Skrywer: Alita Steenkamp
Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in April die name van die pryswenners van die Akademiepryse vir 2023 aangekondig. Een van die gesogte pryse is die Eugène Marais-prys wat jaarliks om die beurt vir prosa en poësie toegeken word vir ’n skrywer se debuut of tweede werk. Vanjaar het Kirby van der Merwe hierdie prys opgeraap vir sy boek Eugene wat in 2022 by Human & Rousseau verskyn het. ’n Vroeëre weergawe van die manuskrip het in 2021 derde geëindig in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd.
Kirby het in die Paarl grootgeword en het aan Hoërskool Noorder-Paarl gematrikuleer. Nie net kan hy prentjies met woorde teken nie, maar hy is ook ʼn kunstenaar wat reeds op 18-jarige ouderdom ʼn solo-uitstalling gehad het waarvan alles verkoop is. Hy was deel van ʼn groep Struggle-kunstenaars van die 70’s en 80’s. Hy het onder meer deelgeneem aan groepuitstallings soos die Second Carnegie Inquiry into Poverty-uitstalling en die End Conscription Campaign-uitstalling wat deur die polisie gestop is. Kirby was ʼn taal- en kunsonderwyser totdat hy in 1996 die onderwys verlaat het. Sy debuutroman, Klapperhaar slaap nie stil nie, het in Oktober 2019 verskyn.
Kirby sê dis besonder lekker om vereer te word, maar voeg dan skertsend by dat hierdie eintlik ’n prys is wat ʼn mens moet kry wanneer jy baie jonk is en hy is nou al aan die verkeerde kant van 50. Tog is hy besonder dankbaar dat hy die prys juis vir Eugene gekry het. Dis ’n storie wat hy móés skryf.
“Almal het mos ’n storie wat geskryf moet word. Dit is amper so ’n bestekopname van jou lewe. Daar is baie dinge in die boek waaroor ek jare lank gebroei het of geweet het ek gaan dit eendag iewers gebruik. Dan het ek maar notatjies gemaak en dit iewers gebêre. Ek moes hierdie boek skryf voordat ek kon aangaan met enige ander werk,” sê hy.
Die titel van hierdie roman, het ’n interessante verbintenis met ’n liedjie van Pink Floyd waarin die lirieke voorkom: “Careful with that axe, Eugene.” Dit vertel die verhaal van die grootword van die hoofkarakter, soos een resensent na hom verwys, ʼn ‘gentleman-skollie’. Hy is ’n geleerde en gesofistikeerde man, maar die rowwe buurt waarin hy grootgeword het, en die gewelddadigheid wat hom altyd omring het, het ’n merk op hom gelaat.
Kirby gee toe dat daar besonder baie outobiografiese gegewe in die boek is, maar daar is netsoveel fiksie in Eugene. Karakters wat beslis nooit bestaan het nie. Terwyl hy die boek geskryf het, was hy soms bang dat iemand hulleself gaan raaklees daarin.
“Jy weet, ek het eenmaal met ’n ander skrywer gesels. Sy vertel my toe ’n vrou het haar tromp-op op die trein gevra hoe durf sy haar storie steel. Die skrywer was heeltemal oorbluf, want haar verhaal was heeltemal fiktief. Ek dink dit is die kenmerk van ’n goeie verhaal: wanneer mense hulself daarin kan raaklees,” sê Kirby.
Die boek begin met ’n aanhaling uit ’n gedig wat die Duitser Bertold Brecht in 1922 geskryf het – Van arme B. B. Dié gedig is ʼn opsomming van die hoofkarakter se lewe, interessant genoeg het daar 100 jaar verloop sedert die gedig geskryf is en die publikasie van Eugene. Kirby sê hy het meer as 20 jaar geloop met die idee van die boek, maar hy het aanvanklik nie geweet hoe om dit aan te pak nie. Hy wou nie ʼn Struggle-boek skryf nie, maar tog kan hy nie die wêreld waarin hy grootgeword het, ontken nie. Hy is wel dankbaar dat die karakter Eugene hom aangemeld het as die instrument om hierdie storie te vertel.
Hy is tans besig om skilderye te verf. Dit noem hy Eugene se trauma-skilderye. Kirby is nie van plan om die skilderye te verkoop nie, maar wil dit uiteindelik deel van die boek maak. Hopelik kan daar dan vorentoe ʼn uitgawe van die boek wees waarin lesers sal kan sien hoe Eugene sy trauma met sy skilderkuns verwerk het.
“Ek is reeds weer besig met ʼn manuskrip. Die enigste probleem is nou moet ek ʼn haas uit ʼn hoed trek, of van rat verwissel sodat die nuwe boek nog beter kan wees,” sê Kirby. Hy lag weer. “Maar aan die ander kant is ek dankbaar dat Eugene se storie nou vertel is. Ek is nou amper bevry om te skryf wat ek wil.”