Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Wat ons eet, kan ’n beduidende uitwerking hê op hoe ons voel.
Sekere kossoorte gee ons meer energie, help ons om helderder te dink en speel selfs ’n rol om ons gemoedstemming te verbeter.
Bloedsuiker: ’n Daling in bloedsuiker, kan dikwels gemoedskommelinge veroorsaak. In Engels word daar dikwels na verwys as “hangry” (“hungry + anger”). Met ander woorde: Honger mense word makliker kwaad. Die rede hiervoor is dat die glukosevlak in ons bloed laer as normaal daal wat veroorsaak dat die hormone kortisol en adrenalien in die bloedstroom vrygestel word. Dit kan gevoelens van aggressie by party mense veroorsaak. Lae bloedsuiker affekteer breinfunksie, veral in die dele van die brein wat gedrag en gevoelens soos woede, beheer.
Proteïene: Een manier om bloedsuikervlakke stabiel te hou, is om proteïenryke kossoorte saam met elke maaltyd te eet. Deur proteïene en komplekse koolhidrate te kombineer, word die afbraak van glukose in die liggaam vertraag wat op sy beurt ’n skerp styging in bloedsuiker voorkom. Hierdie skerp styging in bloedsuiker word gewoonlik deur ’n skielike daling in bloedsuiker gevolg en dit is dan wanneer dit die gemoedstemming kan affekteer. (Dink byvoorbeeld hoe vinnig jy “beter” en minder bewerig voel as jy ’n sjokolade eet, maar nie lank daarna nie, voel jy opnuut bewerig en naar.)
’n Paar wenke om die proteïeninhoud van kos te verhoog:
Wanneer jy groentesop voorberei, sal die proteïeninhoud verhoog word deur vleis, lensies of bone by die sop te voeg. Sodoende word die bloedsuikerbalans gehandhaaf.
Hummus (kekerertjiesmeer) met kraakbeskuitjies, grondboontjiebotter op heelgraanbrood en vrugte met neute, is voorbeelde van goeie peuselhappies wat sal bydra om bloedsuikervlakke stabiel te hou.
Ons neuro-oordragstowwe, soos serotonien, wat verantwoordelik is vir ons buie/gemoed het aminosure nodig alvorens dit afgeskei kan word. Aminosure kom van die afbraak/vertering van proteïene in die liggaam. Nog ’n rede hoekom die inname van proteïene help om gemoedskommelinge te reguleer.
Stimulante: Verminder jou inname van stimulante soos kafeïen en alkohol. Dit kan ’n indirekte, maar merkbare uitwerking op jou gemoed hê. Kafeïen kan slaappatrone affekteer wat op sy beurt ’n negatiewe uitwerking op gemoed kan hê. Dit kan ook gevoelens van stres en angs verhoog indien dit in oormatige hoeveelhede ingeneem word. Alkohol is ’n depressant – hoewel dit jou op die korttermyn meer ontspanne en gelukkig kan laat voel deur die vrystelling van die goeie chemikalie dopamien. Die effek van alkohol op die sentrale senuweestelsel kan egter aansienlike gemoedskommelinge tot gevolg hê en uiteindelik aanleiding gee tot gevoelens van angs en depressie.
Goeie vette: Omega 3-vette soos in olierige vis en vlassaad, speel volgens navorsing ’n rol in die verligting van depressie en ander gemoedskommelinge. Omega 3-vette bevorder ook hartgesondheid en het anti-inflammatoriese voordele. Verder, speel omega 3 ’n beduidende rol in gesonde breinontwikkeling by babas en dra dit by tot ’n gesonde sentrale senuweestelsel. Dit is belangrik om te noem dat omega 3 nie as ’n plaasvervanger vir medikasie wat deur jou geneesheer voorgeskryf word, gebruik moet word nie.
Dermkanaalgesondheid: Bakterieë in die dermkanaal speel ’n baie belangrike rol in die liggaam en is onder andere verantwoordelik vir die vervaardiging van serotonien wat gemoed affekteer. Die dermkanaal word dikwels “die tweede brein” genoem en die uitwerking wat ons dermkanaalgesondheid op ons gevoelens en gemoed kan hê, word dikwels misgekyk. Deur voedselsoorte hoog in probiotika by jou dieet in te sluit, soos jogurt en gefermenteerde kos soos kefir, sauerkraut (suurkool) en tempeh, kan help om ’n optimale balans van bakterieë in die dermkanaal te handhaaf.