Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Is dit moontlik om jou lewe te verander en jouself gelukkig te ‘dink’?
Beslis, sê dr. Pieter van Jaarsveld, en die duisende mense wat sy boek Dink Jouself Gelukkig gelees het, sal met hom saamstem. Dié boek, wat oorspronklik in 2015 deur Lux Verbi uitgegee is, is meer as ses keer herdruk. ’n Hersiene uitgawe het in Maart verlede jaar die rakke getref. Pieter meen egter dié uitgawe kan beskou word as ’n splinternuwe boek aangesien dit 80-90% nuwe inligting bevat. “Die uitgewers wou net 10% nuwe inligting hê, maar daarmee het ek nie saamgestem nie. Ek het baie nuwe inligting bygewerk, maar ons moes die titel behou. Daarom moedig ek mense wat die eerste boek gelees het aan om ook dié een te lees. Ek het die lewensverhaal van Edith Eger, ’n merkwaardige vrou wat Auschwitz oorleef het en in April vanjaar op die ouderdom van 98 oorlede is, gebruik as agtergrond vir die boek.” Edith Eger het die fantastiese boeke The Choice en The Gift geskryf.
Pieter is ’n sielkundige, teoloog en konsultant wat op leierskap, emosionele intelligensie, selfbeeld en positiewe sielkunde fokus. Hy vertel die idee van die boek het juis uit sy konsultasiewerk gespruit.
“In my werk met ondernemings en gemeenskappe het ek bewus geword dat nie baie mense weet dat jou liggaam en jou gedagtes onlosmaaklik deel is van mekaar nie. Elke gedagte, positief of negatief, beïnvloed jou gesondheid, en uiteindelik, hoe lank jy lewe.”
Hy verduidelik dat kortisol, die sogenaamde “streshormoon” afgeskei word wanneer jy negatief is. “Negatiwiteit en die gevolglike kortisol wat in jou liggaam versprei, het ’n baie slegte uitwerking. Dit kan jou geheue skade doen, dit beïnvloed jou oordeel, en kan jou aggresief maak en ook angs en depressie veroorsaak. As jy net vir vyf minute negatief is, het dit vir tot ses ure ’n impak op jou liggaam. Dit is hoekom ’n mens dikwels siek word na ’n uitdagende week.”
Daarenteen het positiewe gedagtes weer ’n baie goeie uitwerking op die liggaam.
“Jou gedagtes speel so ’n groot rol in jou gesondheid.”
“Selfs vroeër in hierdie eeu het navorsers die brein net beskou as ’n grys massa wat nie regtig herbedraad kan word nie. Nou is ons egter bewus van neuroplastisiteit en dat gedagtes wat op ’n gefokusde manier deur die brein gaan, die bedrading werklik kan verander. As jy die heeltyd sê ‘ek is moeg’ dan voel jy moeg. As jy die heeltyd sê ‘ek is gestres’ dan voel jy gestres.”
Pieter sê ons moet eerder die beginsel van neuroplastisiteit positief gebruik. “Sê elke oggend ‘ek is ’n gelukkige mens, net goeie goed gaan vandag met my gebeur’. Doen dit elke dag en maak ’n nuwe paadjie in jou brein. Binne maande gaan jy anders voel oor jouself. Navorsing wys dat ons 60 000 gedagtes elke dag het, maar meer as 70% daarvan is negatief! Elke mens moet dus werk aan hulle positiwiteit.”
Hoe praat jy met jouself?
Een manier hoe jy daaraan kan werk, is selfspraak – hoe praat jy met jouself? “Hou in gedagte, alles in die lewe is ’n keuse – jy kies of jy wil glimlag, of frons. Dit is dieselfde met jou selfspraak. Edith Eger het gesê ander mense kan dalk jou liggaam seermaak, maar hulle kan nie jou gees seermaak nie. Niemand kan van jou wegneem wat jy in jou gedagtewêreld het nie. Daarom is dit ook so belangrik om nie aan te hou tob oor dinge nie, veral dit wat jy nie kan verander nie. Onthou dat negatiewe gedagtes jou liggaam oorspoel met kortisol. Fokus dus op wat jy vir jouself sê, en leer om jou selfspraak positief en realisties te maak.”
