Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Dit is amptelik. Volgens ’n berig op Prime Media Plus, is Suid-Afrika aangewys as die land met die vriendelikste mense. Dit is nou volgens “The Big 5 Personality Test”. Die toets is gebaseer op die wetenskaplike ‘Groot Vyf’-model van die vyf sleutelpersoonlikheidskenmerke: openhartigheid, pligsgetrouheid, aangenaamheid, ekstroversie en neurose. Die vrae in die ondersoek word geheel en al op die aangenaamheidsaspek van die toets gebaseer, aangesien dié karaktertrek beskou word as die mees doeltreffende manier om sosiale eensgesindheid te meet.
So werk dit
Duisende respondente regoor die wêreld was deel van die ondersoek en moes vrae beantwoord om te bepaal hoeveel hulle omgee vir ander, of hulle tyd afstaan aan ander mense en of hulle daarvan hou om mense op hul gemak te laat voel. Elke vraag was ‘n stelling en respondente moes daarop reageer deur minder en meer saam te stem of nie saam te stem nie of om neutraal te bly.
Lande wat die hoogste telling uit 40 behaal het, is gerangskik volgens vriendelikheid. Mense wat hoë tellings behaal het, is diegene wat waarde daaraan heg om met ander oor die weg te kom en is ook meer optimisties wat beteken dat hulle waarskynlik hartlik en vriendelik is teenoor diegene met wie hulle in aanraking kom.
Wat vriendelikheid betref, is Suid-Afrika in die eerste plek … met ’n ongelooflike 34.63 uit 40!
Volgens die ondersoek word Suid-Afrikaners geken aan hulle hartlikheid en innemendheid. Reisigers en besoekers voel dus op hulle gemak in hulle geselskap.
Dit is nie ongewoon om deur vreemdelinge in die straat gegroet te word nie en Suid-Afrikaners is oor die algemeen gemaklik daarmee om te sosialiseer en deel te neem aan gesprekke waar ‘n mens dikwels blootgestel word aan hulle goeie sin vir humor.
Nommer 2 en 3 op die lys, was Griekeland (33.71) en Kroasië (33.50).