Boontjiesop is pure Suid-Afrikaanse koesterkos. ’n Stomende bakkie sop vir die winter is genoeg om hart en siel (en jou maag) te vul. Dit verg so bietjie beplanning om die boontjies eers te week, maar die geurigheid van die sop is absoluut die moeite werd. Dis ’n eenvoudige kombinasie van bekende bestanddele, ‘n maaltyd op sy eie en regtig vullend. Heleen vertel dat dit na jare steeds een van die gewildste resepte op haar webwerf is. Dankie dat jy dit met ons ook deel, Heleen.
Lewer 6-8 porsies
310 ml (250 g) droë suikerbone
10 ml (2 t) olyfolie
750 g – 1 kg beesskenkel of ander stowevleis aan die been, in blokkies gesny
1 groot ui, fyngekap
1 knoffelhuisie, gekneus
4 selderystingels met die blare, fyngekap
4 wortels, grof gerasper
1,5 liter (6 k) groente- of hoenderaftreksel of sterk Rooibostee
25 ml (5 t) gedroogde gemengde kruie
2 lourierblare
1 x 410 g-blik gekapte tamaties, of 2-3 groot ryp tamaties, afgeskil
15 ml (1 e) tamatiepasta
suurlemoensap, sout en peper na smaak
30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie
Week die boontjies oornag in ’n groot bak met ten minste 1 liter water. Dreineer deeglik en hou eenkant.
Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol en verbruin die vleis en bene in sarsies. Skep uit en hou eenkant.
Soteer die ui en knoffel tot sag. Roer die seldery en wortels by en soteer vir nog ’n paar minute.
Roer die vleis, bene en geweekte bone by die groente en roer die vloeistof, kruie en lourierblare deur. Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die temperatuur en prut stadig met ’n deksel vir 2-2½ ure of tot die vleis en bone gaar is.
Roer die tamaties en tamatiepasta by en geur sop. Verhit deur en roer die pietersielie by.
Resep uit The AMC Cookbook | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Tamaties en sout verhoed dat die bone sag word, so roer dit eers by as die bone gaar is.
- Sit ’n heel brandrissie in die sop vir ’n bietjie byt.
- Die sop kan ook in ’n drukkastrol gaargemaak word. Dan hoef die bone nie vooraf geweek te word nie en die vleis en bone sal teen die hoogste stelling, binne ’n uur gaar wees. Roer dan die tamatie en ander geurmiddels by.