Botterskorsiesop is ’n baie gewilde resep in Suid-Afrika en elkeen het hul eie manier om dit te maak. In hierdie weergawe word die botterskorsie en speserye eers in die oond gerooster en dan saam verpulp. Dié gaarmaakproses gee die sop ’n baie besonderse smaak en dit is absoluut die moeite werd. Die geroosterde kekerertjies is regtig lekker en maak die sop ekstra spesiaal.
Lewer 8 – 10 porsies
2 kg botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
6-8 preie of 2 groot uie, in skyfies gesny
1-2 knoffelhuisies, gekneus
1 klein heel brandrissie, of ontpit en gekap (opsioneel)
15 ml (1 e) komynsaad of 30 ml (2 e) gemaalde komyn
2 heel kaneelstokkies
60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie
suurlemoensap, sout en peper na smaak
1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer, maar behou die vloeistof
2 liter (8 k) sterk Rooibostee of groente-aftreksel
20 ml (4 t) matige kerriepoeier
Spesery-kekerertjies vir garnering
1 x 410 g-blik kekerertjies, baie goed gedreineer
5 ml (1 t) paprika
2,5 ml (½ t) gemaalde komyn
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
1-2 skywe fetakaas, gekrummel
- Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Plaas die botterskorsie, preie of uie, knoffel, brandrissie, komyn en kaneelstokkies in ’n groot mengbak. Skink die olie oor en geur met suurlemoen, sout en peper. Meng tot alles deeglik met olie bedek is.
- Skep die groente op ’n groot bakplaat en rooster vir 30 minute of tot gaar. Roer die kekerertjies deur. Rooster vir nog 15 minute en haal uit die oond. Verhoog die oondtemperatuur tot 200 °C.
- Plaas ⅔ van die geroosterde groente en kekerertjies met die vloeistof uit die blikkie, aftreksel of tee en kerriepoeier in ’n groot kastrol. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en prut vir 10-15 minute.
- Spesery-kekerertjies: Plaas solank die kekerertjies met die speserye en olie in ’n mengbak en roer tot die kekerertjies met olie bedek is. Plaas op ’n klein bakplaatjie en rooster vir 10 minute of tot goudbruin en bros.
- Verwyder die brandrissie (of hou dit in die sop as jy van ’n skerper smaak hou) en kaneelstokkies en verpulp die sop met ’n stokmenger of in ’n voedselverwerker tot ’n gladde mengsel.
- Roer die behoue groente en kekerertjies deur en verhit tot deurwarm. Verdun die sop met nog aftreksel of tee, as dit te dik is na jou sin. Geur na smaak en sit met die spesery-kekerertjies en feta voor.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira