Persverklaring
MOS-Wêreldwyd brei aanlyn kurrikulum uit na grondslagfase vir graad R tot 3
Die MOS Inisiatief is opgewonde om aan te kondig dat ons gewilde aanlyn platform, MOS-Wêreldwyd, vanaf 2026 ook grondslagfaseleerders (graad R tot 3) sal akkommodeer. Hierdie uitbreiding is die volgende natuurlike stap in ons groei, vir ouers wat hul kinders se onderrig ernstig opneem.
Die wêreld verander vinnig. Waar is jou kind in 2040?
In ’n toekoms waar kunsmatige intelligensie (KI) al hoe meer as deel van die werksplek figureer, is dit noodsaaklik om reeds vroeg die regte grondslag te lê. Moedertaalonderrig, sterk geletterdheid, kritiese denke, basiese rekenaarvaardighede, kodering en robotika is nie net lekker-om-te-hê nie – dit is noodsaaklike boustene vir aanpasbare, denkende jong volwassenes.
Waarom brei Die MOS Inisiatief met die grondslagfase uit?
Sedert ons ontstaan in 2021, het ons ‘n stewige reputasie opgebou in die tuisskoolmark met graad 7 – 9, wat later deur sillabusse vir graad 4 tot 12 gevolg is – met IEB-eksamenaanbieding as bewys van ons akademiese gehalte.
Ons weet dat die grondslagfase die belangrikste ontwikkelingsfase in ‘n kind se skoolloopbaan is, en daarom brei ons nou met oorgawe uit na hierdie vestigingsfase.
Ons platform is die ideale oplossing vir:
- Ouers wat nie plek in bestaande skole kry nie.
- Gesinne op plase of klein dorpe waar onderwysopsies beperk is.
- Ouers wat meer betrokke by hul kind se leerproses wil wees.
- Huishoudings wat kwaliteit onderrig in hul moedertaal verkies.
Kodering en robotika vorm reeds deel van ons kurrikulum – en sal ook in die grondslagfase geïnkorporeer word, sodat leerders reeds vroeg aan sleutelvaardighede vir die toekoms blootgestel word.
Inskrywings vir graad R tot 3 open in Augustus 2025. Die aantal plekke vir 2026 is egter beperk. Om jou kind se plek op die waglys te bespreek, besoek asseblief http://www.mosww.co.za.
Die MOS Inisiatief – ons bou vandag aan môre se denke







