Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Baie van ons lesers sal Debra Meyer onthou as die persoon wat vanaf Januarie 2000 tot Julie 2012 die weervoorspelling op SABC2 in Afrikaans behartig het – meer as 13 jaar lank. In 2014 was sy ook die aanbieder van die KykNET-program “Debra Deel”. Intussen het daar baie water in die see geloop en is Debra Meyer ’n prominente figuur in die Suid-Afrikaanse leef- en akademiese wêreld en ondersteun sy onder andere projekte wat die Afrikaanse taal en kultuur bevorder. Bekend as aktivis, is Debra die verpersoonliking van ’n ware aktivis en werk sy hard en tree sy prakties en daadwerklik op om sosiale en politieke verandering teweeg te bring. Sy sê dan ook dat sy ’n aktivis is vir al die sake wat haar na aan die hart lê: Afrikaans en veeltaligheid in Suid-Afrika, vroueregte, opleiding aan gemeenskappe oor die voorkoming van aansteeklike siektes en meer onlangs om maniere te ontwikkel vir gewone mense om vals nuus te identifiseer, te ondersoek en by die korrekte inhoud uit te kom. Maar Afrikaans.com wou meer weet oor die persoon agter die akademie en aktivisme … die kwessies wat haar laat tiek.
Debra Meyer is in Kliptown gebore en het in die apartheidsjare in Eldoradopark grootgeword en in Afrikaans skoolgegaan. Sy erken dat die apartheidsjare beslis ’n impak op haar uitsig op die lewe gehad het. “Mens kon nie destyds ignoreer dat sekere mense voordele het slegs op grond van velkleur in plaas van op meriete of hulle karakter nie. Nou, drie dekades na die formele beëindiging van apartheid, sien ons nuwe vorme daarvan kop uitsteek en juis daarom mag aktivisme nie uitsterf nie. Die mens se natuur is nie een van regverdigheid nie en daarom is aktivisme daar om verandering teweeg te bring en die balans te herstel.” Regverdigheid is Debra se dryfkrag en juis daarom moet sy altyd kyk hoe sy ’n verskil kan maak om die onregverdige situasie te verander.
Nog iets wat Debra na aan die hart lê, is die komvandaan, geskiedenis en tale van die bruin gemeenskap. Daarom is dit ook vir haar belangrik dat mede-Suid-Afrikaners ’n beter begrip hiervoor moet ontwikkel. Sy vertel dat die townships waarin sy grootgeword het, bestaan het uit ’n mengelmoes van mense. Almal het Afrikaans gepraat en talle het dieselfde kultuur en godsdiens gedeel, maar toe sy destyds uit Eldoradopark universiteit toe is, is haar identiteit vir die eerste keer bevraagteken. “Skielik was my velkleur, my naam en my eerste taal ’n onaanvaarbare kombinasie. Ek het toe besef dat almal in die plekke waar ek grootgeword het ons geskiedenis ken, maar dat die breër Johannesburg hul eie vooroordele gehad het oor wie bruin mense is of wie hulle behoort te wees.” En dit is juis om die rede dat Debra glo dat bruin mense hul eie stories moet vertel en nie kan toelaat dat ander namens hulle praat nie. “Ek het voor Covid-19 gereeld lesings oor die geskiedenis van die bruin mense van Gauteng aangebied, spesifiek vir bruin mense, maar ander groepe het dit ook bygewoon en dit baie goed ervaar. Die idee was om ander groepe oor die bruin geskiedenis te leer en bruin mense te help verstaan waarom hulle nie skaam hoef te wees oor hulle taal of kultuur nie, ongeag wat die politici sê. Dis eintlik belaglik dat die nasate van die Khoi-San, die eerste mense van Suid-Afrika, onseker is oor hul bestaansreg in die land. Deur seker te maak dat ons stories vertel en gehoor word, sal ons ’n beter toekoms vir ons kinders in hulle eie land bewerkstellig.”
Voorstander van moedertaal en meertaligheid
Debra se moedertaal is Afrikaans, maar sy is ook ’n groot voorstander van meertaligheid en glo dat ons baie kan doen om te sorg dat Afrikaans, maar ook die ander moedertale, hul regmatige plek in die land behou, op skool- en tersiêre vlak. Sy beaam dat van ons politici en ander mense in posisies van mag, Afrikaans oorwegend as ’n taal van die onderdrukker beskou en dus ’n baie eng siening van die taal handhaaf. “Dit is ons taak om die ware geskiedenis van die taal meer sigbaar te help kry. In ’n meertalige Suid-Afrika is Afrikaans se bestaansreg meer verdedigbaar, want dan word almal aangemoedig om hulle eie moedertale te bevorder. Afrikaanssprekendes moet verseker dat die aanvraag vir Afrikaans hoog bly. Ons kinders moet in Afrikaans onderrig word en hulle ouers moet verstaan waarom moedertaalonderrig so belangrik is. Daarom is ’n platform soos Afrikaans.com so onontbeerlik. Terwyl daar ’n aanvraag vir Afrikaanse onderwysers is, sal tersiêre instansies die aanvraag moet vul. Kwaliteit privaat- Afrikaanse skole en tersiêre inrigtings moet ook groei, want die kompetisie sal bestaande universiteite noop om te verseker dat hulle Afrikaanse aanbod genoegsaam en van gehalte is.”
