Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Tracey Lange het min bekendstelling nodig. Loop sy ’n vertrek binne, is dit asof die son skielik sy kop uitgesteek het, selfs op die mees triestige dag. En daai lag! Kop agteroor, uit die maag uit. Afrikaans.com wou meer weet van hierdie sonskynmens en het per e-pos met Tracey gesels.
Tracey vertel dat sy rustig en vredevol in Somerset-Wes grootgeword het en al was haar ouers streng, was hulle liefdevol. Sy het geen idee gehad wat sy wou studeer na skool nie, maar danksy haar ma se aanmoediging het sy doodeenvoudig by ’n regsfirma gaan aanklop en ontvangsdame geword. Die pos het vinnig vlerke gekry en gelei na invorderingsekretaresse, aktes en toe na ’n groter firma waar sy ’n ontwikkelaar ontmoet het wat haar die geleentheid gegee het om sy ontwikkelings te hanteer. Dit was juis hierdie einste ontwikkelaar wat haar aangeraai het om minder ernstig oor alles te wees en sommer net pret te hê. Tracey het sy raad gevolg en oor naweke ’n TV-kursus in Johannesburg gevolg, daarna het sy by ’n gemeenskapsradiostasie ingeval en so algaande haar pad gevind. Eers as nuusleser by Good Hope FM en toe as gasaanbieder op Pasella. Toe, in 2012, kom Bravo!, aanbieder op SmileFM, toe HeartFM en natuurlik Dancing with the Stars SA en as verdere uitvloeisel, Kfm94.5, Tussen Ons en Studio 3. Maar, beaam Tracey, dit was beslis die leefstylprogram Bravo! wat van haar ’n huishoudelike naam gemaak het.
Tracey kan nie kies tussen radio en TV nie.
“Wanneer ek radio doen, is dit my gunsteling. Wanneer ek TV doen, is TV my gunsteling. Ek geniet albei verskriklik terwyl ek dit doen.”
Maar of sy nou uitsaai of op TV verskyn, Tracey Lange vind aanklank by haar luisteraars en kykers en haar programme is deurgaans gewild. “Ek probeer nie praat asof ek aanbied nie en vergeet van myself. Ek is nie die belangrike een nie, my gas is. Ek het ook altyd ’n glimlag op my gesig as ek aanbied en dis vir my belangrik dat luisteraars gemaklik in my geselskap voel, al is ek nie noodwendig reg langs hulle nie.”
Tracey is pragmaties oor haar hantering van die publiek wanneer hulle wil hallo sê as hulle haar êrens raakloop. “Suid-Afrikaanse mense is bitter gaaf en vriendelik en geniet die feit dat hulle jou in lewende lywe sien. Wanneer hulle egter nie verstaan dat ’n begrafnis of enigiets soortgelyk nie noodwendig die plek is vir ’n selfie nie, trek ek maar die lyn – uit respek vir die betrokkenes.”
Min dinge kry haar onder en selfs wanneer sy so nou en dan ’n af-dag het, laat sy nie toe dat dit haar dag bederf nie. “Ek is te dankbaar om te lank af-dae te hê. Ek is baie goed daarmee om dinge eenkant toe te skuif en nie my buie op ander mense uit te haal nie. Ek is dalk hartseer, maar die oomblik as ek buite stap of selfs net voëltjies hoor, dan besef ek net weer hoe dankbaar ek is.”
Maar hoe kry sy dit reg om so gemotiveerd te bly, selfs onder moeilike omstandighede?
“Doen net! Hou op oordink. Maak jou daaglikse lys en DOEN! Mense dink heeltemal te veel en doen heeltemal te min.” Aldus Tracey.
Sy glo haar resep om al die balle in die lug te hou te midde van ’n baie besige skedule, het baie te doen met haar selfmotivering en dissipline. “Ek DOEN! Ek los nooit iets vir môre wat ek vandag kan klaarmaak nie. Ek mors nie tyd nie en haat dit om in werkstyd net rond te sit en te gesels. Ek werk wanneer ek moet werk en rus wanneer ek moet rus – mens moet streng wees daarmee.”
