Skrywer: Mediavrystelling
Die Suidoosterfees word vanjaar mondig.
Om dié mylpaal ekstra spesiaal te maak, word ’n reeks van 21 teaterproduksies teen die kaartjieprys van slegs R21 aangebied. Dié vertonings, wat elk 21 minute lank is, spog met uitsoekkunstenaars en is van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad se Artscape op die planke.
“Toe die Suidoosterfees se stigters 21 jaar gelede hul doelwitte neergepen het,” vertel feeshoof Jana Hattingh, “was bekostigbaarheid en toeganklikheid tot die kunste bo-aan die lys. Die leuse ’n Fees vir almal! het toe ook beslag gekry.” Danksy feesborge en individuele ondersteuners se ruimhartigheid, sê Jana, word daardie belofte vanjaar op dié spesiale manier nagekom.
Kunstenaars in verskillende genres is genader om deel van die 21-projek te wees. Opera- en kontemporêre sangers, akteurs, dansers en komediante is op die verhoog in die 21 produksies.
Kaartjies verkoop reeds fluks vir aanbiedings met komiese karakters wat op sosiale media beroemd geraak het. In Bettie innie selle met Dean Smith beland die nimlike Aunty Bettie in ’n aanhoudingsel tussen geharde misdadigers nadat sy in hegtenis geneem is. Met haar skerp tong kom die kriminele natuurlik sleg tweede!
Veronique Jephtas is te sien as Mavis vannie Lavis in Chronicles vannie Lavis, gebaseer op die skrywes van die supergewilde en omstrede Facebook-persona. Margit Meyer-Rödenbeck bring ook die beminde Dowwe Dolla se ouma na die verhoog. In Ouma weet … deel die bejaarde haar wyshede, sommer ongevraagd, met die jonger geslag.
Liandé Valentyn en Gary Naidoo verskyn in Rajee & Fatgiyah se show met komedie uit die hart van die Bo-Kaap. En die gesoute Daily Maverick-joernalis en komediant Marianne Thamm inspireer gehore met lesse oor demokrasie in Speed Politics for Bewildered South Africans.
Musiekliefhebbers kan nader skuif vir Amanda Strydom: Piaf, waarin dié immergewilde sangeres sewe van Edith Piaf se bekendste liedere sing. Die Kaapse koerant Son, wat vanjaar saam met die Suidoosterfees mondig word, bring Galaxy na die 21-verhoog met Nic Miso, William Jacobs en musikante van die legendariese Galaxy-klub.
Frazer Barry, Charlton Davids en Deniel Barry gee ’n satiriese blik op die manier waarop woorde betekenis in die wêreld kry. In Lipkap klik en klap die tonge behoorlik, onder meer in Khoekhoegowab.
In Ontban sing Corneil Müller en Lynelle Kenned liedjies wat voorheen verban was, en This is home spog met Sima Mashazi en Ramon Alexander se pragtige musiek uit hul onderskeie grootword-wêrelde.
Opera en klassieke musiek word uniek verpak in die 21-reeks. Janelle Visagie is in Bon appétit!, ’n boeiende kortopera gebaseer op Julia Child se dekadente sjokoladekoekresep. AGL Opera bring Operetta Odyssey na die verhoog met tydlose melodieë van Johann Strauss II en Franz Lehár. En in Vivaldi’s Four Seasons: Snapshots vier Roxane Steffen, Petrus Coetzee en Ralitza Macheva die jaarseisoene soos wat gehore nog nie tevore ervaar het nie.
Internasionale Dansdag, wat elke jaar saam met die Suidoosterfees val, word met drie opwindende dansproduksies gevier: Listen to my hands met lede van Unmute Dansteater, Unbound met Jazzart-dansers en POV: Point of View, aangebied deur Figure of 8 Dance Collective.
Teaterliefhebbers sal gaande wees oor André Terblanché en Karli Heine in Dean Balie se Een vir my baby! Carlo Daniels is te sien in die vermaaklike Knyp die kous innie donker met Melissa Myburgh as regisseur. Myburgh neem ook Hoërskool Parel Vallei se ATKV-Tienertoneelwenners onder hande in ID, asseblief?
Kabaret bly ook nie agterweë nie. Miché van Wyk en Vihann van Rooyen takel kerksake op die platteland in Konsistorie – ’n kabaret. En in Club Cabaret sluit akteurs van die Koningstheateracademie in Nederland aan by Lukhanyiso Skosana en Lungile Lallie vir lekker ondermynende vermaak.
Vir die volledige feesprogram, besoek www.suidoosterfees.com. Kaartjies kan bespreek word by Webtickets, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695.
Die 21-reeks word moontlik gemaak deur NATi, die ATKV en die NAC, en die volgende individue en groepe ondersteun spesifieke produksies: Compagniesdrift, Son, die inwoners van Ruiterbosch, Edmund Beukes, Ton en Anet Vosloo, KSUT, Crispin en Lisa Sonn, Simone Myburgh, Garden Court Nelson Mandela Boulevard, die Suidoosterfees se amptelike verblyfvennoot, en Southern Sun The Cullinan.
Die Suidoosterfees se hoofborge is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.