Kerrievis of gepiekelde vis, is baie gewild en eg Suid-Afrikaans. Die resep is dalk ’n bietjie meer moeite as om vis net te panbraai, maar dit hou uitstekend en is smullekker. Geelstert word tipies vir kerrievis gebruik, omdat dit ’n stewige vissoort is, maar stokvis, snoek of dorado kan ook werk. Dis ook ’n gereg wat dikwels tydens Paasfees geëet word.
Lewer 8 – 10 porsies
60-75 ml (4-5 e) olyfolie
1,5-2 kg ferm vis, soos geelstert, dorado, snoek of stokvis (hake), in klein porsies gesny
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
125 ml (½ k) sagte bruinsuiker
160 ml tuisgemaakte appelkooskonfyt
750 ml (3 k) wit druiweasyn
300 ml water
35 ml (7 t) matige kerriepoeier
15 ml (1 e) borrie
10 ml (2 t) heel koljandersaad (coriander seeds)
10-12 swartpeperkorrels
8 elk heel wonderpeperkorrels (all spice) en naeltjies (cloves)
4 lourier- of suurlemoenblare
4 middelslag-uie, in dun skyfies gesny
4 knoffelhuisies, in dun skyfies gesny
2-3 cm stuk vars gemmer, in dun repies gesny
1-2 klein brandrissies (chillies), ontpit en in dun skyfies gesny (opsioneel, ontpit indien verkies)
45 ml (3 e) koekmeel
125 ml (½ k) sultanas
- Verhit ’n dun lagie olie oor ’n matige temperatuur vir 5-7 minute in ’n groot braaipan.
- Braai ’n paar van die visporsies op ’n keer vir omtrent 3-5 minute aan beide kante tot goudbruin en gaar. Die dikte van die porsies sal die gaarmaaktyd bepaal – maak seker dat dit nie oorgaar word nie, dan is dit droog. Toets ’n stukkie vis deur dit met twee vurke uitmekaar te trek – as dit ’n soliede wit kleur is en maklik vlok, is die vis gaar.
- Skep die gaar vis uit en plaas op kombuispapier om te dreineer. Herhaal met die orige olie en vis. Dreineer en geur na smaak. Hou eenkant.
- Plaas die suiker, konfyt, asyn, water, speserye en lourier- of suurlemoenblare in ’n middelslag-kastrol. Verhit oor ’n matige hitte en hou aan roer tot die suiker en konfyt opgelos het.
- Bring die mengsel tot kookpunt, verlaag dan die hitte en prut sonder die deksel vir 10 minute.
- Voeg die uie, knoffel, gemmer en brandrissies (opsioneel) by die sous en prut sonder ’n deksel vir nog 8-10 minute. Die uie moet gaar, maar steeds effens krakerig wees.
- Roer ’n bietjie koue water by die meel, om ’n pasta te vorm. Roer van die warm sous by die meelpasta en roer dit by die warm sous in.
- Verlaag die hitte en prut vir ’n paar minute tot die sous verdik. Roer die sultanas by.
- Skep die sous en vis om die beurt, in lae in ’n groot bak of houer. Laat dit heeltemal afkoel en sit as ligte ete met slaai en broodjies (vir die lekkerrrr sous) voor.
Resep uit The AMC Cookbook deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenk
- Moenie die kerrievis vir langer as 5-7 dae in die yskas hou nie. Tensy dit in ’n gesteriliseerde bottel verpak en dan in die yskas gehou word.
Taalfokus
Baie mense praat sommer in Afrikaans ook van hake, maar vergeet dat dit in Afrikaans stokvis is.
Speserye soos wonderpeperkorrels en naeltjies is soms ook vir party vreemd, omdat die Engelse terminologie op verpakking gebruik word. (Sien die notas in die resep vir die twee tale.)







