Skrywer: Anja van den Berg
Of sy nou met gesag die nuus lees, of met sprankel Saterdae se radiogolwe laat gons, Sue Pyler-Slabbert se stem is sinoniem met professionaliteit.
Maar agter die mikrofoon skuil daar ‘n vrou wie se hart diep in die Noord-Kaap en die Tuinroete geanker is; ‘n self-erkende huishen wat stilte bo ‘n gekletter verkies en glo dat Afrikaans sy staanplek in elke dialek moet volstaan. Ons het gesels oor haar wortels, die kantelpunt wat haar van medies na drama laat swaai het, en hoekom sy eerder van ‘mango’s’ as ‘veselperskes’ praat.
As jy jou kinderdae in drie woorde kon omskryf, wat sou dit wees?
Besig, sorgvry en definitief leersaam.
As jy terugdink aan jou kinderdae in George, watter sintuie staan vir jou uit?
Omdat ek nou in Johannesburg woon, mis ek die absolute vars lug waarmee ek grootgeword het. Jy besef eers wat vars lug eintlik beteken wanneer jy teruggaan. Daar’s darem maar min dinge in die wêreld wat by die Tuinroete kan kers vashou! Jy’t berg én see onmiddellik tot jou beskikking. Die kleur groen is ook net anders daar, dis vir my die enigste ordentlike kleur groen. Maar as ek praat van George, strek dit vir my vanaf Kleinkrantz aan die een kant en Mosselbaai aan die anderkant. Klein Brakrivier, Groot Brakrivier, Suiderkruis, Hartenbos… dis alles vir my huis.
Vertel ons van jou skooldae. Was daar ’n spesifieke onderwyser wat jou talent eerste raakgesien het?
Ek was in drie verskillende skole op George. In Laerskool George-Suid was juffrou Rademeyer my graad 1-juffrou, en juffrou Roux my graad 2-juffrou. Hulle was my heroes! Ek het later jare teruggegaan om foto’s saam met hulle te neem en hulle was nog steeds by die skool. Juffrou Roux het altyd vir ons Liewe Heksie-stories gelees, en sy kon Verna Vels só goed namaak.
Ek wou ook so graag in die koor gesing het (al kon ek nie regtig noot gehou het nie!) en juffrou Hattingh het dit vir my moontlik gemaak. Ek het netbal probeer, maar ek kon glad nie ‘n bal vang nie.
In Laerskool Outeniqua het ek toe begin met redenaars. Die kinders het altyd gevra of ek eerste kan praat. Ek moet eerlik wees:
Ek het nooit vir mondeling voorberei nie, ek het on the fly iets uitgespoeg, maar het altyd die hoogste punte gekry! Ek wou net voor mense praat.
Later, as hoërskoolleerling by Hoërskool Outeniqua, het die drama-onderwyseres, juffrou Louise, my potensiaal raakgesien. Sy’t my in graad 11 gevra of ek kon help met ‘n produksie vir die George Arts Festival. En daar wen ek die toekenning vir Beste Ondersteunende Aktrise! Juffrou Louise sê toe: ‘Jy weet wat dit beteken, nè? Jy gaan nou in my klas moet wees.’ Na ‘n paar maande van dramaklasse skryf juffrou Louise my toe in vir die Nasionale Toneelspelkompetisie wat jaarliks by die Kunstekaap gehou word. En daar stap ek weg as die wenner. Dit het my lewe drasties verander.

Jy het aanvanklik ’n loopbaan in die mediese veld oorweeg.
Wat was die “kantelpunt” vir daardie besluit?
Om die Nasionale Toneelspelkompetisie te wen was seker die kantelpunt, maar die besluit was eintlik gedryf deur ‘n klomp klein dinge. Op hoërskool was ek nog vasbeslote om medies te gaan studeer en het al die regte vakke daarvoor gekies. Ek het selfs ‘n beurs gekry by die Noord-Wes Universiteit in Potch. Dit was vir lank my droom om ‘n pediater te word, maar vandag weet ek nie of ek dit sou gemaak het as ‘n dokter nie!
