Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
In 2025 was Sonja Herholdt reeds 50 jaar deel van die musiekbedryf en van uittree is daar nog nie sprake nie … inteendeel!
Sy sê die volgende op FB:
“Om 50 jaar in die musiekbedryf te vier, is nie my identiteit nie, maar dit is ’n groot deel van my geskiedenis en my herinneringe. Ek is trots op die laaste 50 jaar – net soos dit was!”
Sy was nog skaars ’n baksteen en ’n tiekie hoog, dan klim sy op haar ma, ’n musiekonderwyseres, se klavierstoeltjie om by die klawers by te kom. Vroegoggend se bederf was om by haar ma in te kruip en dan vir haar te sê: “Mamma, kom ons sing!” Op driejarige ouderdom, uitgevat in haar balletrokkie, kompleet met mikrofoon in die hand, het sy haar debuut in die openbaar gemaak … sonder enige verhoogvrees, en “Slaap my kindjie” gesing. Dit is Sonja Herholdt. Vandag, 70 jaar later, sing sy steeds en bly dit vir haar lekker om voor mense op te tree … die enigste verskil is sy doen dit nie meer in ’n tutu nie.
“Musiek. Om op te tree. Dit is wat my laat tiek!”
Afrikaans.com het heerlik met Sonja gesels oor die beginjare, die oppe en affe van die lewe en oor die mens wat sy vandag is.
Sonja vertel dat die liedjie wat haar bekend gemaak het, “Ek verlang na jou”, ’n lang aanloop gehad het tot in die Gordon Vorster-fliek “Sara”, waarna dit as ’n Solo 7-plaat vrygestel is en oornag ’n treffer geword het. Dit was ook die liedjie wat in 1975 aan haar ’n Sarie-toekenning vir Beste sangeres van die jaar, besorg het. Jan de Wet wat die liedjie geskryf het, het die Sarie ontvang vir Liedjie van die jaar.
“Ek het toe nog skoolgehou en nie gedink die liedjie sou so bekend word nie. Ek het ook nie gedink ek kan eintllik sing nie. Alles het so vinnig gebeur. Dit was opwindend, maar ook oorweldigend. Toe die navrae vir optredes begin inkom, kon ek nie my volle aandag aan skoolhou gee nie en dit was werklik vir my ’n dilemma, maar my skoolhoof destyds, mnr. Grobbelaar, se woorde was die keerpunt toe hy gesê het: ‘Sonja, jy gaan meer mense bereik as net kinders in jou klas.’ Nou ja … toe het ek maar gaan sing.”
Na die sukses van “Ek verlang na jou” kon sy kies wat sy wou sing, maar noem dat sy nie tevrede was met die musiek wat die platemaatskappy haar aangebied het nie. Op daardie tydstip het haar en Anton Goosen se paaie gekruis en dit was sy oorspronklike en vars musiek wat haar bekoor het.
“Toe ek die eerste keer ‘Jantjie’ gehoor het, het ek geweet dit gaan ’n treffer wees.”
“Daarna het Anton die een treffer na die ander vir my geskryf en het dit vir my gevoel asof hy nét vir my skryf. Ek kon sy musiek voel en vertolk en dit regtig myne maak. Anton se musiek het mense se harte geraak en dit was voorwaar ’n goue era vir my en Anton.”
Die lewe gebeur en Sonja se eerste kind, Claudi, is in 1982 gebore. Sy was sewe maande oud toe Sonja weer volstoom moes begin werk, maar sy het saamgetoer, want “ek het haar steeds geborsvoed. Op ’n kol het ek haar voor my in ’n babadrasak vasgebind en so gesing.” Teen die tyd wat die ander kinders gebore is, was Sonja en FC betrokke by ’n geestelike bediening en het hulle die kinders oral saamgeneem. Eers met hulp agter die verhoog en later, toe hulle groot genoeg was, het hulle saamgesing op die verhoog. Sonja vertel dat die kinders eintlik baie maklik daarby aangepas het, en dat dit hulle wel selfstandig gemaak het. “Ek was die streng een wat die dissipline moes toepas, maar ek het tog altyd probeer om hulle veilig te laat voel.”

Groei en vernuwing deur Reconstructing Alice
Na ’n ingrypende motorongeluk en ’n huwelik van 21 jaar, is Sonja en FC Hamman geskei. ’n Traumatiese tyd in haar lewe. Sy moes oor begin as enkelouer en met die verantwoordelikheid van vier kinders.
“Ek moes die lewe konfronteer en Reconstructing Alice was my storie. Ek het besef ek het iets om te sê en baie vroue het hiermee geïdentifiseer.”
Dit was nie ’n kommersiële album nie en het nie geld gemaak nie, want haar konserwatiewe mark het dit glad nie verstaan nie, vertel sy, maar dit was iets wat sy vir haarself gedoen het omdat sy dit nodig gehad het en dit genesend was.
“Dit was ’n groei en vernuwing in myself en in my musiek. Lank daarna het ek uitgevind vir hoeveel mense hierdie album wel iets beteken het. Dit was goed om te weet.”
Sy moes noodgedwonge terugkeer na haar “wortels”, want die mense wat haar al die jare ondersteun het, kon hulle nie met die “nuwe” Sonja vereenselwig nie. “Die platemaatskappy het dit ook nie reg bemark nie en as enkelouer moes ek kies, want ek moes oorleef.”

