebruik word nie – want dikwels maak dit deel uit van die storielyn en is daar ’n goeie rede daarvoor. Dalk moet ons eerder kyk hoe goed ’n storie geskryf is.”

Oor haar rol as Christelle in Koek, sê Cindy dat seisoen een aanvanklik ’n uitdaging was, maar in seisoen twee het sy Christelle beter geken en was dit maklik om weer in haar skoene in te klim.
“Die arme Christelle gaan nogal deur intense emosionele trauma en ook elke keer op ’n ander vlak – soms is dit skree, dan seer, dan moedeloos, dan weer irritasie – ek moes dus mooi kophou om die regte emosies op die regte tyd uit te haal.” Cindy noem dat sy Christelle op stel kon los as sy saans huis toe moes gaan, maar dat dit veral oefening was en is wat haar help om dit te doen – ook vir ander rolle. “Dit en ’n lekker glas wyn. ’n Lekker stort met heerlike produkte om myself te skrop en te bederf – dit was my sielkundige wat my die raad gegee het – doen wondere om die emosies wat so in jou lyf kan gaan vassit, los te maak en uit te skud.”
Cindy noem dat dit nie vir haar moeilik is om die karakter van die mens, Cindy, te skei nie. “Omdat ek nie ’n metodiese (“method”) akteur is nie, is ek steeds net Cindy wat ’n karakter vertolk. Ook, as die teks goed geskryf is, is dit maklik om in die karakter in te kom. Soms verg dit net meer van ’n mens om ontslae te raak van die emosionele bagasie wat deel vorm van die karakter wat jy vertolk. Christelle in Koek was byvoorbeeld baie aggressief en daardie aggressie het soms nog aan die einde van die dag in my gesit en ek moes maniere vind om daarvan ontslae te raak.” Cindy se raad is om ’n oggendroetine te handhaaf en dalk te mediteer sodat jy net eers weer jou “eie ek” kan vasvang. “Ek sukkel egter nie om tussen die karakter en myself te onderskei nie – miskien maar omdat ek weet wie Cindy is.”
Toekennings is iets waaraan Cindy gewoond is, maar sy vertel dat dit steeds ’n ongelooflike gevoel was toe Koek in 2025 vir ’n Internasionale Emmy benoem is in die kategorie: Beste Dramareeks. “Ek en Ashley de Lange, wat my sussie in die reeks speel, kon dit amper nie glo nie, maar tog was ek nie verras nie, want dit is regtig ’n goeie reeks en ’n ongelooflike span professionele mense wat daarby betrokke was en daarin gespeel het. Almal het hulle allerbeste gegee.”
“Wat my veral laat trots voel op die hele span, is dat ons dit in ons eie taal kon doen. Ek het regtig nooit kon dink dat dit sou gebeur nie.”
Nog ’n rol wat Cindy geniet het, is die van Erica in KykNet se Een keer om die son 2. “Erica was nie die moeilikste karakter wat ek al ooit gespeel het nie, maar om haar goedhartige en vriendelike geaardheid te speel, was nogal ’n uitdaging. Dit het vir my gevoel of ek die prinses speel – iets wat ek nooit wou doen nie, want dit voel amper te maklik. Ek was nog altyd meer gemaklik om die heks of die karikatuur te speel, veral toe ek nog kinderteater gedoen het. Daarom het die uitdaging om Erica te speel daarin gelê om die rol eerlik en eg te speel. Ek moes dit dus glo dat dit wel moontlik is om soos Erica te wees, hoewel ek voel dat ons almal goed en sleg in ons het. Dit is daardie balans en teenpole wat ons mos maar mens maak.”
