Skrywer: Heleen Meyer
Besef jy altyd hoeveel SOUT en SUIKER in jou etes ingesluit word? Dis twee elemente wat ongelukkig vir baie van die leefstylsiektes in Suid-Afrika verantwoordelik is.
Dalk is dit deel van jou voornemens om hierdie jaar gesonder te eet? Hier is ’n paar praktiese wenke van Heleen Meyer om jou te inspireer en te wys dat dit regtig nie moeilik is om ’n paar aanpassings te maak nie.
Hou dit prakties
- Dink só daaraan: SOUT word op veral drie maniere in etes ingesluit: in die kombuis terwyl jy kook; met die voorafbereide bestanddele of kosse wat ons eet en dan ook aan tafel. Deur net bewustelik op een van dié plekke bietjie minder te begin gebruik, maak dit beslis klaar ’n verskil.
- Dink aan SUURLEMOEN as die NUWE SOUT en gebruik suurlemoenskil en -sap voor jy net uit gewoonte nog sout byvoeg. Suurlemoen komplimenteer soveel bestanddele en beklemtoon hul natuurlike geure so lekker. Verder is suurlemoen ook sommer goed vir jou algemene gesondheid.
- Probeer dit volgende keer as jy rys kook: sit twee REPE SUURLEMOENSKIL by die rys en gebruik net helfte van die sout – die rys gaan geurig wees en jy gaan nie eers die sout mis nie.
- LEES KOS-ETIKETTE om te weet hoeveel suiker en sout in produkte is. Onthou, as sout of suiker een van die eerste drie bestanddele op die etiket is, is dit ’n goeie aanduiding dat daar redelik baie in is. Só leer jy watter alledaagse produkte groot hoeveelhede sout en suiker bevat. Loer gerus na die etiket van iets soos bokspap, vrugtesap, gegeurde jogurt, selfs sommige gesondheidstafies,
- Gebruik bestanddele wat VAN NATURE SOET is, om ’n soeter smaak te gee. Gerasperde wortel, appel of soetpatats is ideaal in ’n kerrie, maalvleismengsel of enige gereg met ’n tamatiebasis. Dit kook weg, maar gee ’n lekker soet smaak. Of kook oorryp-vrugte tot ’n pulp, vries en gebruik in plaas van suiker in ’n souserige gereg, soos ’n maalvleismengsel of tamatiesous. Rooibos is ook ’n ideale opsie om geur te gee, sonder dat daar suiker gebruik word.
Kyk hier vir inspirasie
Video: @through_the_lens_with_t (IG)







