Wil jy oud word? Sny dan suiker uit … en sommer brood en aartappels en rys ook!
Moenie dit … moenie dat! En dan?
Dit is so dat genetika en oorerflikheid wel ’n rol kan speel in langslewendheid en ‘n mens se gesondheid, maar uiteindelik is elkeen van ons aan stuur van ons eie gesondheidsbootjie.
Hier is ’n paar gedagtes oor hoe jy beheer kan neem om met grasie en goeie gesondheid oud te word:
- Hou matigheid voor oë – te veel, te gereeld, te… is nooit ’n goeie ding nie.
- Oefen gereeld volgens waaraan jy gewoond is en met jou ouderdom in gedagte. So bly jy fiks, sterk en soepel en hou jy sommer jou gewig in toom.
- Eet vars en indien moontlik nieverwerkte kos. Maaltye wat ’n mens self voorberei is soveel gesonder as klaarbereide kos in pakkies wat jy net opwarm. Daar is baie verskuilde soute, suikers, chemiese middels en preserveermiddels in talle van hierdie kitsetes – alles maniere om dit lekker te laat smaak. Volgens navorsing is dit juis hierdie kitsetes wat kan lei tot obesiteit en tipe 2-diabetes.
Dus … om oud te word, is nie een of ander geheime wetenskap nie, dit is bloot ‘n geval van gesonde balans – en so bietjie geluk en genade.