Waak teen toksiese positiwiteit
Tog waarsku Pieter teen toksiese positiwiteit. “ ’n Mens kan nie ontken dat jy swaarkry nie – erkenning daarvan is ook belangrik. As negatiewe dinge gebeur in jou lewe, gee dit ’n naam en erken dit. ‘Ek is hartseer, ek is kwaad,’ – dit het ook ’n plek in jou lewe. Edith Eger verwoord dit mooi: ‘Behou die hoop in jou swaarkry, en moenie heeltemal oorgaan in trauma en verlies nie’. Ons hardloop nie weg van pyn nie, maar ons hou nie aan om ‘hoekom’ te vra nie. Vra eerder hoe jy betekenis aan die trauma kan gee. Nog ’n inspirerende vrou uit die Tweede Wêreldoorlog, Corrie ten Boom (sy was ’n Hollandse vrou wat Joodse mense weggesteek het en as gevolg daarvan self in ’n Duitse konsentrasiekamp beland het), het gesê: ‘Why doesn’t empty tomorrow of its sorrows, it empties today of its strengths’.”
Leef in dankbaarheid
Dankbaarheid het natuurlik ’n groot impak op ons fisiese welstand. “Martin Seligman, die kundige agter positiewe sielkunde, sê ons moet elke dag drie dinge neerskryf waarvoor ons dankbaar is. Dit kan klein dinge wees, soos ‘ek is dankbaar my kind het my gebel’, of ‘ek is dankbaar vir ’n lekker warm stort’. Dankbaarheid laat die liggaam ‘goedvoel-hormone’ soos endorfiene en dopamien afskei, en dit is so belangrik vir jou gesondheid.”
Die mag van goeie verhoudings
Nog iets wat jou gesondheid positief kan beïnvloed, is jou verhoudings. “As jy gelukkiger en gesonder wil lewe, bou goeie verhoudings. Dit gaan nie oor hoe baie verhoudings jy het nie, maar eerder die gehalte van jou verhoudings. Selfs verbygaande verhoudings, soos jou interaksie met ’n karwag of barista, kan tot jou geluk bydra. ’n Mens moet ook werk aan jou verhoudings, en soms deeglik selfondersoek doen en jouself afvra, hoe sinvol is my verhoudings, hoe baie dra ek by? Ongelukkig is daar deesdae baie woede in verhoudings, en onthou, woede en bitterheid maak dood!”
Aangeleerde hulpeloosheid
Nog iets wat jou geluk baie kan kniehalter, is aangeleerde hulpeloosheid, sê Pieter. “Aangeleerde hulpeloosheid is wanneer jy jouself so gekondisioneer het dat jy voel jy kan nie verander nie, alles is net te veel. Dit is baie naby aan depressie en is basies ’n pessimistiese leefstyl. Dit word gekenmerk deur drie dinge: Jy voel jou situasie is permanent en gaan nooit verander nie, dit is allesomvattend en beïnvloed alles in jou lewe, en jy verpersoonlik dit – alles gaan oor jou.” Pieter beklemtoon dat iemand met aangeleerde hulpeloosheid kán verander, en ’n mens kán ’n positiewe uitkyk op die lewe aanleer. “As jy ’n negatiewe gedagte het, beveg dit dadelik met drie positiewe gedagtes. Onthou dat jou gedagtes jouself, jou gesondheid, die mense rondom jou en selfs jou toekoms beïnvloed.”
Pieter se vinnige wenke vir ’n meer positiewe lewe
- Begin elke dag met positiewe stellings. So kan jy die 70% negatiewe gedagtes wat daagliks deur jou kop gaan, begin verander.
- Dink aan drie dinge waarvoor jy dankbaar is – beleef dit, voel daardie warmte om jou hart. Doen dit gereeld!
- Doen vir vyf tot 10 minute elke dag asemhalingsoefeninge. Asem in vir ses tellings, hou vir twee, en uit vir sewe. Dit het ’n impak op jou simpatiese en parasimpatiese senuweestelsel. Jy kan dit ook met meditasie kombineer.
- Begin met ’n dagboek – skryf daagliks daarin wat die afgelope 24 uur gebeur het wat jou gelukkig of opgewonde gemaak het.
- Skryf elke oggend aan iemand in jou netwerk ’n vinnige positiewe boodskap om hulle aan te moedig.
Pieter van Jaarsveld se hersiene Dink jouself Gelukkig is beskikbaar by die meeste boekwinkels, en ook aanlyn by Takealot.







