Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Waldimar Pelser, M-NET se direkteur van Premium-kanale, is ’n besige man met klaarblyklik hope energie. Vandag is hy nog op kantoor in Johannesburg, môre woon hy ’n fees in die Kaap by, en as hy tussenin ’n kansie kry en die gier of reisgogga hom pak, klim hy vinnig op ’n vliegtuig Engeland toe, gaan kuier vir ‘n dag of twee by vriende, eet aandete in Londen en die volgende oggend loop jy hom dalk raak vir ontbyt in Amsterdam, net om later die middag Parys toe te vertrek – en dit alles binne agt dae. “My tweelingsuster sê nie verniet dat iets my jaag en dit die rede is dat ek sukkel om tot ruste te kom nie,” glimlag hy. Afrikaans.com het hom darem lank genoeg kon vaspen om te gesels.
Sy komvandaan in ’n neutedop
“‘n Man (Waldimar) met ’n kwiksilwer-brein, ‘n bondel energie wat vinnig leer.” – Tim du Plessis in Rapport, 2013.
Hierdie boorling van Kaapstad waar hy saam met sy tweelingsuster, Ingeborg, en jonger sussie, Zané, grootgeword het, se lewe het ’n paar draaie gemaak nadat hy in 1996 aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch gematrikuleer het. Na ’n BA-graad in Regte het hy in 2001 sy B.Phil Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch behaal, gevolg deur ’n M-Phil die volgende jaar. In 2004 behaal hy ’n M.Phil in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Oxford. Daarna was hy verslaggewer by Die Burger en ook senior verslaggewer by Beeld. In 2007 word hy Media24 se Wes-Afrika-korrespondent in Lagos, Nigerië en keer in 2009 terug Suid-Afrika toe as nuusredakteur by Beeld in Johannesburg. In 2013 word hy redakteur van Rapport en maak ook intussen sy buiging as TV-aanbieder in die program KN Verslag in Gesprek op kykNET. In 2022 word hy as kanaalhoof van kykNET aangestel en vroeg in 2023 word hy die kanaaldirekteur van M-Net se premiumkanale (dit sluit kykNET in). En … soos wat ’n mens nou al met Waldimar geleer het – ook hierdie uitdaging het hy met sy gewone doelgerigtheid en visie aanvaar en kan ons uitsien na nog ’n suksesverhaal, want op die ou end gaan dit vir hom daaroor om elke geleentheid wat oor sy pad kom aan te gryp.
Moenie die Afrikaanse gemeenskap vlak kyk nie!
“Jy moet mense soms bietjie laat regop sit, kanse vat met programme. Dis ook lekker om te leer verstaan waarna mense regtig kyk. Self het ek nog nooit so baie TV gekyk nie. Selfs my bloeddruk is laer.” – Waldimar Pelser (in gesprek met Hanlie Retief, Netwerk24, 20 November 2022)
Waldimar werk reeds jare lank meestal in Afrikaans. Iets wat maklik kom, want stories vertel in Afrikaans maak deel uit van wie hy is. Dit is hoekom dit vir hom so lekker is om deel te wees van die proses om Afrikaanse inhoud te skep – en om seker te maak dat die diverse inhoud wat geskep word van hoogstaande gehalte is. Vir hom is dit ook ’n manier om die besondere Afrikaanse talent in Suid-Afrika te ontgin – van wêreldklas akteurs, bekwame produksiespanne tot by die tegniese spanne wat behoorlik toor op stel. Juis daarom bly Waldimar positief en optimisties oor die toekoms van Afrikaans in die media, mits die veelsydigheid van die Afrikaanse gemeenskap nie onderskat word nie en die hele Afrikaanse gemeenskap en sy verskillende generasies in die breë gerespekteer en gekoester word.
As redakteur van Rapport (agt jaar en ses maande lank) – hy was die langsdienende redakteur ooit – het hy altyd probeer om goeie trou aan sy lesers te betoon. Want, sê hy: “Die eerste stap as jy in die media werk, is om deur jou redaksionele besluite respek te betoon aan jou lesersgemeenskap en om agting te hê vir wie en wat hulle is. Op daardie manier kan jy baie vermag, hulle vertroue wen en sal hulle jou ook meer geredelik vergewe as jy soms kritiese vrae vra of druk toepas.” Hy sê ook dat mens nie kan kant kies nie en verantwoordelikheid moet neem vir elke plasing, “maar dit moet ’n doel dien en in die openbare belang wees – selfs as dit nie noodwendig jou persoonlike mening is nie. Daarom kan jy nie jou nuus beperk tot net dit waarmee jy saamstem nie.”
