Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Foto: Jordan Strauss/Invision/AP
Aanhaling: Maroela Media
Na ‘n paar dae van hewige verkeer op sosiale media en heelwat tong-in-die-kies-memes, TikTok-bydraes en artikels, is dit seker gepas om dankie te sê aan die persoon wat die hele storie of oplewing begin het – ons meisie van Benoni, Charlize The-ron/Thron – ag wat ook al! Me Theron, dankie! Terloops. jy het ‘n bykomende talent waarvan ons nie geweet het nie – jy is uitmuntend in bemarking! Nie net het jy ons Afrikaanssprekendes weer opnuut bewus gemaak van ons taal en hoe belangrik Afrikaans eintlik vir ons is nie, die oorweldigende reaksie op jou ondeurdagte stellings is klinkklare bewys – jy mors nie met Afrikaans en sy sprekers nie. Veral nie as jy nie jou navorsing gedoen het oor waar Afrikaans se wortels lê nie (jou eie tong-in-die-kies-stelling oor die 44 mense wat nog Afrikaans praat, het nie by ons verbygegaan nie). Daarom het Afrikaans.com – die tuiste vir alles oor Afrikaans – dit goedgedunk om so ‘n paar van die vele positiewe reaksies wat hieruit gespruit het met ons lesers te deel.
By Afrikaans.com vier ons die taal en is ons ‘n saamkomplek vir almal wat leef in Afrikaans, wat Afrikaans voete gee, en in wie se monde die taal verskillende vorme aanneem. Die miljoene – jip, toe nie net 44 nie – wat Afrikaans lees, leer, luister, kyk en koop – hulle is die mense wat ons trots maak op ons pragtige taal, wat ons aanspoor om aan te hou werk en leef in Afrikaans.

Bron: Maroela Media

Bron: Maroela Media
Die reaksie: Enkele voorbeelde in die media
“Amper sewe miljoen mense praat Afrikaans. Van daai klomp is amper 60% bruin, swart en Indiërs. So, Charlie, as jy Afrikaanssprekendes in die gesig vat, weet ten minste met wie en van wie jy praat.” – Bettina Wyngaard (LitNET-rubriek, 17 November 2022)
Bettina Wyngaard sê voorts op LitNET: “Awê, masekin, Charlize. Ek voel ek moet jou gelukwens. Jy het eiehandig, met een enkele potgooi, meer gedoen om Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika te verenig as elke ander inisiatief waarvan ek weet. Jy maak nuwe gesprekke oor ons taal oop en jy dwing mense om hulle affiliasie met die taal te verklaar… Want sien, Charlize, ons stem saam oor een ding: Jy praat onverdunde snert oor Afrikaans.”
Volksblad (Netwerk24) – 21 November 2022 – berig dat Charlize se stelling dat Afrikaans ‘n sterwende taal is, dalk “as ‘n kans vir selfondersoek benut word” en dat daar “eerder as kwantitatief, dalk kwalitatief oor die toekoms van Die Taal besin word. Daar is die grootse kuns en kultuur van Afrikaans en die veelsydige bydrae van sy sprekers. Maar Afrikaans is monetêr gesproke en as ‘n wetenskapstaal onder druk. Afrikaans sal leef solank as mense dit praat en oor hul erns die daad by die woord voeg.”
In nog ‘n artikel op Netwerk24 – 18 November 2022 – het talle bekendes hulle sê gesê in die verband. Mense soos Francois van Coke meen Afrikaans sal beslis oorleef, want volgens hom sal “kuns en verandering dit maak oorleef”. Dinge wat hierdie rocksanger trots maak om Afrikaans te wees, is onder andere “Bitterkomix, Koos Kombuis, Valiant Swart, Christiaan Olwagen se movies en Coenie de Villiers”. Die kletsrymer Early B sê in dieselfde artikel dat Afrikaans deur musiek, feeste en die nuus sal bly voortleef. “Afrikaans is my huistaal en dit maak my trots daarop. Ek voel ek kan myself lekker express in Afrikaans.”
Die Afrikaanse sanger, Arno Jordaan, sê die lekkerste ding van Afrikaanswees is dat Afrikaanssprekendes hul eie tyd het. “Ek kom nou-nou. Dit kan enigiets wees tussen twee minute en twee ure.” Arno sê verder: “Afrikaans sal nog lank leef. Afrikaans sal bly bestaan ongeag politiek, die Grondwet of wetgewing, want Afrikaans verbreed ons menswees.”
Die oudnuusleser en televisie-aanbieder Riaan Cruywagen sê dat hy “eindelose genot ervaar wanneer iemand die Afrikaanse storievertelkuns bemeester het. Die seggenskrag van ons taal maak my trots daarop om Afrikaans te wees.”