Cindy vertel opgewonde dat sy dit deesdae verskriklik geniet om net storieverteller te wees, omdat sy besef het dat sy soveel meer in haar het as om net aktrise te wees. Haar produksiemaatskappy Swan Dive Collective, wat sy saam met Anél Wood gestig het, gee haar die geleentheid om hierdie droom van haar te verwesenlik en om op ander maniere uiting aan haar kreatiwiteit te gee. Hier werk sy met kunstenaars op alle vlakke – van videograwe tot ongelooflike skrywers – en vertel hulle op verskillende maniere stories, hetsy deur sosialemedia-advertensies, grootskaalse TV-advertensies of spesiale projekte.
“Ek is trots op elke projek wat ons aanpak.”
“Ons projek saam met die ATKV waar ons met karton en papier en tekeninge in ’n soort boksiewêreld lewe gee aan kinders se stories, en my eenvrouvertoning, Zonkie en die laaste boomhuis, lê my so na aan die hart.” Cindy sê dat sy deur haar werk mense daaraan wil herinner om nooit op te hou speel nie en hulle verbeeldings deur haar werk wil wakker maak.
“Ek hou daarvan om met my hande te werk. Daarom is poppespel en skaduteater vir my so lekker. Poppespel is baie terapeuties. Jy kan vir die pop goed sê wat jy nie noodwendig vir mense kan sê nie. Omdat die emosies die pop se emosies is, en op ‘n manier van jou eie emosies verwyderd is, voel jy veilig. Ek het dus geleer om emosie in ‘n pop te sit en met ‘n gehoor te kommunikeer deur asem in iets te sit wat nog nie lewe het nie. Kommunikasie met mense is net heeltemal anders as jy dit met behulp van ’n pop doen – die energie verander onmiddellik. Dit is regtig ‘n kunsvorm wat ek by veral volwassenes wil laat herlewe – poppespel is beslis nie net vir kinders nie.”

Komedie is een van Cindy se gunstelinggenres en sy vertel dat sy graag ’n “simpel, Afrikaanse fliek” met ’n klomp vroue wat sterk is in komedie – ‘n soort Bridesmaids – wil maak.
“Dit sal nogal vir my ’n lekker uitdaging wees.” Sy erken egter dat dit moeilik is om werklik snaaks te wees. “Iets wat ’n lektor op ‘n keer vir my gesê het en wat ek nog altyd onthou, is dat as jy dink jy is snaaks, gaan ander mense nie noodwendig ook so dink nie.” Vir haar is dit daardie ongemaklike oomblikke, die stiltes wanneer mense nie weet wat om te sê of hoe om te reageer nie, wat haar laat lag. “Ek hou ook van ’n bietjie slapstick as dit reg gedoen word. Dit gaan mos maar oor timing en dis nie iets wat jy iemand kan leer nie. Ons het ook nie almal dieselfde sin vir humor nie – so dit bly maar moeilik.”
Die meeste van ons het een of ander persoon wat ons inspireer en vir Cindy is daar ’n paar sulke mense. “Iemand soos Sandra Prinsloo. Sy is professioneel, sy is snaaks, is ’n ongelooflike kollega en kan net alles doen. Dis wonderlik om haar te kan dophou. Dit gebeur maar min dat jy jou helde ontmoet en bly is jy het. Ek het ook groot respek vir Anna-Mart van der Merwe, hoewel ek haar nog nooit ontmoet het nie. Haar werksetiek en toneelspel is iets wat ek bewonder en na opkyk. Dan ook die jong aktrise Ashley de Lange. Sy is so ’n goeie aktrise – ons verstaan mekaar se taal. Nog ’n akteur op Cindy se lys is Albert Pretorius. “Hy maak net sulke goeie keuses in sy spel – dis so genuanseerd – en dit is wat hom bo ander laat uitstaan.” Cindy noem ook dat die Amerikaanse komedie-aktrise, Kristen Wiig, van onder andere Satuday Night Live-faam en die 2011-fliek Bridesmaids, een van haar rolmodelle is.
Wat is eienskappe in mense wat jou aantrek?
