Skrywer: Alita Steenkamp
Sou jy op die internet meer wou lees oor ons nasionale vissoort, die galjoen, gaan jy heel waarskynlik op Wikipedia afkom wat ook ʼn Afrikaanse inskrywing oor hierdie vissoort het. Loop jy die geskiedenis van hierdie inskrywing na, sal jy merk dat ene Oesjaar die Afrikaanse artikel gelaai het. Deon Steyn wat in Krugersdorp woon, werk aan die Afrikaanse weergawe van Wikipedia onder die gebruikersnaam Oesjaar.
Op Sondag 11 Junie het Rapport ʼn interessante artikel, geskryf deur Antoinette Slabbert, oor Deon Steyn geplaas om meer te vertel oor sy werksaamhede met die skep en vertaal van artikels vir Wikipedia.
Rapport verwys na hom as die man wat Afrikaanse Wikipedia lewend hou. Deon is ʼn direkteur van Wikimedia ZA, die Suid-Afrikaanse been van die Wikimedia Stigting wat in San Francisco gebaseer is, en die eienaar is van die domein wikipedia.org.
Foto: NETWERK24, fotograaf: Elizabeth Sejake
Deon vertel dat hy 14 jaar gelede ʼn Afrikaanse artikel geskryf het oor optiese vesel met die idee om dit by Wikipedia in te dien. Hy moes toe gou hoor dat dit nie sommer net so kan gebeur nie. Daar moes bronverwysings na al die aspekte in die artikel wees. Dit het sy belangstelling geprikkel en in hierdie 14 jaar het hy al 12 565 Afrikaanse artikels vir Wikipedia geskryf en 208 000 korreksies aangebring aan Afrikaanse artikels op hierdie gratis aanlyn ensiklopedie. Dis nog meer merkwaardig wanneer ʼn mens hoor dat die werk aan Wikipedia vrywillige werk is en dat ʼn mens geensins daarvoor vergoed word nie. Jy deel bloot jou kennis en jou vermoë om inligting te verskaf gratis aan ʼn honger gehoor daar buite wat al hoe meer afhanklik word van internetbronne wanneer hulle meer inligting oor ʼn verskeidenheid van onderwerpe wil kry.
“Dis vir ons baie belangrik dat Wikipedia erken moet word as ʼn geloofwaardige bron, en daarom het ons ʼn ooreenkoms geteken met die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waarvan prof. Anne-Marie Beukes die uitvoerende hoof is. Op hierdie manier maak ons ook seker die Afrikaans waarin ons skryf, is keurig en nie sommer net Straat-Afrikaans nie. Ons wil immers nie die skoolhoofde woedend maak deur iets te plaas in minderwaardige taal nie en daarmee help prof Anne-Marie en selfs prof. Gerhard van Huyssteen van VivA ons baie. Ons hoop dat die negatiwiteit wat daar in sommige kringe teenoor Wikipedia is, omgekeer kan word. Die oomblik wat ons wat aan Wikipedia werk afkom op iets wat verkeerdelik verander is of ʼn foutiewe bron aandui, volg ons dit op met ʼn gesprek met die persoon wat die artikel geskryf het sodat enige verskille uit die weg geruim kan word,” sê Deon.
Om soveel ure aan vrywilligerwerk af te staan, verg ʼn spesiale soort mens.
Deon sê dan dat dit wat hom gedryf het om by hierdie werk betrokke te raak, juis sy liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur is.
Hy onthou hoe hy as kind ensiklopedieë soos Kennis en die Afrikaanse Kinderensiklopedie verslind het. Deesdae is daar weinig eietydse alternatiewe Afrikaanse leesstof vir kinders beskikbaar. Nou verwys hy glad nie na prosa en poësie nie, maar na tegniese leesstof, geskiedenis, biologie, wiskunde, entomologie en so meer. Sulke doelgerigte bronne ontbreek in Afrikaans.
Deon vertel dat die span wat tans help met die skep van nuwe Afrikaanse artikels vir Wikipedia almal professionele mense soos aptekers, IT-spesialiste, chemiese ingenieurs en so meer is. Die grootste uitdaging is natuurlik om nie plagiaat te pleeg wanneer jy uit ander bronne aanhaal nie. Deon sê dat hulle enigeen wat hierdie werk wil doen aanraai om as ʼn gebruiker te registreer. Dit maak dit net baie makliker om te kommunikeer. Op daardie manier kry jy jou eie gebruikersblad en besprekersblad. Wanneer jy as nuwe bydraer onseker is oor iets soos hoe om ʼn foto op te laai, of ʼn tabel by te voeg, kan Kobus en sy span jou help. Dis belangrik om te onthou dat dit vrywilligerwerk is en dat daar nie vergoeding daarvoor is nie. Deon nooi almal uit om ʼn bietjie te gaan kyk na hulle Facebookblad. Daar is gereeld nuus oor opleidingsgeleenthede en die werk wat hulle doen.
Vir hom lê die grootste vreugde van sy werk by die skep van Afrikaanse artikels op Wikipedia in die aantal besoeke wat hy van hierdie blaaie kry. Deon-hulle verwys na bladtrekke wanneer daar gekyk word hoeveel besoekers die blad gelok het. Hy kan gou sien wanneer ʼn spesifieke onderwerp deel is van die kurrikulum, want dan styg die aantal besoekers aan so ʼn blad, drasties. Om te weet die werk wat hy geskep het dien ʼn goeie doel en word benut, is rede tot dankbaarheid, volgens Deon.
Deon sê hy sal so lank dit vir hom moontlik is met hierdie projek aangaan.
“Hoekom moet ons kennis van kinders weerhou net omdat hulle nie geld het om boeke te koop nie?”