Skrywer: Alita Steenkamp
Idiome verleen kleur en geur aan enige taal en sonder hierdie skat sal ʼn taal bra vaal en vervelig wees.
Het jy ʼn idee wat die volgende uitdrukking beteken? Kolmuis vreet wasgoed. Wel, onthou dit volgende keer wanneer iemand se broek baie styf tussen die boude ingetrek is. En het jy geweet iemand met ʼn laatperskegesig, is iemand wat baie suur en onvriendelik is?
Om idiome se oorsprong te probeer vasstel, moet jy dikwels ver gaan soek. Waar kom ʼn idioom soos: Die sieke dra die gesonde vandaan? Wel, as jy Esopus se fabels ken, sal jy ook die verhaal ken van die slinkse Jakkals wat vir Wolf, wat boonop sukkel met ʼn seer lyf, oortuig om hom na ʼn nooi te dra. Esopus het ongeveer 600 voor Christus gelewe. Ons ken ongelukkig deesdae so min idiome omdat dit al hoe minder in gewone spreektaal gebruik word. Sommiges staan boonop die gevaar om heeltemal uit te sterf, iets wat ons ten alle koste moet vermy, omdat dit ons taal veel armer gaan laat.
Nou is daar ʼn heerlike manier om jou, of jou kinders se kennis van idiome met ʼn bordspeletjie te verryk. Juffrou Esmé du Toit van die Hoërskool Prieska, het saam met ʼn groep leerders ʼn bordspeletjie ontwikkel wat kan help om jou kennis van idiome uit te brei. Die ATKV het te hore gekom van hierdie idee van haar, en het gehelp om dit in ʼn volwaardige interaktiewe bordspeletjie te ontwikkel: Meer bek as binnegoed. Hiermee kan enige taalonderwyser speel-speel te werk gaan om die leerders se Afrikaans te verbeter, maar gesinne en vriende kan ook kompeteer om te sien wie weet die meeste van Afrikaanse idiome. Die speletjie kan deur enige aantal spelers of spanne gespeel word. Elke speler trek ʼn kaartjie en moet dan die idioom raai deur na die leidraad op die kaartjie te kyk. Die antwoord, sowel as die betekenis van die idioom, verskyn op die agterkant van die kaartjie. Vir elke korrekte antwoord skuif spelers een blokkie op die bord aan. Indien die speler die betekenis van die idioom ook ken, kan hy of sy nog ʼn blokkie aanskuif. Soos met enige lekker bordspeletjie is daar ook kniehalterblokkies op die bord om ʼn stok in die wiel te steek en dinge vir spelers te bemoeilik.
Vir enige navrae oor Meer bek as binnegoed, stuur ʼn e-pos aan louisef@atkv.org.za. Die speletjie kos R370 posgeld uitgesluit. Klik hier vir ʼn bestelvorm.