Hierdie maand hou ons jou op die punt van jou stoel met NB Uitgewers se keur van boeke. Al hierdie verhale het een ding in gemeen … hulle laat die hare op jou arms rys. Kies en keur uit hierdie verhale vol spanning en besoek NB Uitgewers se webtuiste om hierdie boeke deel van jou leeslys te maak.
Vuurvoël
Elmarie Viljoen-Massyn
ISBN-13: 9780798183406
Wanneer die oënskynlik uiteenlopende wêrelde van Big Pharma en ’n Serwiese dwelmkartel paaie kruis, word donker geheime ontrafel. Stella Mertens is ná ’n dekade in Brussel terug in Bloemfontein. In haar tas is twee belangrike items: ’n foto van haar ma soos sy was voor die kliniese studie vir skisofrenie waaraan sy ’n deelnemer was, en ’n brief van ’n fluitjieblaser oor wanpraktyke in dié einste studie, gepleeg deur Experior. Stella se nuwe werkgewer, Mark Dejongh, bedryfshoof van Experior in Chicago, is op besoek aan hul Bloemfonteinse tak. Hulle is midde-in ’n studie waarin ’n deurbraak-salf vir letsels getoets word. Indien die studie vlot verloop, is daar reusekontrakte in die pyplyn. Riaan Steytler, bestuurder by dié tak, ontvang ’n boodskap dat sy voormalige pel Branko, klubeienaar in Kaapstad, op pad is om te kom kuier. Waarom, weet hy nie. Al wat Riaan weet, is dat hy dieper as kniediep in die gemors is.
Geheim van die gruwelsand
Zirk van den Berg
ISBN: 9780795710346
Moordenaars. Afpersers. Nazi’s in die Namib. En dis by verre nie die ergste waarmee die diamantsmokkelaar Barra Nel hier laat in 1942 te kampe het nie. Nie as die Nazi-navorsers se eksperimente skeefloop en liederlike gedrogte in die woestyn ontketen nie. Dis gevaar net waar jy kyk. En hoe gaan hy vir Hedda red, die Duitse wetenskaplike wat smeulende gevoelens in hom ontlok? Geheim van die gruwelsand is ’n barre konkoksie van lekkerlees-genres: skop-skiet-en-wonder, wetenskapfiksie, geskiedkundig en griller, met ’n sterk streep romanse.
Doolhof
Rudie van Rensburg
ISBN: 780795802553
Omstrede oud-politikus en skatryk sakeman Armand Deysel is vermoor, en Kassie en Rooi moet agter die kap van die byl kom. Gou het hulle nie minder nie as ses verdagtes: Die Deysel-eggenoot met die vreemde huweliksverhouding; die vermoorde se minnares met die bedenklike verlede; ’n verregse, onstabiele pa en seun; ’n glibberige kalant in die uitsmyterbedryf; én ’n man wat glo sy broer se selfdood kan voor Deysel se deur gelê word. Kassie dool omtrént tussen dié skare, een en elk met ’n motief vir moord. Intussen is ’n Britse ondersoeker op die spoor van die waardevolle Doolhof-halssnoer, en ’n platsakman wat sy selfrespek moet herwin, steier telkens terug van ’n onsimpatieke samelewing se dwarsklappe. Kassie en Rooi pak hul moordondersoek sonder veel forensiese rugsteun aan, en al die verdagtes hardloop kringe om hulle. Dis heeltyd net doodloopstrate en syspore, ’n ware doolhof om hom en Rooi. Gaan iemand dié keer vir Kassie ore aansit en met die perfekte moord wegkom?
Die verkeerde vrou
Irma Venter
ISBN: 9780624093213
Die plek is stikdonker. Daar is nie eers ’n stukkie daglig wat iewers inkruip nie. Of is dit reeds aand? Ek het geen idee hoe laat dit is nie. Hoe lank is ek al hier? Liela Oloffson se ouers is in ’n huisbrand oorlede toe sy tien jaar oud was, maar vandag het sy alles wat die meeste mense begeer. Skoonheid, roem, en ’n blink loopbaan as aktrise. Maar dan verdwyn sy een Vrydagnag spoorloos en kaptein Kgomotso vra gesoute misdaadjoernalis Ami Prinsloo se hulp. Soos ’n bloedhond volg Ami Liela se spoor van waar sy laas by ’n Engen-garage in Johannesburg gesien is. Maar waarom lyk dit op die CCTV-kamera of Liela alleen van die garage wegry? Kruip Liela weg of is sy gekaap? Of dalk ontvoer? En waaroor het sy en haar verloofde so hewig baklei net voor sy verdwyn het? Die verkeerde vrou is die tweede boek in Irma Venter se nuwe reeks met misdaadjoernalis Ami Prinsloo as hoofkarakter. Die verkeerde vrou volg op Minder as niks, maar kan ook alleen gelees word.
Buit
Dibi Breytenbach
ISBN: 9780795710605
Markus Gerlach en sy kameraad Domingos Magadzi vlug oor die grens van Suid-Afrika na die noorde van Mosambiek omdat hulle vrees dat hulle van die moord op drie mense aangekla sal word. Vir Phoebe Maritz, ’n kleindorpse joernalis, is dit ’n kans om eindelik ’n storie van internasionale belang na te jaag en sy sit die twee met die hulp van ’n veiligheidskontrakteur, Paul Fryer, agterna. Sy hoop om ’n eksklusiewe onderhoud met Markus los te slaan en die waarheid te ontbloot. Maar Cabo Delgado, waar Markus wegkruip, word deur verwoestende terreur geteister en niemand is daar veilig nie. Gou bevind Phoebe haar in die middel van ’n plofbare botsing tussen gevreesde insurgente, kastige filantrope, private militêre kontrakteurs, agente van internasionale olie-en-gasmaatskappye en – erger nog – ’n bloeddorstige reeksmoordenaar.
Gerugte van ‘n ontvoering
Chris Karsten
ISBN: 9780798182393
Wanneer Harry asemskep tussen sy omswerwinge deur Afrika, kom kuier hy by sy geliefde ma in Johannesburg. Gusta is veral na aan sy hart ná sy pa haar vir ’n jonger pop gelos het. Gelukkig weet Harry sy is veilig daar bo in haar luukse penthouse in Ponte Towers.
Teen die tyd dat Harry in Oos-Afrika opgespoor word, is sy ma al dae lank dood. Harry kry die reuk van ’n groot gekonkel. Nie eens daai parmantige Ella Neser gaan hom keer nie.
Nog ’n hoogtepunt in Chris Karsten se Ella Neser-oeuvre.
Polsslag
Marie Lotz
ISBN: 9780798182942
Speurder-kaptein Alek Strauss van die FSO word saam met sy span uitgeroep na ’n raaiselagtige moordtoneel. Die liggaam van ’n vrou is in ’n afgeleë bouval in Pretoria-Oos gevind. Advokaat Lynn Rawlins is skynbaar verwurg. Teen die muur staan in bloed geskrywe: Sprich nichts Böses.
Doktor Nadiya Patel, forensiese sielkundige, is vas oortuig die moordenaar se modus operandi is ’n waarskuwing dat nog lewens in gevaar is.
’n Meesleurende spanningsroman deur Marie Lotz, die skrywer van Roofdier.
Vlam
Sidney Gilroy
ISBN: 9780798182188
Sollie Mthembu se huwelik lê aan skerwe. Nyandi het die kinders gevat en is sak en pak terug Lesotho toe. Terwyl hy in ’n Bloemfonteinse gastehuis lê en tob oor waarom Nyandi hom sou wantrou, brand ’n kunsgalery op Parys tot op die grond af. Die wêreldberoemde kunstenaar Aretha Hattingh se oeuvre – en tuiste – nou ’n hoop as. En in die middel van die ruïne: die oorskot van ’n vrou, vermoedelik dié van Aretha.
Is dit moord? Selfdood? Of bloot ’n fratsongeluk?
Die wet van Gauteng
Hannes Barnard
ISBN: 9780798182379
Kapteine McKelly en Mhlanga ontmoet op die misdaadtoneel van ’n mislukte plaasaanval in Muldersdrift. Nog ’n lyk met ’n gapende linkeroogkas word gevind. Dit bring die getal slagoffers wat vanaf Februarie in die Gauteng-area met dieselfde modus operandi vermoor is op ses te staan.
Die wet van Gauteng het ’n eg verweefde Suid-Afrikaanse intrige: politieke faksiegevegte, korrupsie en geldwassery. Hoogs leesbaar, aksiebelaaid en meesleurend.