Debra noem dat sy gereeld Afrikaans.com se webtuiste besoek om nuus uit die Afrikaanse gemeenskap te bekom of meningstukke te lees, of van die baie projekte onder oë te kry. “Ek word gereeld genooi om by skole of organisasies wat te make het met onderrig, te gaan praat oor die rol van onderwysers in die samelewing of om onderwysers te motiveer. By hierdie geleenthede word ek telkens gevra waar onderwysers of onderwysstudente leerhulp kan kry en dan is my standaard antwoord, Afrikaans.com. Die webtuiste se kwaliteit aanbiedinge maak dit baie maklik om mense daarna te verwys en die terugvoer wat ek kry oor die webtuiste is altyd uiters positief. Ek verwys ook ouers na die webtuiste toe om te gaan leer oor waarom moedertaalonderrig belangrik is.”
Ontwikkeling en kennisoordrag maak Debra gelukkig
Debra sê dat sy daarvan hou om nuwe dinge te leer en daarom dra sy ook graag haar kennis oor. As iemand met ’n doktorsgraad in biochemie en molekulêre biologie is sy dan ook die regte persoon om die publiek en niewetenskaplikes meer te vertel oor die nuwe ontwikkelinge op die wetenskapfront. Dit is hierdie wetenskaplike kennis wat hoofsaaklik in Engels beskikbaar is, wat Debra dus in verstaanbare Afrikaans in haar talle wetenskapartikels oordra.
Debra het raad om die wetenskap- en wiskundekrisis in ons skole op te los. “Ons benodig meer en beter wiskunde- en wetenskaponderwysers. Mense met ’n aanvoeling vir wiskunde moet oortuig en aangespoor word om op tersiêre vlak opleiding in die dissiplines te kry en dan vir ’n tydperk skool te gee in die vak. Goeie onderwysers wat met entoesiasme wetenskap of wiskunde kan aanbied, sal ’n groot verskil maak aan hoe die vakke deur die jonger geslag ervaar word. Ouers en kinders moet ook verstaan dat die toekoms in die 4de industriële revolusie-wêreld veel maklike navigeer kan word mét wetenskap- en wiskundekennis as daarsonder.”
’n Loopbaan met talle hoogtepunte
Na matriek aan die destydse dubbelmediumskool Willow Crescent Senior Sekondêre Skool in Eldoradopark, is Debra universiteit (RAU) toe waar sy uiteindelik haar meestersgraad in biochemie verwerf het. Dit is egter nie waar dit opgehou het nie. Debra het uiteindelik haar PhD in biochemie en molekulêre biologie aan die Universiteit van Kalifornië, Davis in Amerika verwerf.
Debra se loopbaan as dosent en navorser strek so ver terug as 1997 toe sy by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (deesdae die Universiteit van Johannesburg) aangesluit het. Aan die einde van 2007 het sy egter haar loopbaan by die Universiteit van Pretoria voortgesit. Sedert April 2023 is professor Debra Meyer die nuwe adjunk-visekanselier: Onderrig en leer, by die Sol Plaatje Universiteit (SPU) – ’n pos waaroor sy baie opgewonde is.
Sy het al talle navorsingstoekennings ontvang, onder andere die Young Scientist Award van die Academy of Sciences for the Developing World in 2005. In 2007 was sy ook een van tien vroue wat deur Rapport en City Press as gesogte vroue van Suid-Afrika gekies is. Haar bydrae tot die stryd teen vigs deur multidissiplinêre navorsing is maar een van die redes vir hierdie toekenning. Sy inisieer gemeenskapsprojekte, gee openbare lesings, skryf artikels vir navorsing en die media en spog tot op hede met meer as 100 joernaal- en kongresartikels. En asof dit nie genoeg is om haar 365 dae van die jaar besig te hou nie, is sy op die redaksie van twee internasionale tydskrifte en dien sy in die raad van direkteure van vier organisasies.