Die sopraan, aktrise en televisie-aanbieder Lynelle Kenned, verwoord haar Afrikaanswees soos volg: “Solank as die taal in die harte van mense lewe en ons omgaan met mekaar, sal Afrikaans selfs met ‘n gekompliseerde toekoms ‘n blink toekoms hê.”
So ‘n paar opmerkings van lesers op Netwerk24:
“Dis die taal waarin ek bid, Bybel lees en droom!”
“Dis my geskiedenis, dis my ouers en hulle ouers. Dis deel van my en hardloop in my are.”
“Afrikaans is my huistaal. Is ek veronderstel om ‘n ander huistaal aan te leer omdat Afrikaans kamstig uitsterf? Nooit, dis my taal.”
“Uitdrukkings is nie so lekker in ‘n ander taal nie.”
En so kan ons aangaan, maar kom ons staan so bietjie stil by die harde feite, soos vervat in Die Algemene Demografie van Afrikaans 2022. Lees gerus verder.
So lyk die navorsing
Die Afrikaanse Taalraad en Solidariteit Navorsingsinstituut het nou onlangs ‘n lywige dokument, Die Algemene Demografie van Afrikaans 2022, vrygestel waarin ‘n oorsig van die demografiese data en projeksies oor die Afrikaanse taal tot 2041 gebied word. Hierdie dokument dek Afrikaans in sy geheel en sluit alle variëteite van die taal in. Hier is so ‘n paar van die bevindinge:
- Daar was ongeveer 3,4 miljoen bruin Afrikaanssprekendes in 2011 (Statistics South Africa, 2012).
- Die absolute getal swart Afrikaanssprekendes is klein. In 2011 was daar slegs 601 848 (Statistics South Africa, 2012). Hierdie bevolkingsgroep toon egter ’n abnormaal hoë groeikoers en het tussen 2001 en 2011 met 8,98% per jaar gegroei.
- Volgens die 2011-sensus was daar 2,71 miljoen wit Afrikaanssprekendes. Alhoewel dit ’n verouderende bevolking is, het dit vanaf 2001 tot 2011 ’n positiewe groei van 0,68% per jaar getoon.
- Die Afrikaanse bevolking het tussen 2001 en 2011 onderling en in geheel positiewe groei getoon. In 2011 was daar ongeveer 6,85 miljoen Afrikaanssprekendes, bestaande uit bruin, swart en wit komponente wat demografies van mekaar verskil.
Verspreiding van top-50 munisipaliteite
- Die Afrikaanse bevolking is regoor die land versprei, meer as enige ander taal in die land.
- Die meerderheid Afrikaanssprekendes is sterk in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Gauteng gekonsentreer, met Mpumalanga as ’n groeipunt.
- Hoewel die getal munisipaliteite in Gauteng klein lyk, moet in ag geneem word dat agt uit nege van hierdie munisipaliteite onder die top-50 munisipaliteite vir Afrikaans val.
- In die Wes-Kaap val 21 uit die 25 munisipaliteite onder die top-50 munisipaliteite vir Afrikaanssprekendes.
Interessant
- Die SA bevolking in sy geheel groei van 60 miljoen (2021) tot ongeveer 80 miljoen (2041). Terselfdertyd groei die Afrikaanse bevolking van 6,8 (2021) tot 7,12 miljoen (2041), maar krimp relatief tot die algehele bevolking vanaf 11,8% in 2021, tot 8,9% in 2041 – ’n neiging wat oor die daaropvolgende dekades waarskynlik voortgesit sal word.
- Bruin en swart Afrikaanssprekendes vorm teen 2021 met 3,4 miljoen sowat 58,7% van die Afrikaanse bevolking. Teen 2041 groei hul getalle tot 3,7 miljoen (61,4% van die Afrikaanse bevolking), terwyl die wit Afrikaanse bevolking van 2,7 miljoen tot 2,5 miljoen krimp.
- Ongeveer 20 000 bruin Afrikaanssprekendes verengels jaarliks.
- Die wit en bruin/swart Afrikaanssprekendes se sosio-ekonomiese omstandighede en behoeftes verskil onderling.
- Provinsies met die meeste Afrikaanssprekendes bly tot 2041 in Gauteng, Mpumalanga, Oos-Kaap en die Wes-Kaap. Bruin Afrikaanssprekendes is oorweldigend in die Wes-, Noord, of Oos-Kaap gesetel, terwyl die kleiner getal wit Afrikaanssprekendes wyer oor die land versprei is.
- Verengelsing kan die absolute groei van Afrikaanssprekendes oor die volgende dekades beperk en sodoende sy posisie relatief tot ander tale in die land verder verswak. Die ander inheemse tale word ook reeds hierdeur geraak, hoewel navorsing nodig is om die omvang hiervan te bepaal.