Omdat ek die toneelspelkompetisie gewen het, het ek ‘n kameerol in Binnelanders gekry. Ek moes dit in my matriekjaar, twee weke voor die matriekeksamen, gaan skiet. Deel van die prys was ook die geleentheid om in ‘n produksie te speel wat by al die kunstefeeste op die planke sou wees.
Ek het my beurs opgegee en by die plaaslike gemeenskapstasie Eden FM gaan aanklop om tussen kunstefeeste meer oor die vermaaklikheidsbedryf te leer. Daar het ek onmiddellik verlief geraak op radio! Die koeël was spreekwoordelik deur die kerk.

As stemkunstenaar en oorklankingsregisseur moet jy ’n hele wêreld skep deur net klank te gebruik.
Wat is die grootste uitdaging om ’n karakter te laat leef sonder visuele hulpmiddels?
In 2020 het Henrietta Gryffenberg gevra of ek sou belangstel in oorklanking. Sy’t my genooi vir ‘n oudisie, en daar kry ek die hoofrol! Die feit dat ek radioagtergrond gehad het, het baie in my guns getel. Ek het toe al ervaring in radiodramas gehad, en oorklanking is baie eenders. Jy moet net jou stem in die lyf en lippe van iemand anders sit wat reeds sigbaar is. Jy kan speel met jou stem, dalk vir die karakter ‘n lispel gee. Die grootste uitdaging is dat die lyf wat bestaan en die stem wat jy vir hom gee, geloofwaardig moet wees.
Jy het vroeg in jou loopbaan onder mentors soos Marthinus Basson gewerk.
Wat is die één stuk “teater-wysheid” wat hy jou gegee het wat jy vandag nog onbewustelik gebruik?
Marthinus se regiestyl was vir my absoluut fassinerend. Hy kyk nie na jou in repetisies nie. Hy sit en teken terwyl jy besig is om jou hart uit te speel op die vloer. Hy kyk nie op nie – hy teken in sy boek, en hy luister na wat jy sê. Maar as iets nie reg klink nie – die ritme, die klem, die timing – dan sal hy jou stop en opkyk en sê: ‘Kom ons gaan terug.’
Dit het my baie gehelp met enige vertolking wat ek doen, en selfs met my radiowerk. Jy moet die waarheid weergee, want ‘n luisteraar kan hoor wanneer jy aansit. Hulle hoef jou nie te sien nie, hulle kan hoor wanneer jy die dag af is of nie jouself is nie. Dieselfde geld vir toneelspel. My lektor het eendag vir my gesê: ‘Sue, jy’s nou besig om te act. Moenie act nie.’ Ek probeer altyd die egtheid en waarheid van die oomblik deur my stem te laat deurkom.
Mense ken jou as die gesaghebbende stem van die nuus, maar ook as ‘n energieke aanbieder.
Hoe lyk daardie ‘geestelike gedaanteverwisseling’?
Ek het ook TV-nuus gelees en dis nou vir jou ‘n ding! Dis só anders as om nuus op radio te lees. Op TV is jy niemand se vriend nie, dis net ‘n kanaal waardeur inligting deurgegee moet word. Jy kan nie bewoë of emosioneel betrokke raak by jou stories nie. Jou stem moet geloofwaardig, gesaghebbend en betroubaar wees. Maar as ek ‘n program aanbied, daarteenoor, kan ek dit met ‘n stem doen wat ék is, selfs al praat ek oor die petrolprys. Ek’s net myself en sal sommer vir die luisteraars sê as ek vandag ‘n bietjie oor my woorde val. Ek’s eerlik met hulle. Mense is dan meer vergewensgesind en toegeeflik, want hulle verstaan ek’s ook net mens.
As jy een kant van jou persoonlikheid moes kies wat die publiek nooit sien nie, watter een sou dit wees?
