Nicholis gesels oor sy nuwe enkelsnit en beantwoord vyf vrae sodat lesers hom beter kan leer ken.
“Dit bly ’n kunsvorm op sy eie om verskillende smake met mekaar te versoen. Partymaal kom hierdie smake uit kossoorte wat jy normaalweg eerder nie saam op een bord sou sit nie. Daar is egter altyd daardie een persoon wat die waagmoed het om tog hierdie onbekende terrein van smake en teksture te ondersoek. Soms is die gekombineerde smake aaklig, maar soms is dit absoluut hemels.” So sê Nicholis Louw wat onlangs sy jongste album vrygestel het.
5 vinnige vrae om Nicholis beter te leer ken
V: As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom? Dit kan ’n paar woorde wees of ’n volledige paragraaf. Jy kan selfs iemand aanhaal.
‘’As jy vandag moes sterf, waar sou jy gaan?’’
Ek dink dit sou ‘n verskil maak in mense wat die tyd vat om daaroor te dink.
V: Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het? Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees.
My vrou en kinders is die beste aardse beleggings wat ek al gemaak het.
V: Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurd wat jy baie graag doen?
Ek dink min mense besef hoe baie tyd ek in my tuin spandeer. Dis nie iets wat met my publieke beeld versoenbaar is nie, maar ek is baie erg oor my tuin.
V: Oor die afgelope vyf jaar, waarvoor sê jy nou meer geredelik, of makliker, nee? (Byvoorbeeld uitnodigings, afleidings, ens.) Watter nuwe insig of siening het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?
Ek is baie meer oordeelkundig oor die mense wat ek in my lewe toelaat, en ek is bereid om vir baie meer nee te sê ten opsigte van blootstelling / bemarking. Nie alle bemarking is die resultaat, of nagevolge werd nie.
V: Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
As dit gedurende die dag gebeur, stop ek wat ek doen, klim in die kar en op die naaste oop pad, en ry net. As dit in die aande is, is my plek natuurlik by my huis saam met my gesin. Dan stop ek wat ek MOET doen, en gaan doen iets wat ek WIL doen. Ek kry dit gewoonlik in die laat nagte wat ek werk. Dan is die beste om net voor die tv te gaan lê en net jou brein af te skakel.
In sy nuwe liedjie “Coco Pops En Kaas” sing Nicholis Louw oor hierdie verskynsel en trek hy die metafoor deur na sy verhouding met sy vrou. Die lied vertel hoe onwaarskynlik sukses tussen twee uiterstes is, maar hoe dit tog kan saamwerk om iets beter te skep as wat die twee afsonderlik bied.
Louw verduidelik dat ’n nostalgiese tyd in sy lewe “Coco Pops En Kaas” geïnspireer het. “Dis ’n ongelooflike kombinasie. Coco Pops en kaas was nog altyd my gunstelingontbytkos.”
Die lied sinspeel verder op vreemde koskombinasies wat veronderstel is om afstootlik te wees, maar waarvan die gekombineerde smaak voortreflik is.
Nicholis het die self die lied geskryf en die verwerking is behartig deur Robin Kielly. Die opgewekte lirieke, melodie en verwerking sal jou vinnig laat saamsing en (soos net Nicholis Louw se musiek kan) jou aanpor om op te spring en te dans.
Louw het vir seker geen bekendstelling nodig nie en is een van ons land se mees diverse sangers. Hierdie nuwe lied is deel van sy oorgang na die country-genre. Alhoewel daar ooreenkomste met sy vorige musiek is, sal die lied sy bestaande aanhangers begelei tot sy nuwe klanke.
Hy verduidelik dat hy sy musikaliteit uitbrei deur na ’n verskeidenheid kunstenaars uit verskillende genres te luister en dat sy musiek veral beïnvloed word deur musikante soos Don Williams, Andrea Bocelli, Garth Brooks, Kenny Rogers en Placido Domingo.
Al trek jy jou neus op vir suiker op roosterbrood, of piesang en kaneel, sal jy hou van dit wat jy hoor met Nicholis Louw se “Coco Pops En Kaas”.
Met meer as 10 albums op sy naam en verkope wat lankal reeds die halfmiljoenmerk verbygesteek het, beloof “Coco Pops En Kaas” om spoedig nog ’n treffer te word.
COCO POPS EN KAAS is nou beskikbaar op alle digitale musiekstromingsdienste.
Luister dit hier: https://linktr.ee/nicholislouw
Kyk die video hier: https://youtu.be/kqr7n-n5uSg
SOSIALE MEDIA
Facebook: https://web.facebook.com/nicholis.louw.7
Instagram: https://www.instagram.com/nicholis_louw
Twitter: https://www.twitter.com/NicholisLouw
PUBLISITEIT & BEMARKING
STARBURST PROMOTIONS
Danelle Liebenberg
Sel: 0715347796
E-pos: danelle@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za