Skrywer: Seugnet van Zyl
Gedenkmunt vir Afrikaans 100
Afrikaans as amptelike taal het op 8 Mei vanjaar amptelik honderd jaar oud geword.
Die Afrikaans is 100-gedenkmunt vier ons moedertaal en laat die geskiedenis van Afrikaans leef.
Landon Coleske, projekbestuurder van die gedenkmunt en lid van die Bassani-veilingshuis se bestuur, sê hierdie unieke munte stel Suid-Afrikaners in staat om simbolies én tasbaar, ’n stukkie geskiedenis in besit te neem.
“Dit is nie bloot ’n muntstuk nie – dit is ’n huldeblyk aan ’n taal, ’n kultuur, ’n gemeenskap en ’n nasie se reis oor honderd jaar.”
Afrimunt (Edms) Bpk vier, in vennootskap met Bassani-veilingshuis en iTickets het vandeesweek die Afrikaans is 100-gedenkmunt bekendgestel.
“Die idee agter hierdie munt is om iets te skep wat ’n taal en sy mense vier – iets wat nie net mooi is om te besit nie, maar werklike waarde het. Elke element van die ontwerp dra betekenis en elke metaalkeuse dra ’n ander storie van waarde.
“Die Afrikaans is 100- munt is ’n simboliese eerbetoon aan Afrikaans se amptelike erkenning in 1925, en getuig van die taal se groei, veerkragtigheid en die onuitwisbare impak wat dit op geslagte gehad het. Elke munt word beskikbaar gestel in een van drie edelmetale – goud, silwer of brons – en kom in ’n stylvolle houer met ’n Sertifikaat van Egtheid,” sê Landon.
Volgens hom is hierdie gedenkmunt deel van ’n groter veldtog om bewusmaking te skep oor die waarde van kultuurerfenis en om die nuwe generasie aan te moedig om hul taal en geskiedenis te vier en te bewaar.
“Die een-ons goue munt bestaan uit 99.999%-suiwer goud, ’n standaard wat selfs die Krugerrand oortref. Vir versamelaars en beleggers beteken dit jy koop nie net geskiedenis nie, jy dra dit oor – saam met waarde wat kan groei.”
Die amptelike bekendstelling van die gedenkmunt vind binnekort plaas tydens ’n spoggeleentheid wat die ryk nalatenskap van Afrikaans sal vier. Dié viering sal bydraes insluit van Springbok-legendes, asook optredes deur geliefde Afrikaanse kunstenaars, ’n kombinasie van nostalgie, kultuur en viering.
As ekstra bederf ontvang die kopers van die 100 goue gedenkmunte elk twee kaartjies in die presidensiële losie vir die Afrikaans is 100 Jaar Groot-konsert ter waarde van R10 000, wat op 20 September 2025 by die DHL-stadion in Kaapstad plaasvind.
Hierdie eksklusiewe reeks gouee munte is volledige geakkrediteer deur SAAND – South African Association of Numismatic Dealers (https://www.saand.co.za/). Die persdrukvorm word vernietig ná vervaardiging, wat hierdie ‘n eenmalige belegging maak.
Slegs 100 goue munte is beskikbaar, elkeen met ’n unieke reeksnommer. Belangstellendes word uitgenooi om via iTickets (https://itickets.co.za/register/new/483361) of Bassani Veilingshuis (www.bassani.co.za) te registreer en op 29 Mei 2025 deel te neem aan die veiling vir hierdie unieke versamelstuk.
Silwer en brons munte gaan ook binnekort beskikbaar wees.