Enigiets waaroor jy spyt is?
“Ek sou vir seker beter verantwoordelikheid wou neem vir my finansies en dit nie in die hande van ander wou los nie. As ek toe geweet het wat ek vandag weet, sou dit met my finansieel beter gegaan het.” Sy sê gelate dat groei maar meestal deur pyn plaasvind en ”as dit nie daarvoor was nie, en die lesse wat ek geleer het nie, was ek nie die mens wat ek vandag is nie – so alles het maar ’n doel.”
Sou jy nuwe liedjies wil vrystel?
In 2019 het Sonja die liedjie “Net vir jou” vrygestel wat op al die SM-platforms gehoor kon word en het ook in 2025 saam met haar seun, Simeon Hamman, ’n duet (“La Vie En Rose”) op sy album “Alles” gesing. Simeon sing in Frans en Sonja in Afrikaans met ’n weergawe van “Ek verlang na jou” wat die musikant, komponis en vervaardiger Mauritz Lotz op ’n besondere en vars manier verwerk het en daarby ingewerk het.
Sê Sonja: “Ja, ek sal graag nuwe musiek waarmee ek kan identifiseer en wat vir my reg is op hierdie stadium van my lewe wil opneem en vertolk, want dit laat my tiek.”
Wat beteken jou geloof vir jou?
Sonja sê dat sy nog altyd ’n kinderlike geloof gehad het wat haar deur die hoogte- en laagtepunte van haar lewe gedra het. Vir haar was dit werklik ‘n wedergeboorte. “Ek is so bewus van die genade wat ek ontvang. Dit bly maar my hoop vir die toekoms, vir my lewe nou en my behoud.”
Gaan jy aanhou sing?
“Ja, ek het nog ’n passie om te sing. En solank dit sinvol is en ek nog ’n bydrae kan lewer, sal ek bly optree. Dis vir my terapie. Hulle sê mos mense in die musiekbedryf word nie ouer nie – en dit alleen is ’n goeie rede om aan te hou. Buitendien, om dit saam met Mike (haar man) te doen, is net ’n blessing.”

Voor: Sonja, Mike en Simeon. Agter: Timothy, Jessé en Claudia.
Hoekom werk jou en Mike se verhouding so goed, afgesien van die ouderdomsverskil?
Sonja sê met oortuiging dat dit werk omdat hulle dieselfde geestelike instelling en oortuiging het en sy dit beskou as die gom wat alles aanmekaar hou. “Ek kan Mike met my lewe vertrou. Ons stap al 30 jaar op ons pad en dit was met tye baie uitdagend, veral toe die kinders almal in die huis was, maar hy is werklik my sielsgenoot. Soos ons ouer word, verstaan ons mekaar net beter en hy verstaan my soms beter as wat ek myself verstaan.
“Destyds was dit vir almal ’n aanpassing, veral na die egskeiding. Mike het egter nooit die plek van die kinders se pa probeer inneem nie en het inteendeel ’n volwasse ruimte probeer skep – iemand op wie ons almal kon vertrou. Die kinders het dit mettertyd besef en dit ook later bevestig met persoonlike briefies aan hom.”
Hoe sou jy jouself beskryf?
“Ek is naïef – dalk nie vandag meer so baie soos in die verlede nie – goedgelowig, eerlik en opreg. Ek kan kwesbaar wees, maar glo in vasbyt en deurdruk. Ek is ook sonder pretensie en beslis nie ’n prima donna nie! Dalk tot my nadeel, want dit lyk asof die prima donnas in die bedryf soveel ernstiger opgeneem word. Maar ja, ek is wie ek is – wat jy sien, is wat jy kry.”
Jy is sonder twyfel ‘n lewende legende. Hoe sou jy eendag onthou wil word?
“Dat ek ’n verskil in mense se lewens gemaak het. As mense om my gelukkig is, is ek gelukkig.”
*Afrikaans.com bedank Sonja Herholdt vir haar tyd en lekker gesels. Sonja. mag ons nog lank die voorreg hê om jou musiek en menswees te geniet.
Luister hier na Sonja Herholdt en Simeon Hamman se weergawe van “La Vie En Rose” in Frans en Afrikaans en met ’n besondere verwerking deur Mauritz Lotz van die ikoniese “Ek verlang na jou” wat met die liedjie verweef is. Hierdie duet is op Simeon se album “Alles” (kyk op Spotify vir die hele album) beskikbaar.