Waldimar was maar 35 jaar oud toe hy die redakteur van Rapport geword het. Dus ’n geweldige uitdaging, maar soos wat hy tereg sê: “Hoe jonger in die posisie, hoe steiler die leerkurwe.” Daarom sê hy ook dat jy as jonger persoon wat saam met kollegas moet werk wat heelwat ouer as jy is, nooit jou beskeidenheid moet verloor nie, want “maak nie saak hoe oud jy is nie, jy weet nooit genoeg nie. Jy en jou kollegas is saam op ’n verkenningstog en die manier waarop jy dit aanpak sal bepaal of jy ’n kans gegun word of dadelik weggejaag word”. Hy lag en sê dat hy darem op die ou einde nie weggejaag is nie en self besluit het om van loopbaan te verander, want hy het gevoel dat die tyd ryp is om die verantwoordelikheid aan iemand anders oor te dra. “Ek is bly dat dit nie meer my uitdaging is nie. Ek het genoeg nuwe uitdagings deesdae,” sê hy tong in die kies.
Oor digitale koerante
Waldimar vertel dat daar jare lank sprake was dat gedrukte koerante sou verdwyn, maar dat die drukmedia toe langer bestaan het as voorspel. En ja … hy mis dit om die koerant vas te hou en daardeur te blaai (hy is steeds ‘n lojale Rapport-leser aanlyn) en as hy in die Kaap gebly het, sou hy Die Burger gekoop het, want hoewel hy gedink het hy sou met sy verhuising Johannesburg toe steeds die PDF-weergawe lees, doen hy dit nie en lees hy hoofsaaklik Netwerk24, News24 en internasionale nuus – alles op sy foon.
Een ding waaroor hy baie bly is, is die innoverende manier waarop Rapport hul digitale inhoud verpak. “Een voordeel van die digitiale aanbod, is dat jy nie beperk word tot ’n sekere aantal bladsye nie en dat elke gat noodwendig volgemaak moet word nie. Jy kan dus net publiseer wat saakmaak en die beste uit die inhoud tot jou beskikking kies. Daar word dus anders na inhoud gekyk en die natuurlike siklus van nuus kan meer organies gevolg word.”
Oor die Afrikaanse mediabedryf
“Die belangrikste kyker is die een wat jy het, nie die een wat jy nog moet werf nie. En om daardie kyker te behou, moet jy altyd met deernis met jou gehoor werk.”
Volgens Waldimar het die Afrikaanse gemeenskap ’n diep behoefte aan interaksie met gehalte Afrikaanse inhoud, is nuuskierig en stel belang. Hulle koppel ook hul kulturele identiteit aan die nuusinhoud wat hulle daagliks verbruik. “Die wil om Afrikaans te gebruik en te hoor, en die bereidwilligheid om daarvoor te betaal, blyk robuus te wees en getalle lyk stabiel. Mense wil een keer per dag of ’n paar keer per week daardie band met een van hulle oorvleuelende groepidentiteite hervestig.”