“Ek hou van mense wat hulle eie inisiatief neem. Mense met ambisie en wat nie noodwendig wag vir ‘n rol om na hulle toe te kom nie, maar self iets skep. Kreatiewe mense wat ander dinge probeer. Enige iemand wat hulle eie kop volg.”
Jy speel ewe goed in Engels en Afrikaans, maar het jy ’n voorkeur?
“Dis vir my 100 persent makliker om in my eie taal stories te vertel. Ons moedertaal is tog die taal waarin ons ons die beste kan uitdruk en ek verstaan myself die beste in Afrikaans.” Cindy lag wanneer sy vertel dat dinge nogal interessant kan raak wanneer sy en haar Engelse verloofde in ’n gesprek betrokke raak. “Ek is net baie dankbaar dat die meeste van my rolle tot nou toe in Afrikaans was.”
Hoe hanteer jy die seer van die lewe?
Vir Cindy is balans in die lewe noodsaaklik. “Ek is eintlik dankbaar vir die seer in my lewe, want ek is iemand wat dit na komedie kan omdraai. Tragedie het komedie nodig. Die pyn in my lewe het my gevorm en my die mens gemaak wat ek vandag is. Ons moet kan lag oor dinge en moet kan kyk na die ligter kant van die lewe. Dis hoekom ek so lief is vir Desiré Gardner se skryfwerk – sy verstaan die fyn balans van die twee pole (die goed en die sleg) so goed en sy maak dit altyd deel van haar stories – soos Magda Louw byvoorbeeld.
Wat maak jou werklik gelukkig?
“Ek is op ‘n goeie plek in my lewe en is sommer net gelukkig. Ek geniet alles wat ek doen en dis lekker om te besef dat daar soveel meer is aan my. Deur stories te vertel en kreatief te wees gee ek uiting aan die kind binne-in my en vier ek dit. Daarom verkondig ek my boodskap wyd en syd om nooit jou ‘inner child’ weg te gooi nie. Maak seker jy kry daardie kind terug.”
Cindy is ook baie lief vir die Kaap met sy berge en see. “Op ‘n gewone dag gaan kry ek lekker koffie, ek stap, gaan see toe om te gaan swem en sorg dat ek êrens ’n oefensessie inwerk om my gesonde liggaam te vier en dankie daarvoor te sê. In die winter kry jy my dikwels in een van die talle teaters in die Kaap waar ek een of ander ‘show’ gaan kyk.
“O ja, en ek maak graag kaartjies vir mense. Ek is so bly as iemand verjaar, want dan kan ek vir hulle ’n kaartjie maak,” lag sy.
Jou en jou verloofde, Craig Urbani, self ’n akteur, se beroepe is besig.
Hoekom werk julle verhouding?
“Ek dink dit is maar omdat ons na vier jaar geleer het om mekaar te verstaan en saam te werk. Ons het gewerk aan ons kommunikasie – veral omdat ons vir ’n lang ruk ‘n langafstandverhouding gehad het omdat Craig so baie reis met sy musiekteater. Ek moes aanvaar dat sy roetine anders as ander mense s’n is – ons lewens is net anders as ander mense s’n – en dit vra aanpassing. Wanneer ons tyd saam het, doen ons moeite om dit lekker te maak en te laat tel. Ons ondersteun mekaar. Ek is bietjie skaam en selfbewus in die openbaar, maar Craig is goed met mense. Hy skep die balans.”
Wat sal jy vandag vir die jonger Cindy sê?
“Vertrou in die proses. Alles gebeur soos dit moet en die belangrikste van alles, moet nooit ophou speel nie.”

Lees meer oor die samewerkingsprojek tussen die ATKV en Swan Dive Collective, Zonkie en die laaste boomhuis, wat deur Cindy Swanepoel en Anél Wood bedryf word, hier Nuwe ATKV-kinderproduksie by 30ste KKNK
Kyk hieronder na een van die episodes van die ATKV-storieboks waarby Cindy Swanepoel en Anél Wood betrokke was:







