Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die eerste keer wat ek bewus geword het van fobies, was toe ek nog op skool was. Een van ons maats was bang vir slange en kon nie eers kyk na foto’s van slange in boeke nie. Hy het begin bewe en sweet en het alles moontlik gedoen om weg te kom van die slangboek af. Vir ons oningeligtes was dit vreemde gedrag, en natuurlik ook snaaks, maar ons klasmaat het ’n werklike fobie gehad. Gelukkig het ons stadskinders darem nie gereeld slange teëgekom nie en was hy meestal oukei.
Nou ja, baie van ons is maar skrikkerig vir daardie plat seilers, maar wanneer is dit ’n fobie en wanneer is dit net gewone vrees? En is daar wel ’n verskil? Afrikaans.com het hieroor gaan oplees en verduidelik dit soos volg.
Wat is ’n fobie?
“Fobies begin in die algemeen in die tienerjare, veral vanaf die ouderdom van 13. Na raming ly sowat 8% van volwassenes aan die een of ander fobie.” Louis Awerbuck, Sarie, 2017
Volgens ’n blog op Wie is ek se webtuiste, is ’n fobie:
“’n Angsversteuring en kom dit gewoonlik voor as ’n volgehoue, onlogiese vrees vir ’n spesifieke objek of situasie.” Die kliniese sielkundige, Louis Awerbuck, sê verder in ’n 2017-blog op Netwerk24 in die tydskrif Sarie, dat die persoon bewus is dat die vrees onlogies en onrealisties is. Tog sal die persoon alles in sy vermoë doen om die situasie of voorwerp te vermy. As hy nie uit die situasie kan ontsnap nie, “ervaar hy intense ongemak of angs en sukkel die persoon om sy aktiwiteit te voltooi”. Die goeie nuus is dat ’n fobie behandel kan word, mits dit deur ’n kundige as sodanig gediagnoseer word en die toepaslike behandeling toegepas word.
Wat is vrees?
Vrees, volgens Awerbuck in dieselfde 2017-blog, “is gewoonlik gekoppel aan ’n spesifieke insident (soos ’n hond wat jou gebyt het en nou is jy bang vir honde) of iets realisties soos ’n virusepidemie”. Die vrees het dus ’n rede en kan dan ook op realistiese wyse hanteer word.
Drie hoofkategorieë van fobies
- Spesifieke fobie. Die persoon is bang vir iets spesifiek, soos slange, hoogtes, nou plekke en so meer.
- Sosiale fobie. Dit word ook sosiale angsversteuring genoem. Die persoon het ’n vrees vir ander mense of sosiale situasies en is so verleë en selfbewus in ander se teenwoordigheid dat hulle alles sal doen om die situasie te vermy of om nie met die persoon te praat nie.
- Agorafobie: Die persoon is vreesbevange om sy huis of “veilige” plek te verlaat. Dit kan gepaard gaan met paniekaanvalle. “Hierdie angs kan ook aangevuur word deur spesifieke fobies soos ’n vrees vir kieme, openbare plekke, winkelsentra, ensovoorts.”

Simptome en diagnose
’n Diagnose moet deur ’n kundige en gekwalifiseerde persoon gemaak word. Hierdie diagnoses word gemaak met behulp van die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-5). Hierdie kriteria word wêreldwyd aanvaar.
Wanneer is die fobie diagnoseerbaar?
- “Daar moet ’n herhalende patroon van duidelike en aanhoudende irrasionele vrees wees wat geaktiveer word deur ’n spesifieke objek of situasie.” (Kinders sal hul vrees wys deur te huil, ’n vloermoer, deur aan iemand vas te klou, of te vries.)
- “Blootstelling veroorsaak onmiddellike angs, wat fisiek waarneembaar is.” (Huil, paniekaanvalle.)
- “Die situasie of objek word aktief vermy of met intense vrees of angs verduur.”
- “Die angs- of vreesreaksie is buite verhouding tot die ware gevaar.”
- “Die vrees/angs/vermyding is langdurig en kom reeds vir ten minste ses maande voor.”
- “Die vrees/angs/vermyding veroorsaak aansienlike ongemak en/of het ’n negatiewe invloed op die persoon se funksionering.”