- Die Afrikaanse boek-, teater- en musiekbedryf vaar volgens alle aanduidings goed en word ondersteun deur ’n sterk infrastruktuur bestaande uit radio- en TV-stasies, uitgewers, koerante, tydskrifte en aanlyn media.
- Afrikaans beskik ook oor ’n goed ontwikkelde taalinfrastruktuur in die vorm van woordeboeke, en instellings soos die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met sy gesaghebbende Taalkommissie.
- Daar is ook groot kunstefeeste, talle gevestigde skeppende kunstenaars en gretige verbruikers.
- Sommige Afrikaanse organisasies slaag ook goed daarin om dienste aan die Afrikaanse gemeenskap in besighede te omskep of om kulturele entrepreneurskap te bedryf.
- Daar is ook ’n goed-ontwikkelde Afrikaanse burgerlike beweging bestaande uit organisasies en besighede wat die gebruik van Afrikaans in verskeie domeine ondersteun. Hulle gebruik ook Afrikaans se kollektiewe bedingingsmag om met die staat te onderhandel waar nodig.
Afrikaans onder druk
Die gebruik van Afrikaans het die afgelope twee dekades sterk afgeneem in belangrike domeine soos die privaat sektor, die staat en veral die onderwys. Hier is so paar feite:
- Die agteruitgang van Afrikaans as onderrigmedium in die tersiêre onderwys het veral sedert 2015 duidelik begin geword. Ook Afrikaans as vak en as diensvak aan universiteite word toenemend deur die afname van Afrikaans se gebruik in sekere domeine geraak.
- Die groei van Afrikaanse privaat skole en private tersiêre instellings soos Akademia is ’n reaksie op die kwesbaarheid van die Afrikaanse onderwyspyplyn. Dit sal egter sukkel om die behoefte vir Afrikaansmediumonderrig ten volle met private instellings te dek, veral op die korter termyn.
- Die privatisering van onderwys het ook moontlike negatiewe sosiale gevolge. Die verlies van Afrikaans se sogenaamde hoër funksies in die openbare sektor het die afgelope dekades daartoe gelei dat Afrikaans toenemend eerder in private of informele kontekste soos in winkels, klubs, gemeenskapsinstellings en in die huis gebruik word (Carstens & Raidt, 2019).
Die algemene prentjie is dat Afrikaans goed vaar in sekere domeine (soos die kunste), maar sleg vaar in domeine soos die onderwys en regsisteem, en dat taaloordrag tussen die generasies onvermydelik hieronder ly.
Materiaal vir taalonderwys en geletterdheid
Met ’n gevestigde ortografie, grammatika, woordeboeke, tekste en die gebruik daarvan in die media en skole, staan Afrikaans klaarblyklik sterk – baie beter as die meeste ander inheemse tale van die land. Nietemin word Afrikaans al hoe minder vir administratiewe doeleindes gebruik. Die beskikbaarheid van materiaal vir taalonderwys beteken ook min indien Afrikaansmediumonderrig nie beskikbaar is nie. Die toename in materiaal vir taalonderwys en geletterdheid wat privaat ontwikkel en aangebied word, is nietemin opvallend, toenemend ook in die geval van die ander inheemse tale.
Ekonomiese waarde van Afrikaans
Die absolute groei van die Afrikaanssprekende bevolking kan paradoksaal die behoefte aan Afrikaanse produkte en dienste, onder meer Afrikaanse onderwys, verhoog, en daarmee ook die ekonomiese waarde van die taal. Dit is positief, want Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies is tans, op enkele uitsonderings na, afhanklik van ’n krimpende aantal groot borge. Daarby word befondsing vir spesifiek Afrikaanse projekte oor die algemeen minder, eerder as meer, wat die algehele Afrikaanse projek kwesbaar maak vir swart swane, wat beteken dat Afrikaanse organisasies oor die volgende dekades nuwe befondsingsmodelle sal moet ontwikkel.
“Die grootste rooi vlag is die erosie van Afrikaans se hoër funksies, byvoorbeeld in die tersiêre onderwys. Dit is duidelik dat Afrikaans in 2022 reeds verskeie uitdagings in die gesig staar, waarvan heelwat oor die volgende twee dekades sal verdiep.” – Mulder, C. & Steenkamp, C. et al. 2022. Die algemene demografie van Afrikaans. Afrikaanse Taalraad
Bronne en artikels oor die onderwerp:
Mulder, C. & Steenkamp, C. et al. 2022. Die algemene demografie van Afrikaans. Afrikaanse Taalraad
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/kyk-ons-is-dalk-net-44-maar-ons-is-vrek-snaaks/
https://www.litnet.co.za/meer-as-vier-en-veertig-charlize/
https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/charlize-dis-wat-afrikaans-so-lekker-maak-20221118
Internasionale nuus
https://www.bbc.com/news/world-africa-63642042
Voorbeelde van waar Charlize Afrikaans praat: