Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Dankie tog Denise Newman het jare terug na goeie raad geluister en pens en pootjies op die verhoog en later in die TV- en filmbedryf beland sodat ons 50 jaar later steeds die genot kan ervaar om hierdie fenomenale vrou en aktrise aand na aand in ons voorkamers te ontvang wanneer sy die karakter Bridgette Jacobs se skoene in die sepie Suidooster volstaan. Of jy nou van Bridgette hou of nie … die aktrise agter die karakter ken haar storie!
Loer ’n mens so na Denise se rolle wat sy deur die jare op die kassie, grootskerm en die verhoog, vertolk het, was die toekenning wat sy onlangs by die kykNET Silwerskermfees vir haar lewenslange bydrae tot die bedryf ontvang het, beslis welverdiend. Hieroor sê Denise: “Dis lekker om so ’n toekenning te ontvang en te weet jy word deur die bedryf vereer terwyl jy nog steeds elke dag werk en betrokke is. Ek kan maar net baie dankie sê.”
Afrikaans.com wou graag die mens agter die aktrise leer ken en het met haar gesels oor haar komvandaan, hoe sy in die bedryf beland het nadat sy haar aanvanklik begin bekwaam het in maatskaplike werk, wat haar gelukkig maak, en inspireer … en watter raad sy vir aspirantakteurs het. Lees gerus verder:
Denise vertel dat sy as jong kind op ’n paar verskillende plekke gebly het omdat haar ouers rondgetrek het, maar hier teen haar hoërskooljare het hulle in hul eie huis ingetrek. As laerskool- en hoërskoolleerder was sy maar altyd betrokke by drama en elke jaar deel van die toneelopvoerings. In 1972 het sy matriek by Athlone High geskryf en daarna is sy as uitruilstudent Amerika toe waar sy ook ’n drama- en filmkursus gedoen het. In 1974 was sy terug in Suid-Afrika. Hoewel haar belangstelling en liefde by drama gelê het, kon Denise daardie jare nie haar weg oopsien om drama te studeer nie, want “wat sal ’n swart Suid-Afrikaner nou met ’n dramagraad kan doen” en het aanvanklik by die universiteit ingeskryf om maatskaplike werk te studeer, maar dit het nie lank gehou nie. Later het sy by die munisipaliteit se behuisingskantoor gewerk. Gelukkig het die noodlot sy deel gedoen en het Denise by die Space-teater beland – desjare die enigste teater in die land wat gemengde gehore en spelers gehad het. Haar naweke is by die teater spandeer waar sy internasionale stukke, kontemporêre werk, plaaslike werk, werk deur mense soos Fugard en meer kon sien. Sy beskryf haarself in daardie tyd as ’n groupie. Die regisseur Brian Astbury het haar destyds aangemoedig om by die teater te kom werk en die sprong planke toe te waag. Dat sy dit moes kans gee en sien wat gebeur. As dit moes gebeur, sou dit. “Ek het die uitdaging aanvaar en het aanvanklik vloere gevee en die akteurs se wasgoed gedoen voordat ek in 1979 professioneel begin speel het en verhoogbestuurder geword het.”
In die beginjare van televisie, was daar nie juis rolle vir bruin akteurs nie, maar Denise het wel in films gespeel en was betrokke by Theatre in Education. Vanaf die 1990’s het daar groot veranderinge in die teaterwêreld plaasgevind en leer ken Suid-Afrikaners Denise onder andere in haar rol as Bokkietjie September in die reekse Onder engele en Tussen duiwels. Dit is ook in die tyd dat sy raakgesien word en in films en op die verhoog uitblink.
Denise is reeds 42 jaar lank gelukkig getroud met Clive – haar grootste vriend en ondersteuner. Hulle het drie kinders. Sy vertel laggend dat hy haar op hul 40ste herdenking verras het met ’n “Oscar” – haar eie “life-time achievement award”-beeldjie! Sê Denise: “Ons ken mekaar ook al ’n leeftyd, maar ek het nog altyd geglo dat ’n mens moet regmaak wat verkeerd is. Daarom kan ek en Clive enigiets uitsorteer. Verhoudings is harde werk.” Denise noem ook dat familie en liefde vir hulle baie belangrik is – dit is wat haar maak tiek – daardie binnekring wat haar omring en in wie se teenwoordigheid sy haarself kan wees en veilig voel. Wanneer sy sien haar spesiale hartsmense is gelukkig en presteer, maak dit haar sielsgelukkig. “Ons ondersteun mekaar geweldig.” Denise vertel ook trots oor die nuwe liefde in haar lewe, hul kleindogter. “Ouma en oupa koester haar weeklikse sleepovers.”
Hoe lyk ’n tipiese dag in die lewe van Denise?
Denise vertel dat een van haar pet hates verkeer is. Die ander is om laat te kom en oneerlikheid. Daarom is sy reeds vroeg uit die vere en ry sy vroeg werk toe sodat sy nie uitgelewer is aan die chaos van die taxi’s en verkeersknope nie. “Ek het altyd baie om te doen en kan lees, woorde leer of sommer net rustig sit en ontspan voordat my dagtaak begin – ons werk 12 ure per dag. Saans as ek by die huis kom, is die eerste ding wat ek doen om my grimering af te haal en dan eet ons – Clive kook meestal. Daarna is dit maar dikwels woorde leer vir die volgende dag. Hier na 70 raak dit al hoe moeiliker, veral omdat ek eintlik ’n Engelse brein het. Ek moet ekstra hard werk om Bridgette se dialoog baas te raak. Vrydagaande en naweke probeer ek ontspan en kwaliteittyd saam met die familie te spandeer.”
