Dié matige kerrie het heerlike Maleise geure. Die kombinasie van komyn, kerriepoeier, kaneel en ’n tikkie brandrissie is heerlik. Dit kan selfs met hoender gemaak word – verkort net die gaarmaaktyd na 45 minute. Kerrie kan met ’n verskeidenheid van bygeregte voorgesit word, van rys tot naanbrood of rotis en ’n vars salsa is ideaal. Moenie die mengsel van jogurt, komkommer en koljanderblare vir dié resep uitlaat nie – dis só lekker!
Lewer 6 porsies
20 ml (4 t) olyfolie
1 kg lams- of beesstowevleis, in stukke gesny
2 uie, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
10 ml (2 t) elk gemaalde koljander en borrie
15 ml (1 e) elk gemaalde komyn en garam masala
15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer of 5 ml (1 t) gemaalde gemmer
20 ml (4 t) matige kerriepoeier of meer na smaak
1 rooi brandrissie, ontpit en gekap of na smaak
2 elk lourierblare en klein kaneelstokkies
20 ml (4 t) gedroogde gemengde kruie
1 klein (ongeveer 500 g) botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
3 middelslag aartappels, in blokkies gesny
30 ml (2 e) koekmeel
1 x 410 g-blik gekapte tamaties of 4 groot, ryp tamaties, geskil en gekap
180 ml sterk Rooibos of flou hoenderaftreksel
sout en peper na smaak
Om voor te sit
¼ komkommer, in blokkies gesny
handvol vars koljanderblare of Italiaanse pietersielie, gekap
1 x 150 g-bakkie ongegeurde jogurt
6-8 warm klein rotis
ekstra koljanderblare
- Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol. Braai die vleis in sarsies tot goudbruin. Skep uit en herhaal met die orige vleis en hou eenkant.
- Soteer die uie en knoffel in dieselfde kastrol tot sag. Voeg al die speserye en gedroogde kruie by en soteer vir 3-5 minute of tot aromaties.
- Voeg die botterskorsie en aartappels by en roer met die meel deur tot daar geen droë meel sigbaar is nie. Roer die tamaties en tee of aftreksel by. Bring tot kookpunt.
- Voeg die vleis by en verlaag die hitte. Prut liggies met die deksel vir 1½-2 ure of tot die vleis sag is. Die kerrie moenie te vinnig kook nie, dan kan die vleis taai word. Geur na smaak, maar moenie te veel roer nie.
- Om voor te sit: Meng die komkommer en gekapte kruie by die jogurt in.
- Sit die kerrie met die jogurtmengsel, rotis en nog koljanderblare voor.
Resep aangepas uit The AMC Cookbook deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira