ʼn Uitstekende studiegids, gemik op leerders wat Afrikaans as eerste addisionele taal bestudeer, het pas by NB-Uitgewers verskyn. Dis mos nou Afrikaans!, deur Henriette Turner en Suneen Laing, neem jou op ʼn reis vanaf graad 8 tot graad 12 en help jou om Afrikaans Eerste Addisionele Taal te bemeester en uiteindelik graad 12 met vlieënde vaandels te slaag. Die boek is ʼn omvattende, gebruikersvriendelike naslaanbron wat deur sowel leerders as onderwysers gebruik kan word.
Praktiese indeling van inhoud
Die afdelings in die boek word prakties ingedeel volgens die vraestelle wat leerders in die NSS-eksamen skryf.
Vraestel 1: Leesbegrip, opsomming en taal. In hierdie afdeling word daar onder meer gekyk na dinge soos sinonieme en antonieme, afkortings, sinsleer, lydende en bedrywende vorme, trappe van vergelyking, woordsoorte en vele meer.
Vraestel 2: Letterkunde. In hierdie afdeling word die tegniese terme van die digkuns bespreek en daar word ook na die terminologie in kortverhale en romans gekyk en dan word die tegniese aspekte van die drama bespreek.
Vraestel 3: Kreatiewe en transaksionele skryf. In hierdie afdeling word die uitleg van Vraestel 3 bespreek en daar word ook gekyk na die manier waarop hierdie vraestel nagesien word. Die afdeling bied ʼn volledige oorsig oor die verskillende soorte opstelle wat daar is en daar word wenke gegee om ʼn goeie opstel te skryf. Idiome en vaste uitdrukkings is nog ʼn leersame toevoeging tot hierdie afdeling. Al die verskillende tipes lang transaksionele skryfwerk word bespreek en daar word ook gekyk na die formaat van kort transaksionele tekste.
Vraestel 4: Mondeling. In hierdie afdeling leer jy meer oor ʼn voorbereide toespraak en hoe om seker te maak jou voorbereide leeswerk is foutloos. Daar is ook woordeskatlyste en wenke hoe om sleutelwoorde in vraestelle te herken.
Die samestellers van hierdie boek het saam meer as 50 jaar se ervaring van Afrikaans EAT-onderrig en11 jaar as nasieners in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens. Henriette Turner was twintig jaar lank Afrikaansvakhoof by een van die beste Engelsmedium staatskole in die land. Suneen Laing is tans vise-hoof en Hoof van Media van haar skool. Vir enige navrae, stuur ʼn e-pos aan henk.viljoen@nb.co.za