Skrywer: Alita Steenkamp
’n Heerlike projek wat in Februariemaand op LitNet afgeskop het, is die Luisterverhale waarna enigeen aanlyn kan luister. Hierdie projek is ʼn saamwerkpoging tussen Katinka Heyns en Sonneblom Ateljees en LitNet. Dit word deur die Dagbreek Trust moontlik gemaak. Van die room van ons land se kortverhaalskrywers se werke word deur bekende stemkunstenaars voorgelees. Die projek is afgeskop met Chris Barnard se verhaal, ʼn Man kom tuis deur Marcel van Heerden. Ander skrywers wie se werke weekliks voorgelees word, is Audrey Blignault, Barry Hough, Breyten Breytenbach, Elsa Joubert, Eugène Marais, Fransie Phillips, Hennie Aucamp, Jan Rabie, Jan Spies, JM Gilfillan, Petra Müller, PG du Plessis en Riana Scheepers. Van die ander stemkunstenaars wat verhale voorlees is Rolanda Marais en Tobie Cronjé. Etienne van Heerden, uitvoerende redakteur van LitNet sê dis heerlik dat LitNet, as deel van hulle kwarteeuvieringe, van Afrikaans se voorste kortverhaalskrywers se werke na die luisteraars kan bring. Terselfdertyd word van ons bekendste stemkunstenaars die geleentheid gebied om hulle fantastiese vermoëns te deel. Klik hier op die skakels en luister na die treffende verhale. ʼn Heerlike luisterfees.
- ʼn Man kom tuis deur Chris Barnard. Voorgelees deur Marcel van Heerden
- Die padda en die maan deur Jan Rabie. Voorgelees deur Tobie Cronjé
- “selfmoord 2” deur Breyten Breytenbach. Voorgelees deur Marcel van Heerden
- Die vaal koestertjie deur Eugène Marais. Voorgelees deur Marcel van Heerden en Rolanda Marais.
- Kafee deur Elsa Joubert. Voorgelees deur Rolanda Marais.
Vir hierdie en ander verhale, gaan loer gerus by www.litnet.co.za/luisterverhale