Mense weet nie hierdie van my nie, maar ek’s eintlik ‘n huishen. Ek was vir jare ‘n sosiale vlinder, maar dis vir my die lekkerste om huis toe te kom. Ek herlaai my batterye by die huis, asem uit.
Ek’s eintlik ‘n baie stil mens by die huis.
Ek word betaal om te praat, en ek geniet dit. Maar by die huis hou ek van stilte, dalk net musiek in die agtergrond.
Slaap is vir my een van die lekkerste dinge in die lewe.
Ek slaap in sarsies! Daar’s min dinge wat vir my soveel genot gee soos ‘n slapie. Ek sal sommer sesuur saans in die bed klim maar dan middernag weer wakker word. Dan doen ek admin en kyk TV tot vieruur in die oggend … en dan slaap ek weer tot sesuur. My honde kla glad nie oor al die lekker inlê nie.

Watter deel van jou werk agter die skerms gee vir jou die meeste sielsvreugde?
Ek’s mal daaroor om verafgeleë plekkies te besoek wat nie altyd op die map is nie. Ek het my man, Franco, so ontmoet op Carnarvon in die Noord-Kaap, in die middel van nêrens. Elke keer wat ek huis toe ry, kies ek my pad versigtig sodat ek op klein plekkies kan stop en hopelik ‘n bydrae kan lewer. Dit hoef nie altyd geldelik te wees nie; dalk help ek net ‘n kind wat ‘n optrede doen met praktiese raad. Dit maak my hart gelukkig, want daar was baie mense op my pad wat my ook gehelp het.
Watter “mislukkings” uit jou loopbaan sien jy vandag as noodsaaklike hoekstene?
Ek noem dit nie mislukkings nie, eerder leerfasette. Een van die grootste lesse is dat mens nie altyd vir alles toestemming hoef te vra nie. Ek het so baie geleenthede laat verbygaan omdat ek vir die verkeerde mense toestemming gevra het wat nie noodwendig goeie intensies gehad het nie.
Lizz Meiring het byvoorbeeld vir my verduidelik dat ‘vryskut’ beteken jy’s gekontrakteer vir die tyd waarvoor jy betaal word. Jy hoef nie over and above te gaan tot die punt wat dit jou benadeel nie.
Ek moes ook leer wat my personal brand is, en dat ek nie altyd dieselfde ‘hoed’ vir elke gehoor dra nie. Toe ek byvoorbeeld gereeld vir Franco op Carnarvon gaan kuier het, het die mense daar my nie as Sue van RSG geken nie. Hulle het my geken as die karakter Defne, van ‘As die skoen pas’, ‘n oorklankstorie wat ek gedoen het. Selfs al kan ‘n mens baie titels regverdig – skrywer, regisseur, stemkunstenaar – het mens nie altyd die luuksheid om te verwag om met elke liewe titel voorgestel te word nie. Solank jy net weet wie jý is.
Wat is die grootste verantwoordelikheid van ’n moderne omroeper teenoor Afrikaans?
Die grootste verantwoordelikheid is om Afrikaans, met al sy verskillende baadjies, te práát. Elke ‘tipe’ Afrikaans het sy staanplek. Daar word van omroepers verwag om Standaardafrikaans te praat, en dis vir my aanvaarbaar. Maar partykeer moet jy ook praat soos wat die mense praat.
Baie keer in oorklanking wil daar te veel ‘korrekte’ Standaardafrikaans gepraat word, dan sê ek, ‘Die gehoor gaan nie die woord ‘plekspykertjie’ gebruik nie. Hulle sê, stuur vir my jou pin location’. Ek weet dis Engels, maar wie gebruik nou regtigwaar die woord plekspykertjie?
Jy moet praat in ‘n taal wat jou gehoor praat as jy ‘n boodskap korrek wil oordra.
In my huis het ons nooit van veselperske of koekstruif gepraat nie, dit was mango en trifle. Kom ons probeer plooibaar wees teenoor mekaar, want alle taalgebruik gaan oor menslike interaksie.