Sy vertel dat haar man, Avukile, haar bekendheid eenvoudig aanvaar en nie te veel aandag daaraan gee nie. “Hy is self baie bekend in die sirkels waarin hy beweeg. Ek was eendag in die Van Gogh-museum toe iemand my op die skouer tik en vra: ‘Is jy nie Avukile se meisie nie? Is hy hier êrens?’”
Tracey kyk met sagte oë en ’n sagte hart na haar medemens en is daarom betrokke by talle liefdadigheidsprojekte. Vir haar kom dit uit die dankbaarheid vir wat sy het en die besef dat alles wat sy het net genade is. “My ouers kom uit moeilike omstandighede, maar hulle ouers het altyd ander mense gehelp as dit nodig was – en so ook my ouers. Niks wat ons het is as gevolg van onsself nie.
Dis ALLES genade van bo. Ons het ’n verantwoordelikheid om te help waar ons kan.”
Tracey by die huis – daar tussen haar hartsmense, is maar die Tracey wat ons op die kassie of in die openbaar sien, maar sê sy: “By die huis het ek net baie meer direkte opinies oor onregverdigheid. Bitter baie gesprekke oor genade, dankbaarheid en hoe ons niks as vanselfsprekend moet aanvaar nie.”
Rustigheid en die wete dat sy alles wat sy in ’n dag wou klaarmaak, wel afgehandel het, maak hierdie pligsgetroue werker gelukkig.
Tracey beskryf haarself as ’n stil Afrikaanse meisie, afgesien daarvan dat haar openbare beeld ’n prentjie skets van ’n energieke, gulhartige glanspersoon wat mense betower met haar optimisme. Hoe versoen sy die stil Tracey met die openbare Tracey? “Mense dink iemand wat stil is, is iemand wat nie met mense oor die weg kan kom nie. Stil in my situasie is iemand wat baie rustig en gemaklik in haar eie geselskap is en geen vrees het vir alleen wees nie. Ek stel nie belang in partytjies en groot dinge nie en het dit ook nie nodig om tevrede te voel nie. Ek geniet die stilte, in my eie geselskap en met my eie gedagtes. Dis ook hoe ek herlaai.” Dit is juis omdat sy haarself toelaat om te herlaai dat sy gemaklik kan wees met mense en hulle die beste van haarself kan gee as sy saam met hulle is.
Party mense sal dit dalk as goedgelowig of naïef bestempel om altyd die beste van mense te glo en raak te sien. Tracey reken egter dat al stel mense haar soms teleur, dit nie haar taak of plek is om hulle tereg te wys of te oordeel nie en dat hulle dit self eendag met God sal moet uitklaar.
“Alles is ’n les en as hulle my teleurstel, is dit in God se plan.”
Hoe sy eendag onthou wil word? “As iemand wat altyd die beste van elke geleentheid gemaak het, nie gewag het totdat iets sleg gebeur voordat ek besef het hoe kort die lewe is nie en dat materiële dinge glad nie vir my belangrik was nie.”
Sy beskryf haarself as iemand wat nie tyd het om te mors nie, glad nie belangstel in luiheid of mense wat nie verantwoordelikheid vir hulleself aanvaar nie.
Afrikaans is haar moedertaal, maar haar man is Xhosa. Daarom praat hulle Engels by die huis, maar lag sy ondeund, “as ons oorsee is, skinder ons in Afrikaans. Ek verstaan darem ’n bietjie Xhosa.”
Blitsvrae:
Oggend- of aandmens? Beide, dit hang af van wat op daardie tyd gebeur!
Koffie of tee? Beide
Iets oor haarself wat lesers dalk nie geweet het nie? Ek is deksels goed met strykwerk!
Gunstelinge …
Boek: The power of positive thinking.
Fliek: Crazy Rich Asians of ander rom-koms.
TV-program: Big Bang Theory.
Musiek: Enigiets waarmee ek kan saamsing.
Ideale vakansie? Enige plek waar my man is. As hy daar is, is alles pret.
Bronne en lees ook:
Tracey Lange op ’n drafstap | rooi rose







