Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die gewilde skrywer, ANNA EMM, het drie van haar luisterstories gratis vir Afrikaans.com beskikbaar gestel. Lesers kan gerus die webtuiste www.AnnaEmmPod.co.za besoek waar daar meer as 1000 Afrikaanse kinderstories beskikbaar is vir stroom of aflaai. Die gehalte van hierdie stories is puik en ons kan dit met vrymoedigheid aanbeveel. Gaan registreer vandag nog gratis, koop jou tokens of subskripsie en begin luister.
Hier is so ‘n voorsmakie en skakels na die stories:
- WIKKEL-JOU-HIER voorgelees deur Anrich Herbst. Klik hier.
- VIER KONINGS (Storie 1) voorgelees deur Anna-Mart van der Merwe. Klik hier.
- SAKKIE BLOEP (Storie 1) voorgelees deur Diaan Lawrenson. Klik hier.
Meer oor die skrywer
“Ek glo dat ‘n storie wat goed vertel word, die krag het om te genees, te voed, te inspireer en te bemoedig soos geen ander medium op aarde nie.” – ANNA EMM
ANNA EMM is ‘n Suid-Afrikaanse skrywer wat tans in Londen woon. Sy het al meer as 3 000 kinderstories, 21 kort romanse, 38 speurverhale, vyf spanningsverhale en verskeie verhoogproduksies geskryf. Anna glo in die terapeutiese krag van stories en dat dit grootliks bygedra het tot haar heelword nadat sy lank aan depressie gely het.
Anna Magriet van der Vyver (gebore Strydom) – beter bekend as ANNA EMM – is gebore en getoë in Bloemfontein waar sy in ‘n huis grootgeword het omring deur boeke en kuns. Sy het haar eerste boek op die ouderdom van vier jaar geskryf deur die storie vir haar kindertuinjuffrou te vertel. Sy was altyd ‘n obsessiewe leser en het maar altyd haar eie stories ook geskryf. In die laerskool het sy ‘n reeks aksiebelaaide stories geskryf om haar klasmaats te vermaak. Die stories was so gewild dat haar getroue lesers dikwels aangebied het om haar huiswerk vir haar te doen sodat sy die jongste hoofstukke kon klaar skryf.
As 21-jarige onderwyseres in ‘n minderbevoorregte skool in Kaapstad het Anna besef dat die sosiale kwessies wat haar leerders moes hanteer inbreuk gemaak het op hul skoolwerk omdat hulle dikwels getraumatiseer was oor die dinge wat hulle tuis en in hul gemeenskap moes beleef. Omdat sy wou help, het sy besluit om fiksie in te span en het sy vir hulle gelees en ook haar eie stories geskryf waarin die kinders dikwels self die helde was, ongeag hulle omstandighede. Die effek wat hierdie stories op die kinders gehad het, was verstommend en gaandeweg het die kinders ontspan en kon hulle dinge beter hanteer en het dit ook ‘n positiewe invloed op hulle konsentrasie en hul vermoë om hulself uit te druk met behulp van woordeskat, skryf en kuns gehad. Dit het daartoe gelei dat hulle beter kon leer en hul selfvertroue en empatie teenoor ander het ook drasties verbeter.
Fiksie as terapie
Anna se ervaring het haar aangespoor om navorsing te doen oor die gebruik van stories in spelterapie. Dis is toe dat sy besef het dat dit juis stories was wat haar eie oorlewing en herstel bewerkstellig het. Sy het begin agterkom dat daar merkbare fisiologiese verskille was tussen diegene wat met lees en die wat sonder lees grootgeword het. Omdat sy self ‘n skrywer is, het dit haar natuurlik baie opgewonde gemaak.
In 2006 het Anna haar eie produksiemaatskappy, Anna Emm Pty Ltd gestig waarna sy onder andere meer as 3000 kinderstories oor ‘n tydperk van 15 jaar geskryf het. Terapeutiese elemente soos humor, spanning, moeilike raaisels en verbeelding het dikwels deel uitgemaak van die verhale. Die reaksie hierop was oorweldigend en dit het gelei tot talle optredes op televisie, radio en so meer. Sy het ook kursusse ontwerp om onderwysers, terapeute en ouers op te lei in die kuns van storievertel om geestesgesondheidskwessies by kinders, te hanteer. In 2015 het haar maatskappy weggestap met die AfriGrowth-toekenning as Kleinsakeonderneming van die Jaar.
Alhoewel haar maatskappy hoofsaaklik op kinderstories gefokus het, het Anna besef dat ouers ook hulp nodig het. Besige lewens wat hul uitgeput gelaat het, het veroorsaak dat hulle nie die tyd of krag gehad het om lang stories te lees nie. Daarom het Anna besluit om dieselfde beginsels wat sy vir haar kinderstories gebruik het, ook op volwasse verhale toe te pas: kort hoofstukke, karakters waarmee hulle kan vereenselwig, informele dialoog, naelbyteindes (“cliffhangers), ensovoorts. Die resultaat? 21 romanse wat behoorlik van die rakke afgevlieg het.
Anna Emm glo in die krag van stories om te voed, te genees en te herstel. Haar dubbele boekreeks inkorporeer alles wat sy in die verband geleer het. Die verhale in die reeks is fiksie, met spanningsvolle intriges wat daarop gemik is om maklik te lees, maar die skryfstyl is so ontwerp om konsentrasie te verhoog, kreatiwiteit te stimuleer en om die brein te genees van simptome van trauma en uitputting.
In Oktober 2023 het meer as 500 mans en vroue tussen 25 en 65 deelgeneem aan ‘n proeflees van die eerste boek in hierdie dubbele boekreeks (Dual Book series). Hulle moes daarna ‘n anonieme vraelys voltooi. Die resultate was soos volg:
- 82% van die lesers het ‘n drastiese verbetering in konsentrasie gerapporteer, met ‘n daling in angsvlakke, verstandelike moegheid en slapeloosheid.
- 88% van die lesers het gesê hulle voel meer hoopvol, meer ontspanne en het meer energie, selfs dae nadat hulle die boek gelees het.
- 49% van die proeflesers het gesê dat hul vorige geestesgesondheidsimptome heeltemal verdwyn het.
Lees gerus meer op haar webtuiste: https://www.annaemm.com/