Hoe ontwikkel ’n fobie?
Daar is heelwat teorieë hieroor en dit kan aan ’n spesifieke insident gekoppel wees, maar meestal is daar nie ’n direkte verbinding nie en is dit meer sielkundig van aard. Dit beteken die fobie is die gevolg van ’n assosiasie met iets. Awerbuck gee die volgende voorbeeld: “Mense wat bang is vir vlieg, is nie soseer bang vir vliegtuie of hoogtes nie, maar is eerder bang om beheer te verloor.”
Tipiese fobie-snellers
- Diere en insekte, soos spinnekoppe, slange, motte, miere, honde, ens.
- Natuurlike omgewings, soos hoogtes, water, donderweer, ens.
- Inspuitings en beserings, soos naalde, sekere mediese prosedures, bloed, ens.
- Bepaalde situasies, soos in vliegtuie, hysbakke en toe, nou plekke.
- Ander situasies, soos harde geluide, kostuumkarakters (kinders is dikwels bang vir narre, Kersvader en so meer), en situasies wat kan lei tot verstikking of vomering.
Is behandeling nodig?
Beslis ja. Juis omdat dit “’n ernstiger graad van angs is”. Behandeling deur ’n kliniese sielkundige, of ’n sielkundige met spesifieke ervaring van fobies, of wat ook kundig is oor spelterapie, word sterk aanbeveel.
Behandeling kan ook dikwels met medikasie ondersteun word. In dié geval sal die persoon na ’n psigiater verwys word wat die toepaslike medikasie sal voorskryf. Gewoonlik sal ’n behandelingsplan opgestel word en sal die persoon ook leiding kry ten opsigte van leefstylkeuses, soos om gereeld te oefen, genoeg te slaap en gebalanseerd te eet.
Nog ’n manier van behandeling is blootstellingsterapie waar jy jouself “sistematies aan die fobie blootstel, terwyl jy jou liggaam leer om te ontspan”. ’n Proses wat kan werk, maar met uiterste omsigtigheid hanteer moet word omdat dit tot meer angs kan lei.

Wat om nie te doen nie
’n Fobie kan nie met logika hanteer word nie – dit help dus nie om met die persoon of kind te redeneer daaroor nie. En dit het niks met intelligensie te doen nie. Die persoon is baie bewus van sy irrasionele fobie, maar kan homself nie help nie en kan nie sy gedagtes beheer nie.
Moenie ongeduldig word nie. Daar is nie ’n oornagoplossing nie en empatie en begrip is nodig. Die persoon of kind is waarskynlik skaam daaroor en voel skuldig omdat hy sy gesin se lewens ook daardeur beïnvloed. Probeer dus eerder om die druk af te haal.
Onmiddellike blootstelling aan dit waarvoor die persoon ’n fobie het, sal in die meeste gevalle tot meer angs lei. Dit is iets wat stelselmatig en in kombinasie met psigoterapie moet plaasvind. Louis Awerbuck noem die volgende voorbeeld in ’n Wie is ek-potgooi op RSG (6 Februarie 2015):
“Haal die druk af deur stelselmatige blootstelling, m.a.w. die kind het ’n fobie vir honde. Begin dus klein. Kyk na klein prentjies van klein hondjies in klein boekies. Wanneer die kind hiermee gemaklik is, kyk na groter honde, in groter boeke. Beweeg dan na video’s met honde, en so meer. Uiteindelik kan die kind gelei word om verby ’n klein hondjie te loop – later om die hondjie aan te raak. Dit is daarom iets wat baie lank kan neem, en die proses kan nie aangejaag word nie.”
Is dit belangrik om ’n fobie te oorkom?
Awerbuck antwoord soos volg: “Dit hang af van die mate waarin die fobie inmeng met jou algemene funksionering. Ek het byvoorbeeld ’n fobie vir krappe, maar dit pla my nie regtig nie omdat ek nie dikwels naby damme of riviere kom nie. Ek kan dus gemaklik funksioneer sonder dat my fobie my lewe nadelig beïnvloed. Maar as jy byvoorbeeld ’n vlieënier is en jy het ’n fobie vir hoogtes, is dit ’n ander saak.”
Hoe kan jy iemand met ’n fobie ondersteun?
“Fobies kan jou lewe oorneem en moet daarom ernstig opgeneem word.”
Hou in gedagte dat die persoon met die fobie bewus is dat sy vrees irrasioneel is. Moet hulle nie spot, verkleineer of probeer om daaroor te redeneer nie. Moedig liewer die persoon aan om professionele hulp te kry. Omdat die proses moeilik en uitputtend kan wees, kan jy die persoon aanmoedig en ondersteun na die beste van jou vermoë. Niemand kies om vreesbevange te wees nie.
Vreemd? Maar dit bestaan …
In Huisgenoot van 28 Desember 2015, skryf Petrus Malherbe oor ’n paar vreemde fobies. Hier is so ’n paar:
- Papafobie: ’n Vrees vir die pous en/of die Katolieke Kerk.
- Aragibutirofobie: Die vrees dat grondboontjiebotter aan jou verhemelte sal vaskleef.
- Trigofobie: ’n Vrees vir los hare op klere of elders.
- Nomofobie: Die vrees om nie binne selfoonkontak te wees nie.
- Efebifobie: Die vrees vir tieners (ja wel … 😊)
- Skopofobie: Die vrees dat daar na jou gekyk word of dat jy aangestaar word.
- Spektrofobie: ’n Vrees vir spieëls en/of jou weerkaatsing.
- Phagofobie: Vrees om te sluk.
- Emetofobie: ’n Vrees vir braking (om self op te gooi of naby iemand te wees wat opgooi).
- Triskaidekafobie: ’n Vrees vir die nommer 13.
Luister gerus na die volgende twee potgooie op RSG se Wie is ek-program saam met Lise Swart:
8 Maart 2024 en 6 Februarie 2015 – (lsg net tot ongeveer 13 minute)

