Dis om ’n braaivleisvuur waar die beste stories gedeel word, waar vriende familie word en waar herinneringe geskep word. Geen wonder dat dit so ’n groot deel van ons as Suid-Afrikaners se erfenis is nie. Wat ’n beter manier om dan hierdie Erfenisdag te vier as om ’n vleisie oor die kole te gooi?
NB Uitgewers het hierdie maand twee braairesepteboeke bekendgestel wat behoorlik jou mond sal laat water – Die Demokratiese Republiek van Braai deur Jan Braai en Oor die kole deur Martelize Brink.
Albei hierdie boeke is gevul met lipleklekkerresepte wat jou nie twee keer sal laat dink om jou kombuisvoorskoot vir ’n braaitang te verruil nie.
Die Demokratiese Republiek van Braai
Jan Braai
“Dis jou demokratiese reg om ordentlik gebraaide kos te eet. Die Demokratiese Republiek van Braai is ’n plek waar jy saam met vriende en familie om ’n vuur staan om ons nasie te vier, waar jy geselsies maak en stories deel. Dis ’n plek waar jy nooit weer swaar hoef te sluk aan swak braaikos nie.” So sê Jan Braai, braailegende en skrywer van die gesogte resepteboek, Die Demokratiese Republiek van Braai.
In dié nuwe uitgawe deel Jan sy heel lekkerste braairesepte om te voldoen aan jou reg om net die beste te braai. Met uitsonderlike resepte vir bees, hoender, skaap, vis en wat nog, is daar geen verskoning om ooit weer smaaklose braaikos voor te sit of te eet nie. Jan gebruik bekende, maklik verkrygbare bestanddele en sit die resepte duidelik en in logiese stappe uiteen. Hierdie braaihandves sal jou help om geleidelik van die kombuis na die vriendelike braaivleisvuur te beweeg! Buiten vir lekker resepte deel Jan ook ander braaiwenke insluitend watter hout jy moet gebruik, wanneer om die vuur aan te steek, die korrekte mates, die gebruik van ’n vleistermometer en selfs hoe jy moet maak met wilde diere om die kampvuur.
Hierdie resepteboek gee jou die geleentheid om by die braaikoning sélf te leer en om jou gaste te bederf met ’n braaidis uit die boonste rakke.
Wil jy graag die boek bestel?
Klik hier vir meer inligting.
ISBN: 9780798183147
Uitgewer: Human & Rousseau
Oor die kole
Oor die kole
Martelize Brink
Dié boek bevat liplekkerresepte wat wissel van die perfekte tjoppie tot potbrode en slaai – en ja, jy kan slaai braai! Martelize deel gunstelinge waarmee sy grootgeword het en verskaf ’n magdom uithaler-resepte met ’n kinkel wat jou smaakkliere sal prikkel. Sy gee raad oor potjies, roosters en basiese braaitegnieke. Met resepte vir ribbetjie, lamsrol, platbrood en haar pa, potjiekos-koning Matie Brink, se gewildste afvalpot. Natuurlik is daar ook iets vir die soettand – alles oor die vuur!
Martelize is ’n bekende stem op die radio en is reeds met talle ATKV-Mediaveertjies vereer vir haar rol as omroeper. Verder is sy ook in 2013 aangewys as Huisgenoot se radio-aanbieder van die jaar. Haar liefde en passie vir kosmaak is egter iets wat vir haar groot vreugde bring. Sy was te sien as aanbieder van die gewilde reeks Martelize se stamtafel op Via en haar eerste kookboek het in 2017 die lig gesien. Oor die kole is haar tweede resepteboek en spreek van haar liefde vir kosmaak op die vuur.
Die afwisseling tussen ou gunstelinge en nuwe disse maak hierdie resepteboek ’n moet-hê vir enige huis. Van malvapoeding met brandewyn- en lemoensous, geroosterde camembert met vye, kreefstertkerrie met roti’s, tot ontbeende ribbetjie, hierdie resepteboek bied iets vir elke smaak.
Wil jy graag die boek bestel?
Klik hier vir meer inligting.
ISBN: 9780798182485
Uitgewer: Human & Rousseau