Hoekom moet ek al weer lees? Ek haat dit! Nie die woorde wat jy uit jou kind se mond wil hoor nie, want om goed te lees is immers noodsaaklik vir leer. Maak lees lekker vir jou kind, want ’n kind wat goed kan lees en skryf, het beslis ’n voorsprong. Afrikaans.com verduidelik met die hulp van kenners hoe om jou leessku kind in ’n potensiële boekwurm te verander.
Hoekom is lees so belangrik?
- Dit bou woordeskat en verbeter taalvaardighede.
- Dit bevorder kognitiewe vaardighede.
- Hoe meer ’n kind lees, hoe beter skryf hulle. ’n Vaardigheid wat baie kan help wanneer opstelle geskryf moet word.
- Dit kan ook wiskunde beïnvloed, veral ten opsigte van woordsomme.
- Dit verbeter jou kind se algemene kennis.
- Dit maak leer makliker.
My kind hou nie van lees nie. Wat kan ek doen?
“Dit is belangrik dat ouers en opvoeders saamwerk in terme van die bewuswording, diagnosering en hulpverlening van ’n kind wat leer- en leeshindernisse ervaar.” – Wietske Boon, spelterapeut
’n Kind wat sukkel met lees, sal dit probeer vermy. En dit is waar die probleem waarskynlik lê. Wietske Boon, ’n spelterapeut in Pretoria sê dat wanneer jy agterkom jou kind sukkel om te lees, dit belangrik is dat jy dit met kalmte en rustigheid benader. Sê Wietske: “Die kanse is goed dat jou kind reeds onseker voel en angstigheid oor lees ervaar. Wees bedag op jou kind se emosionele reaksie ten opsigte van lees, want dit kan leesvordering verder belemmer.”
Wietske beveel verder aan dat ouers daarteen moet waak om te midde van ’n groot emosie of reaksie vir hul kind te sê om rustig te raak, nie te huil nie of dapper te wees. “Om een kind met ander te vergelyk, te straf vir die leesprobleem of te redeneer oor die probleem het geen sin nie en maak kinders net nog meer moedeloos.”
As jy agterkom dat jou kind onder sy/haar ouderdomsvlak leesvaardig is, is dit belangrik om hulp te kry om vas te stel wat die leesprobleem veroorsaak sodat dit op die beste manier hanteer kan word. Wietske sê dat daar baie oorsake hiervoor kan wees en dat dit daarom nie raadsaam is om jou kind self te “diagnoseer” nie.
- As jou kind byvoorbeeld sukkel met woordherkenning, om met begrip te lees en om wat hy/sy gelees het, sinvol te weergee, is dit belangrik om by ’n professionele persoon aan te klop.
- Maak seker jou kind sien behoorlik. As daar enige twyfel bestaan, neem hom/haar na ’n oogkundige toe.
- As jy agterkom jou kind sukkel om te konsentreer, maak dan seker waar die probleem lê.
- Laat doen die nodige toetse sodat jou kind die regte remediërende hulp kan ontvang.
Leesaktiwiteite: Benader dit so:
Wanneer jy en jou kind leesaktiwiteite doen, is dit belangrik dat jy dit ouderdomsgepas hou. Jy gaan jou tyd mors deur jou kind bo sy vermoë te druk. Maak dit prettig en konkreet – dit moet voel soos speel. Wietske gee die volgende wenke:
- Skryf woorde met ’n witbordmerker op Duplo-blokkies en laat die kind ’n sin bou.
- Bou letters en woorde met klei.
- Skryf die sin in ’n eenbeentjiebaan (hopscotch-baan) en laat jou kind die woord lees waarop hy/sy spring.
- Skryf die moeilike woorde in meel of sout.
- Bou woorde met magneetletters.
- Skryf letters op wasgoedpennetjies en bou woorde deur die pennetjies op ‘n karton vas te knyp.
- Lees stories vir jou kind en gesels oor die inhoud van die teks.
- Kyk prente in boeke en gesels oor wat julle sien. Maak jul eie stories op.
Hoe maak jy jou kind lief vir lees?
“Die geheim om jou kind lief vir lees te maak, lê daarin om die regte boek op die regte tyd in die regte kind se hand te stop. Bestee tyd aan jou kind en kry sy neusie so vroeg as moontlik in ’n boek.” – Magdel Vorster, skrywer by LitNET
Magdel Vorster is passievol oor kinderboeke en volgens haar is tyd, geduld, boeke, insig in jou kind se belangstellings en biblioteke van die belangrikste bestanddele om ’n liefde vir lees te kweek. Maak so:
- Stel ’n voorbeeld deur self te lees.
- Maak elke dag tyd om saam met jou kind te lees – al blaai julle net deur die boek.
- Maak seker jy weet waarin hy/sy belangstel.
- Gaan biblioteek toe en laat jou kind self boeke kies.
- Bly geduldig as jou kind elke dag dieselfde storie wil hoor.
- Gee jou kind geleentheid om self stories op te maak en oor te vertel en soek dan boeke wat daarby aansluit.
- Prakseer ’n boekrak in jou kind se kamer.
- Gee boeke as geskenke.
- Belê in oudioboeke. Dit span tegnologie in en bevorder terselfdertyd die kind se ouditiewe vaardighede.
- Maak ’n “mobiele” biblioteek wat oral kan saamgaan en gereeld aangevul of vervang word. Dit kan sommer in ’n mandjie wees.
- Onthou: Strokiesprentboeke is ook boeke.
Die bekende skrywer, Jaco Jacobs, sê dat boeke deel van jou kind se grootword moet wees. Daarbenewens moet ouers deel van die leesavontuur word. Kinders moet toegelaat word om hulle leesvoorkeure te ontgin.
Bronne:
Wietske Boon spesialiseer in speelterapietegnieke. Sy werk veral met kinders tussen twee en 15 jaar oud en gee ook ondersteuning aan ouers, kleuterskole en opvoeders in vroeëkinderontwikkeling. Haar webtuiste bied talle gratis artikels oor ’n verskeidenheid onderwerpe. Lees meer hier
Edublox verduidelik hoe om jou kind lief te maak vir lees. Klik hier
Ouers deel wenke op LitNET. Klik hier
Magdel Vorster deel haar resep en wenke om jou kind lief vir lees te maak. Klik hier
Lees ook:
Leespleisters van Isabel Pretorius – ’n praktiese handleiding vir die onderwyser, tuisskoler of ouer. Klik hier of skakel 078 761 2241 vir inligting.
Kry jou kind aan die lees. Klik hier