’n Mentor vir toekomstige akademici
Debra het deur die jare talle studente vir hul M- en PhD-grade gementor en kan dus met gesag praat oor die gehalte van ons akademici. “Suid-Afrika het beslis van die beste akademici in die wêreld, maar dit raak al hoe moeiliker om hulle in die land te hou en vir universiteite om hul standaarde van gehalte navorsing, opleiding en leer te handhaaf. Die maatskaplike agteruitgang van die land, hoë misdaadsyfers, leerders wat swak voorbereid by die universiteit opdaag, die tekort aan navorsingsgelde, en politieke inmengery is maar van die dinge wat veroorsaak dat dit makliker vir ander lande is om ons kundiges na groener weivelde te lok. Ons kan spog met van die bestes, maar ek weet nie vir hoe lank nie. Selfs die bittereinders begin nou sukkel om ’n silwer randjie in die baie donker wolke om ons te sien.”
Debra het egter raad vir hedendaagse studente wat te midde van ‘n swak ekonomie en tekort aan fondse graag wil presteer, maar so dikwels nie ’n pad vorentoe sien nie. Sê Debra: “Die lewens van baie leerders en studente is moeilik, maar dis juis tersiêre opleiding wat hul toekomsvooruitsigte kan verbeter. Studente moet aanhou vra vir hulp en gebruik maak van beurse, donasies en die regeringslenings om by hul drome uit te kom. As jy op universiteit is en hulp vra, sal daar altyd iemand wees wat probeer help. Dis makliker om hulp te kry as jy ook die reputasie het van iemand wat hard werk. Ons kry baie kere studente wat byvoorbeeld die leningskemageld misbruik of nie genoegsaam studeer nie en dus die beurs of lening verbeur. Die bestuur van universiteite soek voortdurend na donasies en finansiële steun vir studente, navorsingsapparatuur en ander noodsaaklikhede. Die nood in baie Suid-Afrikaanse universiteite is groot en juis daarom moet almal saamwerk vir sukses.”
Debra beklee sedert April 2023 die pos van adjunk-visiekanselier by die Sol Plaatje Universiteit waar sy tans verantwoordelik is vir die akademiese projek wat onderrig en leer, studentesukses, deurlopende professionele ontwikkeling van akademiese personeel en navorsing insluit. “Die universiteit is een van die jongstes in die land en ons brei nog ons akademiese aanbod uit, maar dit ten spyt bied ons reeds gewilde kwalifikasies in data- en e-wetenskap aan wat daarop gemik is om graduandi te lewer wat ’n bydrae kan maak tot die suksesvolle gebruik en verdere ontwikkeling van nuwe tegnologieë.
“Gedurende die covid 19-pandemie het die universiteit sy programme suksesvol aanlyn aangebied en ons bou nou op dié sukses voort deur te verseker dat beide studente en dosente op die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling bly. Een van ons strategiese doelwitte is om ’n digitaal-sterk universiteit te wees wat oor afstande, elektroniese dienste aan beide studente en personeel bied. Ons beskou ook nie generatiewe kunsmatige intelligensie as die vyand nie, maar eerder as nog ’n manier om studente en personeel in die leerproses van hulp te wees.”
Ons weet nou wie Debra in die Suid-Afrikaanse leefwêreld is, maar wie is sy by die huis, wanneer sy aan die einde van ’n besige dag die deur agter haar toetrek. “Ek lees baie en kyk ook graag dokumentêre programme – ek is baie gelukkig as ek iets nuuts leer. Ek werk ook, wanneer ek tyd kry of tyd maak, aan ’n boek oor my familie – my nege susters en broers – en my talentvolle ouers. Die herinneringe wat dit meebring om aan die boek te werk, bring baie genot. My kleintyd was ’n eenvoudiger tyd, vol avontuur en godsdiens en baie, baie liefde. Ek geniet ook tyd saam met my ouers se 23 kleinkinders en my peetkinders, Ava-Rose en Zoë, en natuurlik gesels ek dikwels per zoom met my vriende oorsee.”
Debra Meyer het meer as 13 jaar lank die Weer op SABC2 aangebied. Hier is ’n kort uittreksel:
Weather Report by Debra Meyer (Afrikaans) Evening News, SABC 2 (2004) (youtube.com)
Afrikaans.com bedank professor Debra Meyer vir haar tyd om ons vrae so volledig te beantwoord.
Debra ek onthou jou van jare terug, radio en TV. Jy het destyds so groot indruk op my gemaak. Ek word 81 op 28 Feb. 2024. Ek neem deel aan alles op my foon, Facebook en oral waar ek kan deelneem aan speltoetse, engels en afrikaans. Ek bly tops elke keer. Vir my ouderdom het ek wonderlike algemene kennis. Glo my ek lyk miskien 81, maar oortref baie jonges. Geluk op jou wonderlike prestasies. Die Here seën jou.