Op Internasionale Moedertaaldag, 21 Februarie, het Beeld ʼn opwindende skryfkompetisie aangekondig waarin leerders heerlike pryse kan wen. Die hoofborg van Beeld se kreatiewe skryfkompetisie is die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON).
Beeld se kreatiewe-skryfkompetisie skep ʼn platform vir skoolkinders om hulself kreatief in hulle moedertaal uit te druk, maar daar is ook geleentheid vir leerders wat Afrikaans as eerste addisionele taal bestudeer, om deel te neem.
Daar is drie kategorieë waarin skole hul leerders se opstelle kan inskryf: Afrikaans huistaal (hoërskole), Afrikaans eerste addisionele taal (hoërskole ) en Afrikaans huistaal (laerskole). Hierdie kan opstelle wees wat vanaf Januarie vanjaar tot Augustus 2023 geskryf word. Hoërskole kan 15 leerders se skryfwerk inskryf – drie per graad.
Heerlike kontantpryse
Die wenners in elke kategorie kry R3000 kontant en kursusse van Multidimensions. Die Afrikaans-onderwysers van die wenners kry R4900. Die naaswenners in elke kategorie kry R2000 kontant sowel as kursusse van Multidimensions en die Afrikaans-onderwysers van die naaswenners kry R2500. Die leerders wat wegstap met die derde plek in elke kategorie kry R1000 kontant en kursusse van Multidimensions. Die Afrikaans-onderwysers van al hierdie derde plek-wenners kry R1500 kontant.
Individue kan ook inskryf
Daar is ook vanjaar ʼn ope-kategorie wat aan leerlinge die geleentheid bied om individueel in te skryf. Die tema vir hierdie ope-kategorie is: “Wat ek die beste in Afrikaans kan sê.” Die inskrywings vir die ope-kategorie moet ook voor 15 September ingestuur word.
Daar is ook aan die digters gedink
Vir die eerste keer in hierdie kompetisie is daar ook vanjaar ʼn afdeling vir poësie. Die leerlinge se gedigte moet kwartaalliks ingeskryf word. Die inskrywings vir die eerste kwartaal moet voor 13 Maart gedoen word, die vir die tweede kwartaal voor 13 Junie en vir die derde kwartaal voor 18 September. Die wenner sal elke kwartaal aangekondig word en wen ʼn kursus ter waarde van R4900 van Multidimensions. Die algehele poësie-wenner sal saam met die ander wenners in Oktober bekendgemaak word.
Meer inligting oor hierdie kompetisie is op https://ebeeldskool.co.za/ beskikbaar. Verdere navrae kan per e-pos aan skool@ebeeldskool.co.za gestuur word.