Waldimar noem dat goeie inhoud baie duur is om te vervaardig, en dat die media afhanklik is van adverteerders om die vervaardiging van Afrikaanse inhoud lewensvatbaar te maak. “Net om jou ’n idee te gee: As ons ’n oorspronklike drama vervaardig, kos dit ons meer as wat dit ons kos om groot internasionale reekse soos “Game of Thrones” of “Day of the Jackal” te lisensieer om hier uit te saai. Die rede hiervoor is dat die internasionale vervaardigers met honderdmiljoene mense kan praat in teenstelling met ons wat maar met ongeveer 300 000 kykers per week kan praat.” Dit is dan ook die rede hoekom daar so sterk op adverteerders gesteun word om die bedryf aan die gang te hou. Hy beklemtoon ook dat M-Net premiumkanale en kykNET daarna streef om mekaar goed te komplementeer en om opsies vir premiumkykers te gee. “Die uitdaging is altyd om die breë basis van die Afrikaanse gemeenskap in die oog te hou en te doen wat meer as ’n handjievol mense tevrede stel en om hoëgehalte inhoud met min geld te vervaardig. Iets wat ek glo ons goed regkry. Trouens, ons vervaardig al sedert 2010 in elke genre – van dramas, sepies en werklikheidsreekse tot aktualiteitsprogramme. Ons koop ook programme aan, soos die oorgeklankte Turkse telenovellas wat groot aftrek kry.” Hy noem dat hulle oorval word met voorstelle en dat daar ’n groot span betrokke is om volgens die kanale se parameters en strategie, te besluit wat uiteindelik op die kassie gaan verskyn. “Dis ‘n heerlike omgewing en dis lekker om deel van so ‘n groep kreatiewe mense te wees. Ons werk natuurlik met ’n onvolmaakte wetenskap en moet elke dag met verbeelding raai. Mens moet jouself daagliks afvra wat behoort te bestaan, want dit is duidelik dat mense nie regtig weet wat hulle wil hê nie. Dink byvoorbeeld aan Henry Ford. As hy destyds die mense moes vra wat hulle wou hê, sou hulle waarskynlik gevra het vir ’n vinniger perdekar, maar toe die eerste motor vervaardig is, het die verwagtinge natuurlik verskuif – want iemand het sy verbeelding aangewend en met iets vorendag gekom wat ons ons vandag nie sonder kan voorstel nie.”
Ons en die politiek
Waldimar is van mening dat daar nie ’n groot aptyt in Suid-Afrika vir radikale politiek bestaan nie. Suid-Afrikaners as deel van die huidige demokrasie, is oor die algemeen behoudend konserwatief en die meeste van ons wil maar eintlik dieselfde dinge hê. Daarom hoop hy dat dit nie net sal goed gaan omdat dit elders so sleg gaan nie. Dit gee hom hoop om te sien hoe Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde meer tyd het vir mekaar en dieselfde dinge geniet, want daar is duidelik vordering gemaak in die weef van ‘n ryke Afrikaanse tapisserie. “Mense vind aansluiting by mekaar. Ek het dit nou weer by die Suidoosterfees ondervind.”
Of hy self politikus wil wees?
Hy lag en sê ofskoon dit nog altyd ’n groot belangstelling vir hom was, en hom stimuleer, hy beslis nie self in die posisie wil wees nie. “Ek lewer nie tans kommentaar nie uit hoofde van my posisie in die media, maar gelukkig hoef ek ook nie standpunt in te neem nie.” Waldimar sê dat wat hom deesdae nogal nuuskierig maak, is die lesse wat geleer word in ’n politieke bestel en wat die kragte is wat kiesers motiveer om op ’n sekere manier te stem.
Oor bekommernisse en goeie verhoudings
Waldimar breek nie sommer sy kop oor goed nie, en lê ook nie snags wakker oor goed nie, maar erken tog dat hy deesdae, veral omdat sy pa reeds 92 jaar oud is, dikwels dink oor die verganklikheid van die mens en hoe belangrik dit is om jou verhoudings met ander te koester. Om dinge in plek te sit en te dink hoe jy gaan lewe en wie jy rondom jou gaan hê wanneer jy oud is.
Hy ag homself gelukkig en vertel dat hy baie kanse en geleenthede gekry het. “Ek is regtig geseënd.” Hy lag en noem dat omdat hy nie kinders het nie is daar seker baie minder om hom oor te bekommer. Tog probeer hy om sensitief te wees vir die vrese en aspirasies van ander wat aan meer riskiko’s en bekommernisse in hul lewe blootgestel is. “Dalk is ek te besig om versigtig te beplan vir die toekoms en sal ek eendag uit noodsaak ’n tuisnywerheid êrens moet oopmaak om kop bo water te hou!”
Wie is Waldimar in jou eie woorde?
Hy sug en laat blyk dat hy nie daarvan hou om homself te beskryf nie. Nietemin erken hy dat hy ’n groot aptyt vir hoë risiko het en dat sy drempel tussen besluit en doen nie baie hoog is nie. Sê hy gelate: “Sometimes the perfect is the enemy of the good …” Met ander woorde, die soeke na volmaaktheid kan soms goeie resultate kniehalter. “Ek hou van ervarings wat my iets laat voel, my roer en meevoer, laat nadink en stimuleer. Ek veronderstel ek is in ’n mate ’n hedonis, maar probeer darem om ’n balans tussen sin en plesier te behou. Ek moet weet hoekom ek goed doen, wat die doel is. Ek is relatief nuuskierig en wil baie lees, en daar is so baie wat ek nog wil doen, maar deesdae het ek net nie genoeg tyd nie.”
Hoe handhaaf hy balans tussen werk en ontspan?
“Ek hou van hardloop, probeer ‘n paar keer per week by die gym uitkom en elke jaar gaan doen ek iets in die natuur. Verlede jaar het ek die Visrivier Canyon saam met vriende gestap en later vanjaar doen ek ’n staptog in Suid-Amerika. Maar ek kom nie gereeld genoeg by hierdie dinge uit nie en moet meer moeite doen, want dit is wat my vrede gee. Ek is baie lief vir die Karoo – dalk moet ek net wegbreek, drie boeke saamneem en gaan stil word.”
Ons was lankal oor ons tyd, en Waldimar moes ’n ander vergadering bywoon, maar daar was darem nog tyd om ’n paar vinnige vrae te beantwoord:
Kan jy kosmaak?
Ek is maar lui om self kos te maak, maar elke nou en dan bederf ek pêlle met salm en ’n wasabi-mayonaisse met ’n vinkel-appel-en-pomeloslaai.
Is jy ’n koffiesnob?
Ek hou van goeie koffie en verkies dat iemand anders dit maak, maar by die huis maal ek my eie bone en maak dan koffie op die stoof in ’n Bialetti-mokkapot.
Jou gunstelingseisoen?
’n Hoëveldse somer met sy donderstorms en ’n Kaapse winter. Ek hou van reën en donker weer wat mens dwing om asem te skep en knus binnenshuis te kuier.
Honde of katte?
Ek hou van albei, maar ongelukkig kan ek nie op die oomblik ’n dier aanhou nie, want hy sal beslis nie oorleef nie. As ek moet kies, dan is honde so kortkoppie voor.
Gunstelingboek?
Een van die beste boeke wat ek onlangs gelees het en wat my diep geroer het, is die Covenant of Water deur Abraham Verghese. Die boek strek oor generasies en speel af in Kerala, Indië. Temas soos familie en tradisie word ondersoek. Ek kan dit aanbeveel.
As ek dink aan ’n Afrikaanse boek, staan PG du Plessis se Fees van die Ongenooides en die grensroman Buys deur Willem Anker uit.
Gunsteling-TV-reeks/-program?
Hoewel ek baie trots is op die inhoud wat kykNET en M-Net skep, gaan ek doelbewus niks op die kanale uitsonder nie en liewer ’n ander platform kies. Ek geniet die Britse spioenasiereeks Slow Horses op Apple TV oor gediskrediteerde of mislukte M15-agente wat ernstig gefaal het, maar nie afgedank kan word nie en wat tog betrokke raak in die ondersoek van sake wat gevaar vir Brittanje inhou – tot groot frustrasie van hulle baas Jackson Lamb vertolk deur Gary Oldman.
En waarvoor wil hy eendag onthou word?
Dat ek mense met empatie hanteer het en altyd probeer het om almal dieselfde te behandel en nooit enige iemand misbruik het nie. Ook dat my toevallige interaksies met mense – daardie mense wat jy byvoorbeeld in die gang raakloop – meestal aangenaam was en warmte uitgestraal het, want dis belangrik dat die kwaliteit van jou verhoudings – ook die “swakker” of minder intieme verhoudings met kollegas – goed moet wees.
Afrikaans.com bedank Waldimar vir sy tyd om ons vrae te beantwoord en ons hou duim vas dat daardie wegbreek Karoo toe om die draai is.
Bronne:
Waldimar op ʼn vinnig bewegende trapmeul – Afrikaans.com
25 minute met Waldimar Pelser oor ’n kwarteeu van kykNET – LitNet
Hanlie gesels met Waldimar Pelser | News24
KYK | Waldimar se jaar van Huisvroue, Toks en Turkse sepies | Netwerk24