Dié sop, propvol Italiaanse geure, is meer as net nog ’n groentesop. Dis ’n heerlike kombinasie van smake en teksture – regte koesterkos. En ja, ek gebruik graag Rooibostee in plaas van aftreksel as kookvloeistof, want aftreksel is dikwels te sout.
Lewer 6 – 8 porsies
10 ml (2 t) komynsaad
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
1 groot rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
2 uie, gekap
2-3 knoffelhuisies, fyngedruk
3 selderystingels met blare, in skyfies gesny
2 wortels, in blokkies gesny
2 middelslag-eiervrugte met die skil, in blokkies gesny
2 x 410 g-blikke gekapte tamaties
1,25-1,5 liter (5-6 k) sterk Rooibostee of groenteaftreksel
1 lourierblaar
60 ml (¼ k) gekapte vars Italiaanse pietersielie
suurlemoensap, sout en peper na smaak
2-3 handevol babaspinasieblare of 2-3 groot spinasieblare, in dun repies gesny
45 ml (3 e) gekapte vars kruisementblare
repies pecorino- of parmesaankaas, met ’n aartappelskiller gemaak of gekrummelde fetakaas
2-3 klein roti’s of pitas, in repies of driehoekies gesny en vir ’n paar minute teen 200 °C in die oond tot bros gerooster (opsioneel)
- Verhit ’n groot kastrol oor matige hitte en rooster komynsaad, sonder enige olie, vir 2-3 minute of net tot aromaties. Hou dop dat dit nie brand nie – voeg dan liewer ’n klein bietjie olie by. Skep die saadjies uit en hou eenkant.
- Verhit die olie oor matige hitte in dieselfde kastrol en soteer die soetrissie, uie en knoffel tot amper sag. Voeg seldery, wortels en eiervrug by en soteer nog ’n paar minute.
- Roer komynsaad met die tamaties, Rooibostee of aftreksel, lourierblaar en helfte van die pietersielie by. Sit die deksel op, verlaag hitte en prut vir 25-30 minute of tot die groente sag is. Geur na smaak.
- Roer spinasie deur tot dit net sag is, maar steeds helder groen. Roer orige pietersielie en kruisement by. Sit dadelik met die kaas en roti’s of brood van jou keuse voor. Lepelsvol ongegeurde jogurt is ook baie lekker.
Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Roer plantaardige proteïene soos bone, kekerertjies of lensies by. Anders kan repies gaar vleis of iets soos skyfies chorizo-worsies heerlik wees.
- Verpulp die sop of ’n gedeelte daarvan as jy die groente vir kieskeurige eters wil ‘wegsteek’.
Afrikaanse WOORD: Koesterkos
Dié mooi Afrikaanse woord laat ’n mens se hart (en maag) dadelik warm voel. Dit roep herinneringe van smullekker kos op en word dikwels met winterkos of dalk ’n gereg uit jou kinderdae geassosieer.
Die Engelse woord, comfort food, word gereeld gebruik, maar die Afrikaanse weergawe is net soveel meer beskrywend.