Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Dispraksie: Wanneer jou kind skynbaar lomp is, nie veters kan bind nie of sukkel om ’n bal te vang …
Dispraksie (dyspraxia in Engels), ook bekend as ontwikkelingskoördinasieversteuring, is ’n neuro-ontwikkelingstoestand wat in die kinderjare begin en veroorsaak dat die kind probleme met motoriese (beweging) en koördinasievaardighede ondervind. Ongeveer 6% van kinders word hierdeur geraak. Hoewel die toestand nie genees kan word nie, kan arbeidsterapie die kind help om hierdie uitdagings die hoof te bied. (Vir die doeleindes van die artikel, fokus ons slegs op kinders, maar sien gerus ‘n skakel onderaan om meer te leer oor dispraksie in volwassenes.)
Navorsers is nie seker oor die presiese oorsaak van dispraksie nie, maar die uitvoering van gekoördineerde bewegings en motoriese vaardighede is ‘n komplekse proses wat baie verskillende senuwees en dele van die brein behels. Enige haakplek in hierdie proses kan potensieel lei tot probleme met beweging en koördinasie. Dit lyk wel of babas wat vroeg gebore word en veral voor 32 weke, meer geneig tot dispraksie kan wees. Ook babas met ’n lae geboortegewig (minder as 1,8 kg) kan geraak word. ’n Familiegeskiedenis van ontwikkelingskoördinasieversteuring blyk ook in sommige gevalle ’n sneller te wees. Nog ‘n oorsaak kan wees as die swanger ma alkohol en/of onwettige dwelmmiddels gedurende haar swangerskap misbruik het.
Afrikaans.com het gaan oplees en deel graag die volgende as bewusmaking van hierdie toestand:
Wat is die simptome?
Die kind sukkel met:
- Vroeë ontwikkelingsmylpale soos kruip, loop, om self te eet en aan te trek.
- Teken, skryf en sportdeelname en presteer swakker as hulle eweknieë.
- Koördinasie en motoriese vaardighede. Die meeste kinders toon reeds tekens van dispraksie op ‘n vroeë ouderdom, maar omdat kinders se ontwikkelingstempo verskil, kan ’n definitiewe diagnose eers gemaak word teen die tyd dat hulle skool toe gaan (5 jaar en ouer). Omdat daar ook ligter vorms van die toestand teenwoordig kan wees, is dit soms moeiliker om raak te sien.
Babas en peuters
- Verwagte ontwikkelingsmylpale is vertraag, bv. jou kind neem dalk langer om om te rol, te sit, te kruip of te loop.
- Jou kind kan ook sukkel om met speelgoed te speel wat goeie koördinasie verg – soos om bekertjies opmekaar te stapel. Sommige kinders sukkel ook om met lepels en vurke te eet.
Ouer kinders
- Sukkel om trappe te klim – op en af.
- Het balansprobleme – loop vas in voorwerpe, val gereeld of blyk lomp te wees.
- Sukkel met sport en aktiwiteite, soos om fiets te ry, te spring, ‘n bal te vang, te gooi of te skop. Dit kan daartoe lei dat hulle nie wil deelneem nie, juis omrede hulle met hulle koördinasie sukkel.
- Sukkel om te skryf, te teken, in te kleur en ’n skêr te gebruik.
- Sukkel om self aan te trek, knope en veters vas te maak en tande te borsel.
- Is rusteloos en swaai en beweeg hulle arms en bene gereeld.
Hierdie kinders voel dikwels gefrustreerd en omdat hulle so sukkel, vermy hulle aktiwiteite en oefening wat weer tot oorgewig kan lei.
Diagnose
Afrikaans.com wil ouers aanraai om nie selfdiagnoses te maak nie, maar liewer ’n kundige te raadpleeg, juis omdat dispraksie maklik misgekyk kan word en ouers ook dikwels geneig is om die ontwikkeling van hulle eie kind met die van hul vriende se kinders te vergelyk ten spyte daarvan dat kinders verskil en teen verskillende tempo’s ontwikkel. Buitendien is daar ook nie mediese toetse wat dispraksie met sekerheid kan diagnoseer nie.
Terwyl baie mense verwys na dispraksie, is mediese kundiges geneig om liewer te praat van ontwikkelingskoördinasieversteuring (DCD in Engels) of spesifieke ontwikkelingsteuring van motoriese funksie (SDDMF in Engels). Die rede hiervoor is dat die term dispraksie verskeie betekenisse kan hê. Byvoorbeeld, dispraksie kan gebruik word om bewegingsprobleme wat later in ’n persoon se lewe voorkom weens breinskade, te beskryf, soos na ’n beroerte of hoofbesering.
Die toestand moet ook verkieslik deur ’n span kundiges gediagnoseer word wat elkeen spesifieke kriteria vir die toestand sal ondersoek, soos byvoorbeeld jou kinderarts, ’n arbeidsterapeut, kindersielkundige en ’n pediatriese neuroloog.
Die span sal jou kind se groot- en fynmotoriese vaardighede, koördinasie en balans, asook jou kind se verstandelike vermoë assesseer om te bepaal of dit binne die verwagte omvang van hul ouderdom is. Natuurlik moet serebrale verlamming of spierdistrofie ook uitgeskakel word.
Die volgende kriteria bepaal ’n diagnose:
- Die kind se motoriese vaardighede is aansienlik onder die verwagte vlak volgens sy ouderdom.
- Hierdie gebrek aan motoriese vaardighede en koördinasie beïnvloed die kind se daaglikse aktiwiteite en prestasies op skool.
- Simptome van dispraksie het reeds vroeg in die kind se ontwikkeling kop uitgesteek.
- Die kind se probleme met motoriese vaardighede word nie veroorsaak deur ander mediese toestande nie.

Behandeling
Verskillende terapieë is aangewese, soos arbeidsterapie om hulle motoriese vaardighede en koördinasie te verbeter. Hoewel dispraksie nie die kind se intelligensievlak affekteer nie, kan hulle dit moeiliker vind om te leer en sal hulle dalk ekstra hulp nodig hê om nie agter te raak op skool nie.
Elke kind verskil, daarom word ’n pasgemaakte behandelingsplan voorgestel wat nie net hul fisieke probleme kan verbeter nie, maar ook hulle selfvertroue ’n hupstoot kan gee.
Taakspesifieke behandeling is dikwels suksesvol omdat dit daardie spesifieke take waarmee jou kind sukkel behandel, hetsy met spesifieke oefeninge of om ‘n spesiale katoeter aan hulle penne of potlode vas te maak sodat hulle dit makliker kan vashou om hulle greep te verbeter.
Die kind kan geleer word om die aktiwiteite wat hulle moeilik vind om te bemeester anders te benader, soos om die moeilike bewegings in kleiner dele af te breek en hulle dan gereeld te oefen. Party kinders sal geleidelik soos wat hulle ouer word hanteringstegnieke ontwikkel sodat die toestand minder problematies raak.
Probleme op skool – veral ten opsigte van geskrewe werk – kan egter meer prominent raak en so ‘n kind sal ekstra hulp van ouers en onderwysers nodig hê.
Ander toestande wat dikwels saam met dispraksie voorkom of met van die simptome ooreenstem is:
- Aandagafleibaarheid-/hiperaktiwiteitversteuring. (Ongeveer die helfte van kinders met dispraksie ly ook aan AAHS (ADHD).
- Taalontwikkelingsprobleme
- Disgrafie – ’n neurologiese toestand en leerverskil waar kinders probleme ondervind om volgens hul onderdomsvlak te skryf. Dit kan insluit om bloot te sukkel om te skryf tot probleme om hul denke in geskrewe woorde om te skakel.
- Geestesgesondheidsprobleme, soos angstigheid en depressie.
- Kinders op die outismespektrum.
Wat kan jy as ouer doen?
- Wees daar vir jou kind, ondersteun hom tuis, by die skool en soos wat hulle grootword en maak seker jy het begrip vir die uitdagings waarmee hulle elke dag te make het.
- As jou kind spesiale onderrig moet ontvang, kan jy verseker wees dat daar vir hom ’n individuele onderrigprogram ontwikkel sal word.
- Sien toe dat jou kind die regte terapie ontvang, hetsy om te leer skryf of om uiteindelik ‘n motor te bestuur.
- Onthou om jou kind aan te moedig as hy nuwe mylpale in sy motoriese en koördinasievaardighede bereik.
- Werk saam met die terapeut en help jou kind deur byvoorbeeld vir hom skoene sonder veters en dalk eerder met Velcro aan te skaf.
- Gesels met die skool/onderwysers – dalk kan jou kind sy antwoorde tik in plaas van neerskryf.
Om saam te vat
Howel dispraksie nie genees kan word nie, is dit ’n toestand wat met die regte terapie en begrip bestuur kan word. Benader elke geval op sy eie, maak aanpassings, doen goed anders – op die ou end sal jou kind die meeste take en aktiwiteite kan baasraak – maar net teen sy eie tempo. En dit wat onmoontlik is, en tot angs en depressie kan lei? Los dit en moedig jou kind aan om iets anders te doen wat hy wel kan baasraak. Ons hoef nie almal eenders te wees nie.
Bronne:
Dyspraxia: What It Is, Causes, Symptoms, Diagnosis & Treatment
Dyspraxia in Children: A Quick Guide
Developmental co-ordination disorder (dyspraxia) in children – NHS
Meer oor dispraksie by volwassenes – DCD in adults.
Kyk ook:
Die volgende video’s is in Engels, maar verduidelik dispraksie vir die leek.







