Mediavrystelling: Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (sg. Bela)
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns voeg graag haar stem by dié van ander belanghebbende Afrikaanse organisasies en individue wat besware opper oor die voorgestelde wysigings aan skole se taal- en toelatingsbeleid. Dit wil voorkom asof die Departement van Basiese Onderwys onbewus is van die primêre rol wat taal in die onderrigsituasie vervul.
Nie net geskied onderrig deur die medium van gesproke en geskrewe taal nie, maar onderrig in die taal wat die leerder ten beste beheers lei tot die gewenste goeie kognitiewe ontwikkeling en akademiese prestasie.
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns is die mening toegedaan dat die status quo ten opsigte van skole se taalbeleid behoue moet bly sodat beheerliggame steeds taalbeleid bepaal. Skoolbeheerliggame is immers in noue voeling met die gemeenskap en hul behoeftes en dra daarom die belange van ouers en leerders op die hart. Om taalbeleid, wat deurslaggewend is vir goeie skolastiese prestasie in die hande van onderwysburokrate te laat, is roekeloos. In ‘n taalheterogene landskap soos dié van Suid-Afrika sal die sentralisering van besluite oor taalbeleid lei tot uitsluiting en ironies juis ongelykheid in die hand werk. Só ‘n situasie sal ons sukkelende onderwysstelsel verder knou; iets wat ons land nie kan bekostig nie.
Die SA Akademie doen ‘n ernstige beroep op onderwysowerhede om te besin oor hierdie aspek van die voorgestelde wysigings en die insette van skoolgemeenskappe te respekteer.
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
Prof. Anne-Marie Beukes
Hoof- Uitvoerende Beampte
Selfoon: 083 675 8053
ambeukes@akademie.co.za