Die verhoog roep
Denise erken dat haar werk as sepiekarakter ’n soort van bestendigheid in haar lewe gebring het. “Ek verdien elke maand ‘n salaris!” lag sy. En sy geniet dit, maar sy sê ook dat sy baie graag weer verhoogwerk wil doen. Dit bly haar eerste liefde – op die planke, elke aand omring deur ’n ander gehoor wat hul eie dinamika na die teater toe bring en jy werklik “in the moment” kan wees. “’n Mens twyfel maar aan jouself en vergeet jy is net mens. Tog bly verhoogwerk uitdagend en lekker, en is jy net soveel nader aan jou gehoor. Jy speel as’t ware na hulle toe en kan op daardie manier die karakter nog meer diepte gee. Die enigste ding is jy kan nie die toneel op die verhoog oordoen soos wanneer jy in film of televisie speel nie en die regisseur ‘n toneel dikwels oor en oor skiet nie. Op die verhoog moet jy maar deur jou foute speel en aanhou.”
Inspirasie kom van oraloor
Denise sê dat sy haar inspirasie by baie mense kry en dat dit moeilik is om name te noem, want sy weet sy gaan iemand vergeet. Tog noem sy Antoinette Kellerman as een van haar groot ikone. Dan ook die bekroonde filmregisseur en skrywer Oliver Hermanus – bekend vir films soos Shirley Adams, The Endless River en Moffie. Denise het juis in 2009 by die Durbanse Internasionale Filmfees die toekenning as Beste aktrise gekry vir haar rol in Shirley Adams. “Eintlik word ek geïnspireer deur al my mede-akteurs – almal werk so hard en doen sulke goeie werk. Natuurlik moet ek my bestie noem, Vinette Ebrahim – ons kom ’n lang pad saam en het mekaar destyds by die Space-teater raakgespeel.”
Wyse woorde aan voornemende akteurs
“Om akteur te wees lyk dalk soms glamorous, maar dis baie harde werk en elke dag is ’n uitdaging. Daarom moet jy bereid wees om hard te werk. Die bedryf sal jou onthou as jy opdaag, betyds is en dit wat jy doen met liefde en na die beste van jou vermoë doen. Wees bereid en oop om van ander te leer. Moenie onnodig kla nie – ja, staan op vir jouself en moenie toelaat dat mense oor jou loop nie, maar onthou ook, daar is tientalle ander akteurs wat vir die oudisie opdaag en die rol wil hê en dit waarskynlik net so goed soos jy kan vertolk. Daarom is dit belangrik om iets anders na die oudisie toe te bring. Verras die regisseur. Krap daardie tweede, derde en vierde lae en verskuilde geheime van die karakter oop. Gee die karakter daardie ekstra diepte wat nie noodwendig in die teks geskryf staan nie, maar wel tot die geloofwaardigheid van die spesifieke karakter bydra. Doen dit en die job is joune!”
Denise vertel ook die staaltjie van ’n regisseur wat op ’n keer vir haar gesê het om nie na sy repetisielokaal te kom met ’n klaaruitgewerkte optrede nie. “Hy wou sien dat ek elke keer iets anders probeer en as dit nie werk nie, dan iets anders probeer. En dit was goeie raad, want so ontdek ‘n mens ander eienskappe van die karakter en is jou vertolking uiteindelik soveel beter.”
Gunstelingfliek, -boek(e)?
Denise sê dat sy baie gunstelinge het, maar dat sy wel die fliek, One flew over the cuckoo’s nest, wil uitsonder. Boeke wat haar geraak het, is Love in the time of cholera deur Gabriel Carcía Márquez en Maru deur Bessie Head. Sy noem dan ook dat sy eintlik nog baie graag eendag Bessie Head se storie sal wil vertel. Bessie, joernalis in Botswana, het onder uiters moeilike omstandighede grootgeword, maar tog het dit nie haar werk negatief beïnvloed nie en was haar boeke en outobiografieë opbouend, deurweef met geestelike bevraagtekening en besinning. Ander vroue-aktiviste wie se stories volgens Denise vertel moet word, is die anti-apartheidsaktivis Cissie Gool en dan die laaste oorlewende leier van die 1956-vroue-optog, Sophia Williams-De Bruyn.
Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?
“Vloermoer, want dit sê vir my presies wat dit is,” lag Denise.
En laastens … beskryf jouself kortliks …
“Betroubaar. Altyd betyds. ’n Ma, vrou en vriendin.” Denise sluit af met die woorde:
“Ek beskou my rol as ma as die heel belangrikste rol ooit, want wanneer daardie kind aan jou toevertrou word, is jy skielik verantwoordelik vir ’n lewe en daardie mensie se ontwikkeling en toekoms. En as jy dit goed doen, word jy beloon met hierdie mens op wie jy net trots kan wees.”