Kortpad ‘Florentines’ (Heleen Meyer)

Tuis 5 Kook dit 5 Kortpad ‘Florentines’ (Heleen Meyer)

Florentines is ’n Italiaanse lekkerny van neute en gedroogde vrugte wat met suiker en botter gemeng en dan gebak word. Daarna word die basis met gesmelte sjokolade bedek. Dis heerlik, maar nogal heelwat werk. 

Lewer ongeveer 22-24 sjokolades

22-24 klein truffelpapiertjies
200 g donkersjokolade van goeie gehalte, in stukkies gebreek

Bolaag-opsies – ’n totaal van omtrent 45 ml (3 e) bestanddele is genoeg
gedroogde peer, appelkoos of mango, in klein blokkies gesny
grofgekapte neute, soos makadamias of amandels
geroosterde sesamsaad of geroosterde droë klapper of -skaafsels
kakaoboonsplinters of vlokkies growwe sout

  1. Pak truffelpapiertjies op ’n bakplaatjie of groot bord uit.
  2. Plaas ’n glasbak, met die sjokolade, oor liggies pruttende water. Die bak moenie aan die water raak nie. Die water moet net prut en nie kook nie – as die sjokolade te warm word kan dit hard en krummelrig word. Roer tot heeltemal glad en gesmelt.
  3. Skep ongeveer 7,5 ml (½ e) gesmelte sjokolade in elke truffelpapiertjie.
  4. Strooi enige kombinasie van bolaag-bestanddele oor die sjokolade, voor dit gestol het. Druk die bestanddele liggies in die sjokolade.
  5. Laat afkoel en verkoel dan vir 2-3 ure in die yskas of tot heeltemal gestol.
  6. Trek die papiertjies af as jy wil en sit as deel van ’n nagereg met koffie of ’n kaasbord voor.

Resep deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira

Wenk

  1. Roer ’n knippie gemaalde speserye soos kardemom (cardamom), kaneel (cinnamon) of rooipeper (cayenne pepper), by die gesmelte sjokolade.

Taalfokus

In Afrikaans verwys ons na sesamsaad, maar in Engels is die sesame seeds. Die Engels word dikwels sommer in Afrikaans as sesamesaad gebruik.

by | Mar 25, 2024 | Kook dit

Deel hierdie plasing