Malvapoeding is ’n gewilde Suid-Afrikaanse nagereg en beslis deel van ons koserfenis. Hierdie resep gebruik ’n eg Suid-Afrikaanse bestanddeel – Rooibostee, in die sous en die vla. Die karringmelk is nie ’n tipiese bestanddeel in malvapoeding nie, maar gee dit ’n sagte tekstuur en die Rooibostee se subtiele, maar interessante geur, maak dié resep regtig spesiaal. Die tuisgemaakte Rooibosvla is heerlik – moenie die fyngerasperde suurlemoenskil uitlos nie, dis ’n verrassende geurelement. Danksy hierdie paar veranderinge, gebruik die resep aansienlik minder suiker, maar jy gaan dit nie eers agterkom nie.
Lewer 6-8 porsies
Poeding
250 ml (1 k) koekmeel
5 ml (1 t) koeksoda
1 eier, geklits
80 ml (⅓ k) suiker
60 ml (¼ k) goeie kwaliteit of tuisgemaakte appelkooskonfyt
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) karringmelk of melk
45 ml (3 e) botter
10 ml (2 t) witwynasyn
Sous
125 ml (½ k) melk
125 ml (½ k) sterk Rooibostee
60 ml (¼ k) botter
60 ml (¼ k) suiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Rooibos-vla
750 ml (3 k) melk
4 Rooibosteesakkies
75 ml (5 e) vlapoeier
30 ml (2 e) ligte bruinsuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
- Poeding: Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n 1,5-liter oondbak liggies met botter.
- Meng meel en koeksoda saam. Klits eier, suiker, konfyt en vanielje saam tot glad, lig en donsig.
- Meng die karringmelk en botter saam in ’n kastrol oor ’n matige hitte tot die botter gesmelt het. Voeg die asyn by – moenie bekommerd wees as dit skif nie.
- Klits die meelmengsel by die eiermengsel. Voeg die warm karringmelkmengsel geleidelik by en klits om ’n gladde beslag te vorm.
- Giet die beslag in die oondbak en bak vir 30-35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
- Sous: Plaas intussen die sousbestanddele in ’n klein kastrol. Roer oor matige hitte tot die suiker opgelos het. Bring tot kookpunt en prut vir 5-10 minute.
- Prik die warm poeding oraloor met ’n vurk. Giet die warm sous oor en laat heeltemal intrek. Plaas vir nog 5 minute terug in die oond.
- Vla: Skink 550 ml van die melk in ’n kastrol en sit die teesakkies daarin. Bring dit oor matige hitte tot net onder kookpunt.
- Meng intussen die vlapoeier, suiker en orige melk tot ’n gladde pasta. Skink ’n bietjie van die warm melk by die vlamengsel en roer tot daar geen klonte is nie. Haal die teesakkies uit die melk.
- Giet die vlamengsel terug in die kastrol en laat dit liggies vir ’n paar minute prut, terwyl die vla heeltyd geroer word. Prut tot dit verdik het en roer dan die vanieljegeursel en suurlemoenskil by.
- Sit die warm malvapoeding dadelik met die warm vla voor.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira